‘Mediavryheid wen’ in Zuma-saak teen joernalis, aanklaer

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Kim Ludbrook/Pool/AFP)

Die hof se uitspraak dat oudpres. Jacob Zuma nie verder ʼn News24-joernalis en ʼn staatsadvokaat privaat mag vervolg nie, is ʼn “klinkende oorwinning vir mediavryheid en vryheid van uitdrukking in Suid-Afrika”.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) sê die hofbesluit is nie net ʼn oorwinning vir die betrokkenes nie, maar vir elke verslaggewer in die land.

“[Die uitspraak] versterk verslaggewers se reg om vrylik hul werk te doen en belangrike hofsake te dek sonder om gehinder of geteister te word,” sê Sanef.

Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het Dinsdag Zuma se private vervolging van die joernalis Karyn Maughan en adv. Billy Downer, staatsaanklaer in Zuma se korrupsiesaak, met koste van die hand gewys.

Die hof het Zuma ook verbied om weer private vervolging in te stel, daarmee voort te gaan of enige verdere stappe in dié verband te doen.

Volgens Sanef het die uitspraak verskeie belangrike kwessies uitgelig; onder meer hoe “flou” die beskuldigings teen Maughan was, hoe Zuma se familie en ondersteuners Maughan meedoënloos aanlyn geboelie het en dat daar teen sogenaamde “Slapp”-hofsake (strategiese hofsake teen openbare deelname, wat gebruik word om mense se monde te snoer), gewaak moet word.

Zuma se bybedoelings met die vervolging is ook blootgelê, sê die Helen Suzman-stigting.

“Hy wou Downer verhoed om sy pligte ‘vreesloos en onafhanklik’ uit te voer, sy langdurige korrupsieverhoor vertraag en Maughan se beriggewing daaroor snoer,” sê Nicole Fritz, uitvoerende direkteur van die stigting.

Zuma staan tereg op verskeie aanklagte van korrupsie, bedrog en rampokkery oor die aankoop van onder meer vegvliegtuie, patrolliebote en ander weermagtoerusting toe hy in die laat 1990’s adjunkpresident was.

Die saak teen hom is etlike kere uitgestel weens die afsonderlike saak teen Maughan en Downer.

Volgens Fritz is dit verblydend om te sien dat private vervolgings nie sonder geregtelike oorsig voortgaan nie.

“As dit toegelaat word om voort te gaan sonder oorsig deur die howe, bedreig dit selfs ons demokrasie,” sê sy.

Sanef sê in aanloop tot volgende jaar se nasionale verkiesing is die uitspraak goeie nuus vir voortgesette mediavryheid.

“Dit dien sommer ook as ʼn waarskuwing vir enigiemand wat verslaggewers en die media wil intimideer of stilmaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

Bestaan daar dan media vryheid in Suid-Afrika, die media wat ek ken en lees is beslis gemuilband en onderworpe aan streng reëls veral as daar verwys moet word na die kleur swart.

Gaitsigubib ·

Ek stem 100% saam. As jy my kon sien het ek gese: “just follow my eyes”

Samuel ·

Daar is nog geen oorwinning om te vier nie, want volgens berigte gaan ou Stalingrad weer appelleer.

Aai ·

Media het geen vryheid as hulle het hoekom word wreede plaas moorde en CIT glad nie op nuus uitgesaai?Dit is omdat hulle nie mag so watse vryheid het hulle rerig?

Sê maar net ·

En Zoempie sal seker nooit weer die binnekant van ‘n tronk sien nie. Dis baie lekker in Suid-Afrika…

Di ·

Nee wat hy sal NOOIT in die tronk beland nie. Hy sal maar eendag op ‘n ander plek gaan rekenskap gee vir sy dade! DAAR kan hy nie “appelleer” nie

Elmarie ·

Wat sê geaanklaery, vir wat is hy nie in die tronk? Die hemel weet…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.