Soorte resepte:

‘Masterchef SA’ weer vanjaar op die TV-spyskaart

MasterChef South Africa is eersdaags terug op die kassie (Foto: Verskaf)

ʼn Vars seisoen van die kookprogram Masterchef South Africa sal vanjaar weer op die kassie opgedis word.

Die mediareus Primedia Studios het die regte verkry om ʼn splinternuwe seisoen van die reeks, wat wêreldwyd ʼn gunsteling onder smulpape is, plaaslik te vervaardig.

Die vyfde seisoen van Masterchef SA sal op SABC 3 uitgesaai word en die wenner sal met prysgeld van R1 miljoen beloon word.

Die Kaapse produksiehuis Homebrew Films sal weer die vervaardiging behartig en Pick n Pay is weer die program se hoofborg.

Volgens Jan du Plessis, president van Primedia Studios, is dit ʼn eer om Suid-Afrikaanse fynproewer-kykers in een van die land se warmste kombuise te nooi.

Masterchef is ʼn wenresep reg oor die wêreld en is ook plaaslik ʼn mediasensasie. Die jongste Suid-Afrikaanse seisoen sal al die bestanddele bevat waarvoor dié program bekend geraak het, maar die spyskaart sal ook opgekikker word om ʼn wyer gehoor saam met bestaande aanhangers te bedien.”

Masterchef vier die passie en kreatiwiteit van kookkuns deur ʼn groep amateursjefs te volg op hulle reis om kulinêre kampioene te word.

Hierdie tuiskokke se kombuistegnieke word regdeur die seisoen op die proef gestel, van die skep van bekende disse tot die bemeestering van ingewikkelde resepte.

Die beoordelaarspaneel, wat bestaan uit die crème de la crème van die kosbedryf, evalueer die disse gebaseer op smaak, aanbieding en oorspronklikheid. Deelnemers word stelselmatig uitgeskakel totdat die wenner van die titel van Masterchef aangekondig word.

Masterchef is volgens Guinness-wêreldrekords die wêreld se suksesvolste kookprogram in televisieformaat. In Australië is daar selfs agt reeks uit die oorspronklike program vervaardig, met Masterchef: Dessert Masters wat verlede jaar daar afgeskop het.

Die program word in 70 lande vervaardig en meer as 10 000 episodes is reeds uitgesaai. Die program is geskep deur Franc Roddam en is in 1990 vir die eerste keer uitgesaai.

Masterchef SA se vyfde seisoen sal vanaf Junie vanjaar op die kassie verskyn. Die beoordelaarspaneel sal binnekort aangekondig word.

Suid-Afrikaanse tuiskokke sal vanaf einde vandeesmaand kan inskryf vir die program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ekweetniks ·

SABC 3 nogal, OK nou kan meer mense seker daarna kyk… op hul ongelisensieerde TV’s

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.