Maties: Drukgroep betreur Heunis se bedanking

Die konvokasievergadering op 1 Junie 2023 (Foto: Stellenbosch Staan Op/Facebook)

Die drukgroep Stellenbosch Staan Op het gesê dit is betreurenswaardig dat adv. Jan Heunis as president van die konvokasie van Universiteit Stellenbosch (US) en uit die raad van die universiteit bedank het.

Maroela Media het vroeër berig ná die uitslag van die US se konvokasievergadering Donderdagaand (1 Junie), het dr Jan Heunis SC met onmiddellike effek uit die raad van die US bedank.

Heunis het in ʼn skrywe aan dr. Ronel Retief, die registrateur van US, gesê ten spyte van die feit dat hy oor dokumentêre bewyse beskik dat die afgelope stemmery oor twee mosies van wantroue “gebuk gegaan het onder erge onreëlmatighede aan die kant van die US-administrasie”, het hy besluit om nie ʼn dispuut te verklaar nie.

“Ek het geen geloof meer in die US se vermoë om ʼn deursigtige en onafhanklike proses te bestuur nie.”

Johan Smit van Stellenbosch Staan Op sê lede van dié drukgroep en baie ander alumni is Heunis baie dank en waardering verskuldig “vir die moedige stryd wat hy gestry het teen onbillike en diskriminerende beleid asook sy standpunt oor verantwoordbaarheid vir bestuursflaters en oordeelsfoute wat gemaak is deur die US-rektor Wim de Villiers”.

Smit sê wat die verkiesing merkwaardig maak is die baie lae stempersentasie van konvokasielede.

“Ons verneem dat die konvokasie 230 000 lede het, en uiteindelik het nie meer as ʼn blote 2 370 lede vir die mosies op die tafel gestem nie.”

Dit is ondanks die feit dat 4 000 mense wel geregistreer het om te stem.

“Dit is steeds baie laag as mens in ag neem dat omtrent 10 000 lede tydens die laaste konvokasieverkiesing gestem het. Verder het net 1 995 lede aanlyn gestem terwyl omtrent 3 500 lede geregistreer was om aanlyn te kan stem.”

Volgens Smit blyk dit dat die registrasieproses om die vergadering te kon bywoon en stem van meet af onder baie probleme gebuk gegaan het.

“Aanvanklik het die Afrikaanse skakel (om te registreer) nie gewerk nie. Later het die e-posadres wat alumni kon gebruik om te registreer, ook nie gewerk nie. Uiteindelik het heelwat mense ons gekontak om ons mee te deel dat hulle nie kon stem op die uitnodiging/skakel wat hulle wel ontvang het nie.”

Smit sê dit wil voorkom of die baie lae stempersentasie te wyte kan wees aan dié tegniese probleme.

Daar is gerugte dat die teenkamp voorsien is van ʼn e-posadres wat wel gewerk het.

In die eerste mosie waaroor die konvokasie gestem het, is daar gevra dat al die lede van die uitvoerende komitee (UK) vervang moet word en dat slegs dr. Rudi Buys (visepresident van die konvokasie) behou moet word. Dié mosie is aanvaar met 1 559 stemme teenoor 811.

Die tweede mosie waaroor gestem is, het gevra vir die vervanging van Buys, aangesien hy “ʼn onherstelbare vertrouensbreuk met sy kollegas in die UK veroorsaak het”. Dié mosie is verwerp met 1 312 stemme teenoor 934 stemme.

“Uit ʼn konvokasie van ongeveer 230 000 lede, het ongeveer 1 560 dus gestem vir die vervanging van die UK wat die US-bestuur wil verantwoordelik hou, terwyl net omtrent 930 daarteen gestem het. Hierdie uitkoms vra heelwat besinning,” voeg Smit by. “Wat egter duidelik is, is dat ʼn klein goed georganiseerde minderheid die septer swaai terwyl die meerderheid passief toekyk.”

Hy het in ʼn skrywe die lede van die drukgroep bedank vir hul ondersteuning. “Ons vra u om saam met ons te staan teen onreg en vir geregtigheid by die US totdat daar ʼn alternatief geskep is vir Afrikaanse studente met ʼn Christelike agtergrond in die Wes-Kaap.”

Nuwe lede vir die uitvoerende komitee van die konvokasie sal nou verkies moet word.

  • Die US het intussen daarop gewys dat die inligting, dat 10 000 mense aan die vorige verkiesing deelgeneem het, nie akkuraat is nie. ‘n Totaal van 9 877 stemme is uitgebring, maar lede van die konvokasie kon meer as een keer stem aangesien daar drie vakatures was waarvoor lede kon stem. Lede kon ‘n stem uitbring vir elkeen van die vakature.  Daar was 3 380 stemme uitgebring vir die president, 3 397 vir sekretaris en 3 100 vir ‘n addisionele lid. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerhardus ·

Die US het lankal ‘n bespotting geword. Die bestuur het géén waardes nie. Hulle laat nepotisme en korrupsie toe. In enige ander bedigheid sou die bestuur afgedank gewees het, maar weereens swaai die skuldiges die septer. Enige persoon, met eerlike, Christelike waardes, moet eerder kyk vir ‘n alternatiewe universiteit, met eerlike bestuur, om by te gaan studeer. Alternatiewelik sal die Afrikaner moet kyk na die stigting en oprigting van ‘n eie universiteit. Ek glo daar is meer as genoeg eerbare bestuurslede wat deel sal kan wees van die bestuur van ‘n volkseie universiteit.

Aggie ·

Ek stem in beginsel saam, maar wie moet betaal vir so ‘n universiteit? Dis nie kleingeld waarvan ons praat nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jan Heunis, skryf die universiteit af en begin werk aan nuwe planne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.