Medici hou prinses Charlene fyn dop

Prinses Charlene van Monaco in November verlede jaar. (Foto: Valery Hache/AFP)

Medici hou prinses Charlene van Monaco se toestand fyn dop nadat sy die afgelope week ʼn ineenstorting gehad het.

Weinig besonderhede is egter bekend oor presies wat die prinses makeer.

Prins Albert van Monaco se 43-jarige vrou woon al die grootste gedeelte van die jaar alleen in Suid-Afrika.

Sy is Woensdagaand na ʼn hospitaal in Durban gehaas – onder ʼn skuilnaam – nadat sy onverwags by die lodge waar sy nou al maande lank tuisgaan, “ineengestort” het.

Prins Albert en sy vrou, Charlene, tydens sy besoek aan Suid-Afrika. (Foto: Instagram)

Haar stigting het in ʼn verklaring gesê die voorval hou verband met ʼn ernstige oor-neus-en-keel-infeksie wat sy reeds in Mei opgedoen het. Charlene is in ʼn bestendige toestand en is reeds uit die hospitaal ontslaan.

“Dokters stel nog vas presies wat gebeur het,” het Chantell Wittstock, direkteur van die Prinses Charlene van Monaco-stigting, gesê.

Albert se kantoor het in ʼn verklaring gesê die prinses word “fyn deur haar mediese span gemonitor wat bevestig het dat haar toestand bemoedigend is”.

Die Zimbabwies gebore prinses het verlede maand ʼn operasie ondergaan, maar min besonderhede daaroor is bekend gemaak.

Die jongste terugslag was “deel van die herstelproses”, het Wittstock gesê, en bygevoeg dat Charlene die afgelope ruk heelwat pyn ondervind het.

Charlene, ʼn voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer, het in 2011 met prins Albert II getrou. Een van haar eerste openbare verskynings saam met Albert was tydens die Winterspele in Turyn in 2006.

Jacques is Monaco se troonopvolger. (Foto: Instagram)

Hul seun Jacques is die troonopvolger van die 700 jaar oue Huis van Grimaldi.

Leefstyltydskrifte in Europa het die afgelope paar weke egter bespiegel dat die glanspaartjie se huweliksboot moontlik in stormwater vaar.

Charlene sê sy is weens mediese redes in Suid-Afrika, terwyl sommige mediaberigte bespiegel dat sy op soek is na ʼn huis hier. Haar laaste openbare verskyning saam met Albert was in Januarie vanjaar in Monaco, maar die gesin het verlede maand, nadat Albert en die kinders na Suid-Afrika gereis het om by Charlene te kuier, foto’s op Instagram gedeel.

Die 63-jarige Albert is die seun van prins Rainier III en Grace Kelly, ʼn Amerikaanse filmster wat in 1982 in ʼn motorongeluk dood is. Charlene is in 1978 in Bulawayo in Zimbabwe gebore en het as tienjarige saam met haar ouers na Suid-Afrika gekom. Die gesin het hulle in Benoni gevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Kan nie my vinger op dit sit nie maar ietsie is nie nie lekker hier nie. Onthou dat Princess Diana was ook op ‘n tydstip diep ongelukkig. Daai Huis van Monaco het oor die jare ook maar baie probleem gehad.

Althes ·

Waarvoor het prins Albert sy eie mediese span? Glo hy nie sy vrou nie? Vreemde situasie

Tubac ·

Duidelik dat hy geen vertroue in ons gesondheidstelsel het nie.

SomeOne ·

prins albert se oë is ook maar rond dwalerig, voor sy troue was hy die haan onder die henne, wie sê dis nie weer soos in die jare gelede nie

Charmain ·

Mens wonder hoe n ineenstorting kan “deel wees van die herstelproses”? Sterkte Charlene, wat ookal die omstandighede, kan nie maklik wees om solank van jou klein kindertjies geskei te wees nie

Christel Cornelissen ·

Dagsê Cheetha
Dankie dat jy die fout onder ons aandag gebring het. Dit is sedertdien gewysig.
Groetnis
Christel
nms. Maroela Media

KB ·

Oe, die liewe papparazzi…
Weet jy!
My boodskap aan die papparazzi: “Mind your own business. Los die Grimaldis in vrede.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.