Maties-ondersoek: verslag met bevindings dán verwag

Prof. Wim de Villiers. (Foto: Twitter)

Die Universiteit Stellenbosch sê ná ʼn onlangse besluit deur sy uitvoerende komitee om ʼn onafhanklike ondersoek te gelas nadat ʼn klag teen prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, ingedien is, word verwag dat ʼn verslag met die bevindings op 2 Desember ter tafel gelê sal word.

Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, het gesê dit is wanneer die volgende geskeduleerde raadsvergadering plaasvind.

Maroela Media het vroeër berig die bewerings wat gemaak word, is dat De Villiers op ʼn onvanpaste wyse probeer het om vir regter Edwin Cameron van die Konstitusionele Hof te oortuig om die universiteit se nuwe kanselier te word terwyl Cameron die hofsaak teen die US se taalbeleid om Afrikaans prakties af te skaf, aangehoor het.

Dit volg nadat die Konstitusionele Hof op 10 Oktober eenparig in die guns van die universiteit beslis het in die saak waarin die US die aansoek van Gelyke Kanse, om die instelling te dwing om na die 2014-taalbeleid terug te keer, teengestaan het.

Die universiteit het regter Burton Fourie aangestel om die ondersoek te hanteer, het die US toe gesê.

“Sedert die ondersoek aangekondig is, is ʼn aantal onakkurate verklarings op verskeie openbare platforms gepubliseer,” het Viljoen gesê.

“Dit is daarom belangrik om die volgende punte te herhaal: die uitvoerende komitee van die raad het ʼn onafhanklike feiteondersoek deur ʼn afgetrede regter gelas. Dit is nie ʼn dissiplinêre verhoor soos wat in die media beweer is nie.

“Die bewering dat prof. De Villiers verlede week ‘op die nippertjie’ van ʼn radio-onderhoud onttrek het – met die onderliggende insinuasie dat hy van die bespreking ‘weggehardloop’ het – is onwaar.

“Nadat die ondersoek op 31 Oktober aangekondig is, het die universiteit en prof. De Villiers alle verdere medianavrae en versoeke vir onderhoude van die hand gewys sodat die proses sy gang kan gaan. Dit bly die benadering totdat die ondersoek afgehandel is en die raad die geleentheid gehad het om die verslag te oorweeg,” het Viljoen Sondag in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hans Richardt ·

Daar is 1 vraag: erflatings wat aan US vir beurse aan studente, wat in Afrikaans moet studeer, gemaak was, word nou vir “arm studente” wat hul studies in Engels doen gegee. Hierdie is meer omvattend en sal nie deur nikswerd ondersoek na Wim de Villiers gedek word nie. My vraag is- is dit eties om hierdie erflatings so te gebruik, terwyl amptelike doseertaal nou Engels is?

Kootjie ·

Nee! Dis nie reg nie! Dit is spesefiek vir Arme Afrikaanse studente geskenk! En vir niemand anders nie!

Chris van Heerden ·

Daar was so n week of wat terug n berig in die koerante gewees oor n testament wat se bewoording deur die hof verander is omdat dit geskryf was dat blanke studente elke jaar van die geld kan kry. Die UF het toe die geld geweier omdat dit slegs vir blankes was en die hof het toe die woord blank uit die testament verwyder.

Kootjie ·

Nee dit is gladnie reg nie! Daar word spesefiek gepraat van Afrikaans! Daardie ou wat die geld bewillig het het uitdruklik gese dit moet vir Aftikaans ( sy taal) gebruik word! Anders moet hulle die geld terug gee!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.