Komitee moet nepotisme-klagte teen Matie-rektor bekyk

Prof. Wim de Villiers. (Foto: Twitter)

ʼn Bewering van nepotisme teen die Universiteit Stellenbosch (US) se rektor, prof. Wim de Villiers, gaan eers vir verdere ondersoek na ʼn raad verwys word, voordat ʼn mosie van wantroue teen hom oorweeg word.

’n Mosie ingevolge paragraaf 42(3) van die US-statuut om De Villiers van sy amp te onthef het Maandag by ’n vergadering van die US-raad gedien. Die mosie is deur dr. Leon Schreiber, DA-LP en US-raadslid, voorgestel en is deur dr. Jan Heunis gesekondeer.

Dít volg nadat dit aan die lig gekom het dat De Villiers ’n tweede familielid by Maties geplaas het. ’n Storm het reeds gewoed oor De Villiers se diskresionêre plasing van ʼn familielid om medies te studeer. Die student se toelating is later teruggetrek nadat ʼn ander student wat beter punte behaal het, maar nie toelating gekry het nie, vrae daaroor gevra het.

Na afloop van ’n omvattende debat het die raad nou ooreengekom dat die kwessie eers verwys moet word na ’n raadskomitee wat uit drie mense bestaan, van wie een ’n onafhanklike regsgeleerde moet wees.

Volgens die raad sal die komitee die feite onderliggend aan die mosie ondersoek, waaronder bewerings van nepotisme en ’n moontlike verbreking van die betrokke reëls wat De Villiers se diskresionêre plasings en die plasing van familielede betref.

“Die bewerings van nepotisme is ernstig en die raad besef die uitwerking van hierdie kwessie op die US se belanghebbendes,” het dr. Nicky Newton-King, nuwe US-raadsvoorsitter, gesê.

“Sodra die raad die komitee se verslag ontvang het, sal die raad die verslag evalueer en die mosie deur dr. Schreiber oorweeg.”

Volgens Newton-King besef die raad hoe belangrik dit is om hierdie kwessie as ʼn saak van dringendheid te hanteer. Sy sê die raad is daartoe verbind om dit op ʼn wyse te doen wat “regverdig is teenoor sowel die universiteit as die rektor, en op ʼn manier waarin die instelling se belangegroepe vertroue kan hê”.

“Ons verwelkom die geleentheid vir noukeurige ondersoek en besinning, wat ons in staat sal stel om die hoë standaarde te handhaaf waarvoor ons bekend is en om aandag te gee aan sake waarop moontlik verbeter kan word.

“Ek wil die versekering gee dat die stabiliteit en kontinuïteit van die universiteit in hierdie stadium ons prioriteit is,” het sy gesê.

Die raad het verder besluit dat die kwessie van De Villiers se diskresionêre plasings in die geheel deur die relevante akademiese oorsigstrukture beoordeel moet word, vir oorweging deur die raad.

Schreiber verwelkom intussen die verskoning wat die US uitgereik het betreffende gevalle wat in die Menseregtekommissie (MRK) se verslag oorweeg is. Hy het bevestig die mosie is gegrond op bewerings van nepotisme en dat dit as ’n saak van dringendheid ondersoek sal word.

AfriForum Jeug het intussen geëis dat De Villiers nie net aanspreeklik gehou word vir beweerde nepotisme nie, maar ook vir die menseregteskendings teen Afrikaanse studente wat onder sy toesig plaasgevind het.

Die jeugorganisasie meen die US moet verder aanspreeklikheid aanvaar vir die vyandige en onwelkome omgewing wat Afrikaanse studente op kampus ervaar. Dit volg nadat verskeie studente tydens die verwelkomingstydperk in 2021 verbied is om Afrikaans te praat – selfs in ʼn sosiale konteks.

“Daar moet ook ’n aankondiging wees waarin die US daadwerklike aksies bekendmaak om te verhoed dat Afrikaanse studente weer op hierdie wyse geteiken word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

domheks ·

Sal virseker ‘ONSKULDIG’ pleit. Die US behoort mos aan hom. Hoop daar is regverdigheid in die saak.

Vonny ·

Oom Wim hoe slaap jy in die nag?
Jy is nie n leier.
Al hoe die US in die media kom is vir
Slegte nuus. ( bad publicity)

N mens hoor nooit dat die US het n sport wedstryd gewen…
Of erens n goeie daad gedoen.

Stellenbosch staan op en doen iets!!!

Casper ·

Eers vebied hy Afrikaans dan verklaar hy Afrikaans as ‘n moederonderrigtaal,Afrikaanse studente word geviktimiseer as hulle Afrikaans in sosiale kringe praat en dan stel hy sy familie eerste ten koste van ‘n student wat sy of haar se g.t afgeleer het om te kan studeer.Nee colgate de Villiers vat jou goed en trek.Praat jy nie Afrikaans nie of is jy ‘n joiners.

Rina ·

As hulle na sy foute verwys moet hulle sommer by die president ook begin, by eskom, by transnet en so kan ons aangaan. Elke liewe instansie gaan dit so. Daai skoen wat jou inskop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.