Matriekvraestel in agt provinsies lek uit

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Talle leerders in agt van die land se nege provinsies het Maandag die uitgelekte wiskunde 2-vraestel in die matriekeindeksamen in ʼn WhatsApp-boodskap ontvang ure voordat die vraestel geskryf is.

Die oorskryf van dié vraestel is egter in dié stadium die heel laaste opsie, het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Woensdag in Pretoria die versekering gegee.

“Ons sal dit slegs oorweeg indien die hele eksamen in die gedrang is.”

Die departement het sy teleurstelling met die uitgelekte vraestel te kenne gegee. ʼn Ondersoek is reeds van stapel gestuur om in samewerking met die Valke die oorsprong van die uitgelekte vraestel, asook die aantal leerders wat die vraestel vooraf ontvang het, te bepaal.

Daar word in dié stadium vermoed dat ʼn volwassene of volwassenes die vraestel tussen Sondagmiddag en Sondagaand laat uitlek het, sê dr. Rufus Poliah, hoofdirekteur van assessering by die departement.

Elijah Mhlanga, departementele woordvoerder, het Maandag om 01:37 ʼn e-pos met die vraestel van ʼn universiteitstudent van Johannesburg ontvang. Die student, verbonde aan ʼn nieregeringsorganisasie wat leerders bystaan, het boodskappe van vier leerders in Gauteng ontvang met vrae rakende die uitgelekte vraestel.

Mhlanga het omstreeks 07:20 vir Poliah genader. Teen 07:45 is daar bevestig dat die vraestel wel eg is. Motshekga en ander belanghebbendes is omstreeks 07:50 oor die uitgelekte vraestel ingelig.

Angie Motshekga gedurende Donderdag se mediakonferensie. (Foto: GCIS)

“Ons het aanvanklik gedink dat die uitgelekte vraestel beperk is tot slegs ʼn handvol leerders, maar het teen 12:30 oproepe van Limpopo en Gauteng ontvang dat leerders in besit van die vraestel op hul selfone is.”

Daar is later vasgestel dat die uitgelekte vraestel ook nie net tot Limpopo en Gauteng beperk was nie.

Dit is egter steeds nie duidelik waar die vraestel uitgelek het nie.

“Ons kan in dié stadium bevestig dat daar groepe leerders is wat deel was van verskillende sosialemediagroepe wat toegang tot die vraestel in agt van die nege provinsies gehad het.”

Die ondersoekspan is aangesê om teen 30 November vas te stel presies hoeveel leerders vooraf toegang tot die vraestel gehad het.

“Ons kan nie sê dat die vraestel nasionaal uitgelek het nie, want dit sal beteken dat alle leerders toegang tot die vraestel gehad het.”

Forensiese oudits sal gedurende die merk van die vraestel in al nege provinsies gedoen word.

Motshekga het daarop gewys dat matrieks wat hulle skuldig maak aan oortredings wat verband hou met eksamens tot drie jaar lank verbied kan word om weer die matriekeindeksamen af te lê.

Matrieks en Covid-19

(Argieffoto)

Intussen toets tussen twee en vyf matriekleerders in dié stadium daagliks positief vir Covid-19.

Verlede Donderdag het altesaam 93 leerders egter op dieselfde dag positief vir die virus getoets.

Poliah het daarop gewys dat meer as 900 000 leerders op dié betrokke dag óf wiskunde óf wiskundegeletterdheid geskryf het.

In die Oos-Kaap het 53 leerders reeds positief getoets terwyl 23 leerders in die Vrystaat die koronavirus midde die eksamen opgedoen het.

In die Francis Baard-distrik in die Oos-Kaap is ʼn kandidaat in die hospitaal opgeneem met Covid-19. Die leerder het egter daarop aangedring om die vraestel te skryf. Die leerder was swak en is meer tyd gegun en het die vraestel voltooi.

  • Dit is dag 11 van die matriekeindeksamen.
  • Altesaam 83 van 216 vraestelle is in dié stadium reeds geskryf.
  • Altesaam 1 058 699 kandidate skryf vanjaar die matriekeindeksamen.
  • Die eksamen word in 8 200 lokale oor die hele land geskryf.
  • Die laaste vraestel word op 15 Desember geskryf.
  • Die vraestelle word vanaf 4 Januarie deur 45 000 nasieners by altesaam 180 nasiensentrums nagesien.
  • Die matriekuitslae word op 22 Februarie bekend gemaak. Die skole sal dus vir die eerste keer ooit heropen voordat die matriekuitslae bekend gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Misky ·

Daai een sin maak nie sin nie. “Intussen toets tussen twee en vyf leerders daagliks positief” 2 en 5 uit wat of hoeveel toets dan positief? Ek verstaan nie.

