US-konvokasie in spervuur oor bedankingsversoek aan De Villiers

Prof. Wim de Villiers. (Foto: US)

ʼn Lid van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) het in ʼn skrywe aan die president daarvan gevra dat ʼn buitengewone vergadering belê word oor die afgelope paar weke se herrie wat oor prof. Wim de Villiers, visekanselier en rektor, woed.

Dr. Louise van Rhyn eis dat ʼn buitengewone vergadering belê word voordat ʼn mosie van wantroue in die uitvoerende komitee van die konvokasie ingedien kan word oor die besluit om die rektor se bedanking te eis en ʼn mosie van wantroue teen hom te aanvaar.

De Villiers is onlangs van nepotisme beskuldig nadat twee van sy familielede toelating gekry het om medies te studeer, hoewel hulle glo nie op grond van verdienste daarvoor gekwalifiseer het nie.

Kort nadat die bewerings aan die lig gekom het, het lede van die uitvoerende komitee van die konvokasie De Villiers se bedanking geëis, glo omdat hy nie sy betrokkenheid by die saak kon ontken nie. Die liggaam het ook intussen ʼn mosie van wantroue in die rektor aanvaar oor die bewerings.

Adv. Jan Heunis, president van die konvokasie, het in reaksie op Van Rhyn se brief gesê dat hy daarvan oortuig is dat die uitvoerende komitee “in die beste belang van die universiteit” opgetree het toe hulle De Villiers se bedanking geëis het.

Heunis voer aan dat hy nietemin ʼn buitengewone vergadering sal belê sodra die komitee wat aangestel is om die bewerings van nepotisme te ondersoek, sy bevindinge aan die einde van die maand bekend maak.

“Dit is heeltemal billik dat die vergadering gehou word, met die voordeel van die komitee se verslag,” sê Heunis.

“Die buitengewone vergadering kan baie gou daarna en nog steeds binne ʼn redelike tydperk plaasvind.”

Volgens die US se mandaat oor die konvokasie moet die president daarvan ʼn buitengewone vergadering belê ná ontvangs van ʼn skriftelike versoek wat deur 100 of meer lede onderteken is.

Van Rhyn sê in haar brief “hierdie bepaling gee nie aan jou [Heunis] as president enige diskresie om die versoek uit te stel totdat ʼn toekomstige en onverwante gebeurtenis [soos die komitee se verslag] afgehandel is nie”.

Volgens Heunis is die komitee se ondersoek en bevindinge na die bewerings van nepotisme nie ʼn “onverwante gebeurtenis” in die versoek na ʼn buitengewone vergadering nie.

“Inteendeel, die ondersoek wat deur die raad gelas is, handel spesifiek met die aangeleentheid wat tot die versoek van die buitengewone vergadering van die konvokasie aanleiding gegee het,” sê hy.

“Dit sal daarom onvanpas wees om ʼn debat oor hierdie saak te voer voordat die ondersoek nie afgehandel en die bevindinge beskikbaar is nie.”

Van Rhyn sê egter dat Heunis teen Woensdag moet besluit of ʼn buitengewone vergadering belê gaan word.

“Sou die bogenoemde vereistes nie nagekom word nie, behou ons [as lede van die konvokasie] die reg voor om sodanige verdere stappe te doen wat nodig is om ons regte af te dwing.”

Heunis beplan om die betrokke lede so gou moontlik terugvoer oor die aangeleentheid te gee.

Intussen sal die ondersoek na die bewerings teen De Villiers glo eers later vandeesmaand begin.

“Die komitee begin eers in die middel van die maand, hoewel die resolusie wat die konvokasie gestuur het, eis dat die ondersoek al aan die einde van die maand afgehandel moet word,” sê Heunis.

Die komitee bestaan uit afgetrede regter Carole Lewis, Helena Conradie en Ziyanda Stuurman. Lewis sal as die voorsitter van die komitee dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kokerboom ·

Die ophemeling van die individu raak net te veel! Praat sy Afrikaans?

Johanna ·

Van Rhyn is seker een van sy skoothondjies. Laat hom gaan hy is doring in die vlees

My siening ·

Mooi so laat die wim verraaier waai , hy het moes vir die ANC gewerk om Afr te vernietig, hy sal seker ‘n pos by Cyrel kry!

houopkruip ·

De Villiers klou erger as die OB aan sy pos.
Wat ‘n verleentheid vir almal rondom hom.

annie ·

Hierdie hele kwessie word deur ‘n New Age-vuurtjie aageblaas wat dalk hoër op olie gegee word. Die rektor staan nie alleen agter die deur nie. Hy glo hy is op die regte pad na die toekoms wat bleek en dood en siek gaan eindig maar hy is onaantasbaar want hy word vanuit die hogere orde beskerm. Wat ‘n skandalige situasie wat hier voordoen en nogal in die stoere Stellenbosch.

skurweberg ·

Die Groot probleem in SA is dat getalle tel en nie kwalitatiewe fatore nie.

Jaco ·

Al het Wim ‘n hoë pos, bly hy wit, so ek wonder net: HOE het hy dit reggekry om TWEE wit studente toelating vir medies te laat kry? Iewers by die Univ van Stellenbosch moes iemand wat nie wit is mos gesien het “wat gaan hier aan? Dis nie reg in terme van regstellende aksie nie”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.