Meer bekend oor leerder van private skool se dood

Ruikers en bosse blomme is by ʼn standbeeld op die skoolterrein geplaas. (Foto: St Teresa’s School/Facebook)

Die Gautengse departement van onderwys sê hy het nou meer te wete gekom oor die gebeure wat op die dag van ʼn gr. 8-leerder aan ʼn private skool vir meisies in Johannesburg se dood, afgespeel het.

ʼn Leerder aan St. Teresa’s School is Maandag dood op die skoolterrein aangetref en nog ʼn leerder is glo in dieselfde voorval beseer.

Steve Mabona, woordvoerder van die onderwysdepartement, sê die betrokke leerders het na bewering op die dag met kooroefeninge klaargemaak toe hulle die skoolterrein deur die laerskoolperseel probeer verlaat het.

“ʼn Veiligheidswag aan diens het hulle egter gesien en aangesê om liefs die hoërskool se uitgang te gebruik,” sê Mabona.

Die leerders het skynbaar verdwyn en is later deur die skool se skoonmaakpersoneel aangetref. Hulle het glo aan die onderkant van ʼn tweeverdiepinggebou gelê.

“Nooddienste is onmiddellik ontbied en die ouers van die beseerde leerders is oor die voorval in kennis gestel,” sê hy.

“Albei leerders is na die naaste hospitaal geneem, maar een van hulle is egter met haar aankoms dood verklaar.”

ʼn Onafhanklike ondersoek wat deur die skool na die voorval begin is, het reeds bevind dat die leerders se beserings “selftoegedien” is, maar die skool wag nog op bevestiging van die geregtelike doodsondersoek.

Die departement het intussen sy meegevoel met die oorledene se familie en die gemeenskap betuig.

Hoewel die betrokke skool ʼn private skool is, het die departement nietemin voorgestel dat die veiligheid van die leerders by die skool voortdurend gemonitor word. Die skool het reeds berading aan diegene wat dit nodig het, verskaf en is daartoe verbind om enige ouer, leerders of personeel in hierdie tyd by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nettie ·

Dit maak mens se hart so verskriklik seer as jy hoor van so iets. Dinge is SO verskriklik swaar en moeilik vir ons kinders. Hulle het nie meer die reserews om te “cope” en uit te hou tot dinge beter gaan nie. Als is net te erg en net te veel en net te moeilik.

Aan die families. Sterkte. Ons bid vir julle en dink aan julle. Innige medelye en mag julle vrede vind oor die een se heen gaan. Mag God julle toevou in Sy arms. En mag die oorlewende ten volle herstel en ook vrede vind in haar oorlewing. Sterkte aan almal ook by die skool.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.