Matie wat sterf ‘het diep spore getrap’

Leandró Hopley. (Foto: Verskaf)

“Hy was ʼn go-getter met ʼn sagte en liefdevolle hart. Hy het altyd vir almal omgegee en sy trane het maklik geloop vir ander se pyn. Waar hy geloop het, het hy diep spore getrap.”

Só onthou Charl Hopley sy jongste seun, Leandró (18), wat gister dood is nadat hy in sy koshuiskamer op die kampus van die Universiteit Stellenbosch verstik het.

Charl, sy vrou, Suzette, en hul oudste seun, John, is nog in skok oor die skielike dood van hul “engelkind en klein boetie”. Woensdag was Leandró nog ʼn blakend gesonde, lewenslustige eerstejaar in BCom Bestuurswetenskappe. Donderdagoggend is hy vanaf Huis Visser na ʼn hospitaal gehaas.

“Hulle het Donderdagoggend 01:36 gebel en gesê Leandró is in die hospitaal opgeneem. Ons vermoed hulle het gekuier by die koshuis,” sê Charl.

“Een van die HK-lede het ʼn draai by hom gaan maak die aand en gesien dat hy blou is om sy lippe. Hy het onmiddellik alarm gemaak en die inwonende hoof het dadelik die nooddienste gebel. CPR is op hom toegepas, voordat hy na ʼn hospitaal op Stellenbosch geneem is. Nadat hy gestabiliseer was, het hulle ons gekontak. Toe ons by die hospitaal aankom, het ons verneem dat hy aan sy eie braaksel verstik het.”

Die Hopley-gesin. Leandró, ma Suzette, pa Charl en ouboet John. (Foto: Verskaf)

Martin Viljoen, woordvoerder van die US, het vroeër aan Maroela Media gesê dat Leandró se lewensondersteunende toerusting Vrydag afgeskakel is. Volgens hom is die presiese omstandighede wat tot Hopley se mediese krisis gelei het onduidelik.

Huldeblyke vir Leandró is sedert gister op die US se Facebook-blad en dié van Hugenote Hoërskool Wellington, waar hy ʼn leerder was, gedeel.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Anka le Roux ·

Aan die Hopley gesin, ek is jammer oor jul groot verlies. Ek dink aan julle.

Ore ·

Maak nie saak wat die oorsaak is nie,dit bly hartseer.Sterkte aan die familie

Bossie ·

Charl, Suzette, John en familie, ek bid vir jul baie sterkte en seën toe. Mag julle vertroosting vind aan God se voete. Ek wens altyd iemand kan net die seer wegvat maar dit is nie moontlik nie. Waarom moes dit juis met Leandró gebeur? Niemand sal ooit weet nie. Moet dit nooit vra nie want daardie vraag maak mens siek. Hierdie was net ‘n fratsongeluk in my oë. Toe my pa dood is aan longkanker het iemand vir my gesê eendag is die kring voltooi. Dit het effens vrede in my hart gebring. RIV Leandró. Ons is saam hartseer…

Onnie ·

Die Hopleys was van vredenburg. Leandro was op Wellington in Hugenote. Sterkte aan die familie in die onsettend hartseer tyd

Marlene ·

Toe ek Huis Visser lees, het ek sommer koue rillings gekry. My broer was ook in Huis Visser, finale jaar Siviele Ingenieurswese student.
Hy het op die Helshoogte pad verongeluk. Dit was in 1978, hy was 22. Ons mis hom nog steeds.
Baie sterkte aan die familie. Bid jul genade en vrede toe.

Jerry B ·

Baie tragies ongeag die oorsaak. Bekende Jimi Hendrix is op soort gelyke manier oorlede in 1970.

Penellope Jones ·

Ai, ai, ai, so ‘n pragtige jong man.
Alle sterkte en voorspoed aan sy geliefdes.

Se net ·

My hart gaan uit na die ouers en sy boetie. Ai. Dit kan met enige een gebeur. Miskien meer bewustheid nodig om hierdie saak sodra mens duidelik kan dink.

Gerda le Roux ·

Sulke voorvalle het al voor heen gebeur waar seuns gedwing word om te drink teen hulle sin, hulle is nie gewoond aan drank nie en vormeer nadat hulle hul bewussyn verloor het. Wanneer gaan sulke gedrag gestop word onder man’s student, hoeveel kinders moet nog sterf.

Anka le Roux ·

Stil Gerda, jy was nie daar nie en weet nie wat gebeur het nie. Stil!

Bossie ·

Gerda, ek was SO bang dat iemand tog net weer sal veralgemeen. Jy weet nie wat hier gebeur het nie. Ek ken studente wat net 2 of 3 drankies drink dan lyk dit of hul die hele aand gekuier het. Moenie spekuleer nie. Jy was nie daar nie en het geen reg om sulke afleidings te maak nie. Hierdie ouers het dit beslis nie nou nodig nie. Die kind kon dalk aan kos verstik het. Indien jy nie kan simpatiseer nie moet asb nie sulke kommentaar lewer nie.

