Meer as 500 Kersbabas gebore

Een van die 194 babas wat op Kersdag in Gauteng gebore is. (Foto: Gautengse departement van gesondheid)

Meer as 500 babas is landwyd op Kersdag in hospitale gebore – met die eerste baba, ʼn dogtertjie, wat presies om middernag haar opwagting in die Galeshewe-daghospitaal in die Noord-Kaap gemaak het. Twee minute later is ʼn seuntjie in die Harry Gwala-streekshospitaal in KwaZulu-Natal gebore en om 00:03 is ʼn dogtertjie in die West End-gemeenskapsentrum in die Oos-Kaap gebore.

Byna die helfte van al dié babas wat op Kersdag verwelkom is, is in Gautengse hospitale gebore, gevolg deur dié in KwaZulu-Natal, sê Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid.

Die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, Nomagugu Simelane, het hospitale op Kersdag besoek en haar kommer oor die groot getal tienerswangerskappe te kenne gegee. Die jongste ma was 16 jaar oud en het by die Niemeyer-hospitaal gekraam.

Nog drie ma’s was 17 jaar oud en drie was 18 jaar oud.

Simelane sê die geboortes op Kersdag is ʼn aanduiding van die breër situasie in die provinsie waar meisies op ʼn vroeë ouderdom al seksueel aktief is.

“Ons wil benadruk dat dit nie aanvaarbaar is nie, want om op so ʼn jong ouderdom swanger te raak, kan baie gevaarlik vir die ma en kind wees.”

Die LUR sê daar moet ʼn verandering wees in hoe daar na voortplantingsgesondheid gekyk word omdat die huidige benadering nie werk nie. Sy het ook ʼn beroep op ouers gedoen om met hul kinders hieroor te praat, eerder as om seks as ʼn taboe‑onderwerp te beskou.

“Kom ons normaliseer dit om met ons kinders daaroor te praat en stel hulle gerus. Kom ons moedig onthouding aan, maar wees realisties genoeg om te weet dat almal dit nie gaan doen nie.”

Die departement het ʼn beroep op nuwe ouers gedoen om te verseker hul babas se inentings word bygehou.

“Dit is ook belangrik dat ouers hul kinders binne 30 dae ná geboorte registreer om laat registrasie te vermy,” sê Mohale.

Die departement van binnelandse sake het 161 kantore by openbare hospitale en uitgesoekte klinieke om dit vir mense makliker te maak om ʼn geboorte tydig te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.