Massagebedsdag teen plaasmoorde beplan

Die organisasie het verlede jaar ook byeenkomste teen plaasmoorde in Pretoria gehou. (Foto: Verskaf / European Press Agency)

“Daar waar eenheid is, sal God se krag geopenbaar word.”

Só sê Kallie Roux, lid van die organisasie Unite Against Farm Murders and Attacks, wat Saterdag ʼn massagebedsdag vir boere by die Uniegebou in Pretoria beplan.

“Ons moet voortdurend op ons knieë voor God bly. Die terreuraanvalle op Suid-Afrikaanse plase is toenemend ʼn bedreiging vir voedselsekuriteit en werkskepping.

“Dis ook belangrik om voortdurend bewusmaking oor plaasaanvalle en -moorde te kweek. As jy nie die aandag daarop gevestig hou nie, dan word dit genormaliseer. En dít mag nie gebeur nie,” sê Roux.

Die organisasie het oor die afgelope paar jaar verskeie optogte teen plaasmoorde gehou en het in Februarie vanjaar ook in massas na die Uniegbou opgeruk.

Unite Against Farm Murders and Attacks het ook in Oktober verlede jaar ook in groot getalle, onder meer op motorfietse, by die saak van die vermoorde Brendin Horner in Senekal in die Vrystaat verenig.

Daar is in dieselfde maand ook ʼn optog in die Jakarandastad gehou en in September is ʼn memorandum aan die president se kantoor by die Uniegebou oorhandig.

Volgens Roux het dit egter op dowe ore geval.

“Verlede jaar was die wreedheid van plaasaanvalle en moorde veral ná die moord op Brendin Horner in die soeklig. Die kwessie moet egter deurlopend onder oë wees.”

Roux sê hulle verwag Saterdag weer ’n groot opkoms.

“Dis in dié stadium moeilik om te sê hoeveel mense ons verwag. Daar was egter baie groot belangstelling en ons weet dat daar selfs mense van die Kaap af op pad is. Daar sal ook weer baie motorfietsgroepe betrokke wees.”

Unite Against Farm Murders het verlede jaar ook ‘n optog in Pretoria gehou (Foto: Verskaf)

Volgens Roux word die byeenkoms deur lede van die polisie gereguleer en sal daar te alle tye aan Covid-19-regulasies gehoor gegee word.

“Indien ons meer as 100 mense is, sal mense in groepe verdeel word met behulp van die polisie.

Ons versoek dat almal maskers dra en sosiale afstand handhaaf.”

Lede van die organisasie en publiek beplan om almal om 10:00 by die Builders Warehouse Zambezi in Montana bymekaar te kom en vandaar stadig in ’n stoet na die Uniegebou te ry.

“Ons vra dat mense wit kruise en vlae sal bring. Geen politieke vlae sal toegelaat word nie. Ook nie die ou landsvlag nie.”

Volgens Roux sal hulle van die bymekaarkomplek op die N1 Suid vertrek en vandaar die R21 na die Uniegebou neem.

Roux sê mense wat graag die gebedsdag wil bywoon, maar nie in die stoet wil ry nie, kan om 11uur by die Uniegebou aanmeld.

Die aangeleentheid sal sowat 45 minute duur.

“Daar gaan nie toesprake wees nie, net gebed gevolg deur samesang ter afsluiting.”

Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum se statistieke was daar vanjaar reeds 210 plaasaanvalle en 29 -moorde in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Belinda ·

Hopelik kan ek hierdie jaar deelneem, laasjaar was finansieel moeilik maar ek was daar in gees.

Gerrit ·

Dis n pragtige gedagte mense maar ondersoek jouself.Die mense in ons land is vinnig om voor te gee dat hul christene is.Die gebooie word nie meer onderhou nie(nie dat ons dit kan onderhou nie)en die woord word verdraai om by ons as mens se dagelikse lewe pas.Op Sondae is die kerke leeg,sport en spel word gebruik om die dag te vermaak.winkel en restaurante is vol op die 7e dag.Buig jy nog jy kniee elke oggend en aand,nie uitgewoonte nie maar omdat jy moet.Sommige se geloof is so klein dat ons van die wieg tot die graf verseker is.Dit skep nie ruimte vir God om nog met mens te onderhandel nie.Nee,ons wil in beheer wees.
Nou,dit help nie on tot God te nader as die nood hoog raak mense.Moord,doodslag,roof is aan die orde van die dag,en ek sien dit as n straf,ons eie straf omdat ons van God afgeval het en maak wat ons wil.Dis die oordeel mense.Kyk bevoorbeeld na covid.As U dit lees het U nog reg op genade tyd.En wat is genade.Iets kry wat ons nie verdien.Bekeer jouself en word behou.

Tiptol ·

Gerrit, Wat as ‘n pa op ‘n plaas gemartel en vermoor word, maar hy en sy familie is bekeer en gered. Waarom straf God hul dan. Jammer, maar ek sien dit nie as straf nie. Dit is die uitkoms van mense wat die verkeerde keuses en besluite maak wat hierdie harseer in ander mense se lewens veroorsaak.

Lourens CFG ·

Tiptol, dit is nie God wat die mense (bekeer of nie) straf nie. God het ons almal vrye keuse gegee om te kies, en soos jy tereg sê, dit is mense wat self kies om die duiwel te volg wat ander mense (Christine of nie) te na kom.
As God daardie mense keer om dit te doen, beteken dit dat Hy hulle vrye keuse afneem, wat Hy nie sal doen nie.
Ek weet dit is moeilik vir ons as mens om dit te verstaan, maar WEET dit, Hy sal die bekeerde mense met ope arms ontvang en die ewige lewe gee. Sy Woord, is Sy Woord.
Wees geseënd, en volhard in Sy Woord en Genade.

Hennie J ·

“en hoor jy die magtige dreuning
oor die veld kom dit wyd gesweef
die lied van n volk se ontwaking
wat harte laat sider en beef
……………….
Die lied van jong Suid Afrika!

Harley Davidson ·

Selfbeskikking is ons enigste uitweg ten minste kan ons dan in ‘n werklike demokrasie leef met geen diskriminasie, en wette in plek sit wat ‘n ware afskrik middel sal wees teen hierdie tipe misdaad.

OW ·

Jasper ek stem 100% saam met jou.Is dit haalbaar met die huidige grondwet wat SA het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.