Heunis bedank uit raad van Universiteit Stellenbosch

adv-jan-heunis

Adv. Jan Heunis. (Foto: Skermskoot)

Ná die uitslag van die Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasievergadering Donderdagaand (1 Junie), het dr Jan Heunis SC met onmiddellike effek uit die raad van die US bedank.

“Dr Heunis het baie jare diens aan die Universiteit, op die konvokasie en in die raad gelewer en ek bedank hom hiervoor. Ek wens hom die beste toe,” het dr Nicky Newton-King, voorsitter van die raad, gesê.

Maroela Media het vroeër berig die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch het ʼn buitengewone vergadering belê waartydens twee mosies van wantroue – onder andere teen die konvokasie se president en visepresident – oorweeg sou word.

Die eerste mosie van wantroue was teen Heunis, president van die konvokasie, en drie lede van die uitvoerende komitee van die konvokasie, terwyl die tweede mosie teen die visepresident van die konvokasie, dr. Rudi Buys, oorweeg sou word.

Die eerste mosie kom nadat lede van die konvokasie se uitvoerende komitee die universiteit se visekanselier en rektor, prof. Wim de Villiers, se bedanking geëis het oor die bewerings van nepotisme teen hom.

De Villiers is onlangs van nepotisme beskuldig nadat twee van sy familielede toelating gekry het om medies te studeer, hoewel hulle glo nie op grond van verdienste daarvoor gekwalifiseer het nie.

Diegene wat dié mosie aangevra en onderteken het, het aangevoer dat die konvokasie “vertroue verloor het in die konvokasie se uitvoerende komitee – met die uitsondering van die visepresident [Buys]”.

Hulle het gevra dat die betrokkenes uit hul amp verwyder word en dat Buys die funksies van die konvokasiebestuur moet oorneem tot ʼn nuwe uitvoerende komitee verkies word.

Heunis het vroeër gesê dat hy die vergadering sou belê, mits die komitee wat aangestel is om die bewerings van nepotisme teen De Villiers te ondersoek, sy bevindinge bekend maak. Dít omdat die voorgestelde mosie van wantroue teen hom en die drie ander lede direk met die bewerings verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.