Pierre ·

Daagligs is daar tussen twee en vyf matriekleerders wat positiewe toets resultate ontvang.

Frank ·

Seker maar 2 tot 5 kinders (uit almal wat siekerig voel en dan getoets moet word)

Misky ·

Natuurlik ja en sien dit nou dankie @Pierre en @Frank. Dink ek was te stom geslaan deur die hele gemors spul wat aan die gebeur is dat ek nie logies kan dink en lees nie. Lekker dag verder

Zombie ·

Die betekenis is soos volg: uit die totale aantal matrieks wat eksamen op ń betrokke dag skryf, word ten minste 2 en maksimum 5 positief vir Covid-19 getoets. Die getal leerder wat per eksamendag positief toets, kan egter van dag tot dag verskil. Sommige dae toets 3 leerders positief en ander dae weer 4, ens. Die minimum en die maksimum getal leerders wat per eksamendag positief toets, kan oor tyd verander, met ander woorde dit kan meer of minder word.

Jaco ·

Die uitlek van die vraestel gaan nie veel verskil maak nie. Skoolstandaarde is lankal baie laag. Omtrent alle leerders word in elk geval deurgesit. Geskiedenis was my sterk vak op skool in die ou SA. Dit was moeilik en geringe foute kon lei tot maak of breek situasies. Dis vandag só ‘n maklike vak dat dit nie eens “feature” op DSTV se learning channels nie. Geografie was my ander sterk vak. Ook moeilik. Dis darem nog op die learning channel, maar baie maklik. 35 jaar ná matriek kon ek meeste vrae sommer so, uit my kop uit, reg beantwoord. ‘n Matrieksertifikaat is vandag net ‘n bewys dat ‘n leerder wel op skool was. Dit is GEEN bewys van intelligensie of hoeveel die leerder nou eintlik weet nie.

JM ·

Daar bestaan feitlik geen faset van die samelewing meer wat nie korrup is nie. En dít is die voorbeeld wat die jeug kry en wat die meeste van hulle as die norm beskou. Suid-Afrika is verrot tot in sy kern! Diegene wat ‘n eerlike pad wil stap, veg al hoe meer

Jan Nel ·

Ek sal nederig om verskoning vra as daar een of ander sinvolle logistieke antwoord is, maar hoekom word daar eers op 4 Januarie begin om vraestelle te merk?

Kan dit nie al begin gebeur soos en wanneer vraestelle klaar geskryf is nie? Teen die 15 Desember is daar dan die minimum oor om te merk en kan leerlinge ten minste begin Januarie weet wat hul toekoms se vooruitsigte is.

Anel ·

Onthou, die klomp moet nou mos vakansie hou ook. En wat gee hulle om vir die kinders! Vroeër jare het die uitslae net voor nuwe jaar gekom. Want die nasieners het onmiddelik na die eerste vak geskryf is, begin merk.

Kremetart ·

Die onderwysers wat moet merk, gee nog skool; moet nog ander grade se eksamentoesig doen en merk en rapporte finaliseer. Hulle het dus nog versntwoordelikhedectot 15Des. En wil dan graag (ná ‘n rowwe jaar) bietjie rustig wees. Matriek-eksamen vraestelle word gemerk deur gewone onderwysers, en dis n ongelooflike groot werk. Lang ure, groot hoeveelhede, akkuraaheid, ens.

JohanR ·

Die artikel maak die nie duidelik nie, maar is die Wes-Kaap die enigste provinsie waar die vraestel NIE uitgelek het nie?

Regverdigheid ·

Als in land word weggegee, gee hul maar daai punte .

christo ·

Korrupsie is aan die orde van die dag. Die bron vanwaar die vraestel uitgelek het, moet nagespoor word. Die persoon of persone moet tot tronkstraf gevonnis word sónder ‘n keuse van ‘n boete. Maar ons ken die ANC en sy bondgenote, indien ‘n wit persoon dit laat uitlek het sal dit aan die groot klok gehang word en die swaarste straf denkbaar sal uitgedeel word, maar indien anders, is ons gewoond dat die ANC en hulle bondgenote dit onder die mat sal invee.

Cecilia ·

Hartseer want d eerlike outjies gaan nou swak punte kry en d skelm outjies gaan goeie punte kry en ek kan my kop n blok sit dat d slegte outjies ook nie sou deurkom nie.
D uitlek vd vraestelle kom vd grootkoppe af wat hul eie kinders en d se tjommies wil bevoordeel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.