Kwaaitjie ·

Dankie Bossie
Ek stem saam met jou.
En ongeag die omstandighede, oorsaak, redes of wat ookal, dis tragies en my hart gaan uit na die familie.

Mariaan ·

Dis nou n hartseer storie…agge nee…so mooi jong man…jammer vir die ouers en broer….ai

James ·

Dit is die vreeslikste tragedie.
Dis net te verskriklik.
Ek het nie woorde nie .
Sterkte aan almal betrokke.

Louise ·

Acid reflux kan ook die oorsaak wees baie ander dinge kon gebeur het. Ek verstik gereeld in my slaap weens acid reflux. Dis nie ‘n maklike pil om te sluk om ‘n kind te verloor nie. My seun het op ouderdom van 13 versmoor. Ek voel die familie se pyn. Sterkte ek dra jul op aan ons Hemelse VADER. En vir die mense wat so vinnig oordeel.. . Wees stil want jul weet nie wat om die volgende draai op jou wag nie.

Griet ·

Niemand WIL die waarheid praat nie, maar almal WEET wat in manskoshuise op universiteite aangaan.

Lientjie ·

Maak dit werklik saak waar en hoe dit gebeur het???? Is jy in staat om enige vinger te wys???? Mag jy oordeel vel????

Lientjie ·

So baie hartseer op die helse ou aarde. Wens ek kon sy ouers en broer net n drukkie gegee het. Geen woorde sal enige troos bring nie. Maak nie saak hoe dit gebeur het nie. Niemand mag oordeel nie. Weet net dat hy veilig is by Jesus in Sy koningkryk.

Leser ·

Dankie vir HK wat gaan inloer het.
Moes n geweldige skok vir die jong man gewees het.
My hart gaan uit na almal.
Die familie die koshuis die vriende ….
Sterkte .

Moenie vingers wys nie…
Dit gaan net nog seerder maak.

Jenny ·

Ek het saammet n wonderlike dokter by n hospitaal gewerk wat aan dieselfde oorsaak oorlede is. Dit het die aand van sy “batchelor’s” partytjie . Aan die gesin: moenie julle steur oor hoè hy dood nie. Hy klink soos ‘n oulike knapie – wat op sy laaste aand duidelik varsity geniet het!! Celebrate die feit dat hy gelukkig was.

Annie Webb ·

Só opbouend om die oorwig ondersteunende kommentare te lees. Laat net hulle wat sonder sonde is, klippe gooi. Innige medelye aan die jong man se familie, vriende en koshuismaats.

Retha Roux ·

Waarom kan mense nie maar in tyd van smart en rou, spekulasies los nie, nie een van ons was daar om te weet wat werklik gebeur het nie, so wat maak dit saak. Die ouers en familie is in rou, respekteer dit asb. Hopley familie, ek weet nie hoe jul voel nie, maar weet ek sal beslis vir jul bid vir vertroosting in hierdie hartseer tyd. Jesus liefde aan jul

Rika ·

Baie sterkte aan die familie so oulike jong man. Weet net die Liewe Vader sal julle krag gee om deur hierdie beproewing te gaan. Bid en dink aan julle ☹️☹️????

Mije ·

“Bachelors ” party…..wat ‘n onding!!!
Het al baie smart veroorsaak!

waarheid ·

Hierdie hele tragedie kon voorkom gewees het indien iemand daar net kopgehou het.
Dit was so so onnodig.
Ek kry die tragedie net nie uit my kop nie .
Ek kry almal betrokke so so jammer.
Sterkte vorentoe en ek hoop daar kom berusting en troos.

Veer ·

Ek is die mamma van ‘n 7-jarige seuntjie, dus is my koring nog groen op die land, maar hierdie is vir my dood normale gedrag vir ‘n jongman om uit te gaan saam met sy vriende en ‘n drankie te drink. So baie het al gekuier en gedink hulle is nog okay en dan is hulle skielik oor die limiet van wat hulle gedink het hulle kan hanteer. Ek het dit al ‘n paar x gesien by grootmense, hoeveel meer begrip moet ons nie met hierdie seun hê nie. Hierdie is absoluut ‘n ongeluk wat met enige van ons leser kon gebeur het EN 10 teen 1 was dit hierdie seun se eerste aand uit, totaal en al onkundig en sy gestel kon dit bloot net nie hanteer nie. Dit maak nie van hom ‘n slegte mens, wat dit verdien het nie. Dit is baie hartseer, sterkte aan al sy geliefdes. In my oë is hy ‘n normale jongman gewees en die wat so maklik oordeel moet hulle liewer by hulle eie geraamtes bepaal.

Lee ·

Innige simpatie aan die Hopley gesin. Mag die Here julle styf vashou in hierdie verskriklike hartseer tyd. Rus Sag Leandro xx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.