McKinsey gaan ook vir Transnet en SAL terugbetaal

Foto: McKinsey & Co/Facebook

Die konsultasiefirma McKinsey & Co gaan nagenoeg R650 miljoen terugbetaal vir werk wat hy saam met Regiments, ʼn Gupta-verwante maatskappy, vir Transnet en SAL verrig het.

Volgens die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het McKinsey hom bygestaan met ondersoeke na die Transnet- en SAL-kontrakte. Verteenwoordigers van McKinsey sal vandag voor die kommissie getuig en deur getuienisleiers ondervra word.

McKinsey het ook twee jaar gelede die volle bedrag terugbetaal wat hy met ʼn Eskom-kontrak verdien het. McKinsey het nie saam met Regiments of Trillian by enige ander staatsondernemings buiten Eskom, Transnet of SAL gewerk nie.

Die kommissie het McKinsey geloof vir sy onderneming om die geld terug te betaal. “Dit is belangrik vir alle maatskappye wat in Suid-Afrika werksaam is om ook die stryd teen korrupsie in hierdie land te voer,” het adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, gesê.

“Die kommissie verwag van maatskappye wat met die staat sake doen, waaronder staatsondernemings, om dit duidelik te maak dat hulle nie die opbrengs van kontrakte wat deur korrupsie besmet is, sal behou nie, selfs al was die korrupsie die resultaat van prosesse waarby hulle nie betrokke was nie.”

McKinsey het intussen gesê dat daar sedert sy betrokkenheid by die kommissie nog geen inligting bekom is wat die huidige personeel van McKinsey betrek by enige korrupsie of onbehoorlikheid nie. Die besluit om die geld terug te betaal is volgens die firma geneem nadat daar onlangs dokumente en inligting rakende Regiments by die kommissie voorgelê is wat nie voorheen vir hersiening beskikbaar was nie.

“Ons verbind ons tot die hoogste professionele standaarde en wil geensins voordeel trek uit kontrakte wat onder verdenking is nie. Ons betreur ons oordeelsfoute en selfs die moontlikheid dat ons gebruik is om ander se onbehoorlike optrede te bevorder,” het Jean-Christophe Mieszala, hoofrisikobeampte van McKinsey, gesê.

McKinsey is in gesprek met Transnet, SAL en die relevante owerhede om die terugbetalings te finaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

Wie gaan nou daai geld vat of gaan dit as Bonus tussen die Brstuur verdeel word

annie ·

Dis darem net te lekker. Gee so bietjie geld terug en dan is alles vergete. Geen hofsake rondom die verhewe Gupta-misdrywe nie. Zuma moet tog net sorry sè en Ace en… en… dan loop alles weer klopdisselboom…eeerch… eeerch! Die eerste mense wat skynbaar wel afgedank sal word is ons regslui want hul beroep is uitgedien. Ok, daar is nog ‘n klompie witmense in die land wat vasgevat moet bly… en hulle speak Afrikaans… too terrible for words…

Stefan ·

Verbeel ek my of staan daar klaar ‘n paar korruptes om die geld ‘in ontvangs’ te neem?

Ferryman ·

Sal graag wil sien dat ander ondernemings McKinsey se voorbeeld volg. Hulle besef natuurlik hulle openbare beeld is belangriker as ‘n bietjie wins.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.