Maties: Buitengewone konvokasievergadering gou gehou

Universiteit Stellenbosch (Foto: Facebook)

Die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) gaan volgende week ʼn buitengewone vergadering hou waartydens twee mosies van wantroue – onder andere teen die konvokasie se president en visepresident – oorweeg word.

Adv. Jan Heunis, president van die konvokasie, het bevestig dat die buitengewone vergadering op 1 Junie by die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch gaan plaasvind.

Die eerste mosie van wantroue is teen Heunis en drie lede van die uitvoerende komitee van die konvokasie, terwyl die tweede mosie teen die visepresident van die konvokasie, dr. Rudi Buys, oorweeg sal word.

Die eerste mosie kom nadat lede van die konvokasie se uitvoerende komitee die universiteit se visekanselier en rektor, prof. Wim de Villiers, se bedanking geëis het oor die bewerings van nepotisme teen hom.

De Villiers is onlangs van nepotisme beskuldig nadat twee van sy familielede toelating gekry het om medies te studeer, hoewel hulle glo nie op grond van verdienste daarvoor gekwalifiseer het nie.

adv-jan-heunis

Adv. Jan Heunis, president van die konvokasie. (Foto: Skermskoot)

Diegene wat dié mosie aangevra en onderteken het, voer aan dat die konvokasie “vertroue verloor het in die konvokasie se uitvoerende komitee – met die uitsondering van die visepresident [Buys]”.

Hulle vra dat die betrokkenes uit hul amp verwyder word en dat Buys die funksies van die konvokasiebestuur moet oorneem tot ʼn nuwe uitvoerende komitee verkies word.

Heunis het vroeër gesê dat hy die vergadering sou belê, mits die komitee wat aangestel is om die bewerings van nepotisme teen De Villiers te ondersoek, sy bevindinge bekend maak. Dít omdat die voorgestelde mosie van wantroue teen hom en die drie ander lede direk met die bewerings verband hou. Die bevindinge sal na verwagting kort voor die buitengewone vergadering bekend gemaak word.

Nog ʼn mosie aangevra

Dr. Rudi Buys, vise-president van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die mosie van wantroue teen Buys, wat deur ander lede van die konvokasie aangevra word, behels die bewering dat hy “openlik ʼn veldtog teen sy mede- uitvoerende komiteelede van die konvokasie begin voer het waardeur hy verdeeldheid in die geledere van die konvokasie gesaai en die beeld van die US skade berokken het”.

Die brief, wat deur verskeie konvokasielede onderteken is, voer aan dat Buys met ʼn groepering binne die konvokasie verbind word wat poog om die president en ander lede van die konvokasie uit hul amp te verwyder en te “beswadder”.

“Hy het ʼn onherstelbare vertrouensbreuk binne die uitvoerende komitee van die konvokasie veroorsaak” en daarom word dié mosie gebring.

Volgens Heunis sal die mosies oorweeg en tot stemming gebring word. Alumni wat nie op daardie dag by die vergadering teenwoordig kan wees nie, sal aanlyn kan deelneem en tussen 1 Junie om 19:00 en 2 Junie om 19:00 kan stem.

Die US het onlangs om verskoning gevra nadat alumni gesukkel het om te registreer om die buitengewone vergadering by te woon.

Luidens berigte kon oudstudente en -personeel wat op die Afrikaanse deel van hul uitnodiging probeer registreer het, nie onder hul eie naam vir die vergadering registreer nie.

Die fout is intussen reggestel en die US het alumni verseker dat “u nou sonder moeite [kan] registreer”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nettie ·

Mag God gee dat slegs reg en geregtigheid nou sal geskied by Maties. Want wragtig, dis slegs Hy wat hierdie gemors sal kan uitsorteer. Hy wat harte lees en dade in die donker aanskou.

Gerhardus ·

Die Universiteit van Stellenbosch (US), het lankal aansien verloor deur hulle posisie oor taal en hullle aanvalle op Afrikaans sprekendes. Wim de Villiers het oneties opgetree en moet daarom uit sy pos gehaal word. Dié, wat hom ondersteun, moet ook uit hulle poste bedank, aangesien hulle sy optrede, of moet ek sê “oortredinge”, goedpraat. Hierdie is nou ‘n hekse jag teen dié, wat vir sy verwydering uit sy pos gevra het. Hulle sal eerder wil hê ‘n onetiese persoon moet in sy pos aanbly en daardeur die US se naam verder afsleep grond toe, as wat hulle gehoor gee aan eerbare en gerespekteerde persone. Dié raak nou nét so belaglik soos die ANC se vasklou aan ‘n magsposisie, m.a.w dit is politieke vuilspel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.