Matriekeksamen: 2019-eksamenuitslae dán verwag

Angie Motshekga. Foto: Jacques Naude/ANA

Die laaste matrikulante het Donderdag die pen neergelê in die 2019-matriekeksamen. Nou volg die lang wag vir uitslae wat op 7 Januarie bekendgestel sal word.

Landboutegnologie en ontwerp was die laaste van 147 vraestelle wat vanjaar deur 790 405 voltydse matrikulante in 7 416 eksamenlokale oor die hele land geskryf is. Altesaam 212 gevangenes het ook die eksamen in die tronk afgelê.

“Die departement van basiese onderwys is tevrede dat die eksamen vlot verloop het, met net ʼn paar klein, hanteerbare voorvalle by eksamenlokale,” sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Dié voorvalle sluit in enkele kragonderbrekings wat op die eerste dag van die eksamen dele van die land in donkerte gehul het. Diensleweringsoptogte in Noordwes het ook veroorsaak dat van die leerders hiér na ander lokale geskuif moes word.

Intussen skryf 12 179 leerders vandag die laaste vraestel in die Onafhanklike Eksamenraad se eindeksamen. Dié leerders het Vrydag musiek geskryf. Dié uitslae word ook vroeg in Januarie verwag.

“Ons is werklik tevrede met die manier waarop die eindeksamen plaasgevind het by eksamensentrums oor die hele land. Ons studente het die bes moontlike ondersteuning gehad om hulle voor te berei op hierdie belangrike eksamen,” sê Coleen Cronje, hoof- uitvoerende beampte van Brainline, ʼn verskaffer van afstandsonderrig.

Motshekga sê die merkproses is reeds aan die gang in 142 merksentrums en sal na verwagting op 14 Desember voltooi wees. Individuele uitslae sal op 8 Januarie by skole beskikbaar wees.

Die minister het ouers, onderwysers en leerders bedank vir hul bydrae tot ʼn suksesvolle eksamen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.