Meer dae sonder krag in 2023 as afgelope vier jaar gesamentlik

Foto ter illustrasie. (Foto: Andrey Metelev/Unsplash)

Suid-Afrikaners het 27% van hierdie jaar al sonder elektrisiteit deurgebring. Dit kom neer op 49 volle dae van beurtkrag – dieselfde hoeveelheid tyd sonder elektrisiteit die afgelope vier jaar gesamentlik, sê Samantha Graham-Maré, die DA se skaduminister van elektrisiteit.

“Oor vier dae, met geen einde in sig van beurtkrag nie, sal ons meer beurtkrag in 2023 beleef het as die afgelope 10 jaar gesamentlik. Ondanks versekerings van die minister van elektrisiteit, dr. Kgosientsho Ramokgopa, sal die situasie waarskynlik nie in die afsienbare toekoms verbeter nie.”

Koeberg se opgradering van eenheid 1 is ver agter skedule en dit sal waarskynlik die kragkrisis verdiep en daar is min tot geen werklike oplossings op die tafel nie, sê Graham-Maré.

“Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het sy voete gesleep met die Elektrisiteitsregulering-wysigingswetsontwerp. Dit is nou eers voor die parlement ter tafel gelê. Die geïntegreerde hulpbronneplan, wat al sedert 2021 agterstallig is en die elektrisiteit-bloudruk is vir die land, is nog steeds nie ter tafel gelê nie. Die jongste regulasies oor hernubare energie sal boonop ʼn onmeetbare terugslag wees vir daardie oplossing.”

Graham-Maré meen die aanstelling van die Nasionale Energiekrisiskomitee (Necom), saam met die aanstelling van die minister van elektrisiteit en die opstel van ʼn energie-aksieplan, moes reeds tot ʼn verbetering gelei het in die beurtkrag wat die land lamlê.

“Beurtkrag is op ʼn ongekende vlak en daar was slegs twee dae vanjaar sonder beurtkrag. Dit is boonop ontmoedigend om kennis te neem dat, ondanks die $8,4 miljard wat uit die internasionale gemeenskap beskikbaar gemaak is aan Suid-Afrika vir die implementering van die Beleggingsplan vir Regverdige Energie-oorgang, is daar nog nie ʼn enkele aktiwiteit uit dié plan ingestel om ons energie-uitdagings te takel nie. In plaas daarvan, word ons weekliks toegespreek deur minister Ramokgopa oor ingrypings wat nog nie tot dusver enige resultate opgelewer het nie.”

Die Demokratiese Alliansie doen ʼn beroep op die minister, as hoof van die Necom, om die ses maande opdatering (wat nou agterstallig is) oor die energie-aksieplan te verskaf. Die party versoek ook dat die energie-aksieplan, in die afwesigheid van die geïntegreerde hulpbronneplan, om ʼn gedetailleerde padkaart – met koste en tydsraamwerk – beskikbaar gemaak sal word wat die land se kragkrisis in die kort, medium en langtermyn gaan takel.

“Die haelgeweer-benadering wat tans deur die regering aangewend word, werk duidelik nie. Suid-Afrika verdien om te weet dat die minister en sy span die krisis in ʼn ernstige lig beskou en nie bloot gate probeer toestop voor die verkiesing in 2024 nie. Dit is tyd dat Suid-Afrikaanse kiesers hul mag terugneem. ʼn Nuwe DA-geleide administrasie, toegewyd tot die welsyn van alle burgers, en nie net ʼn paar bevoorregtes nie, kan hoop bring vir ons land en die kwessies van beurtkrag takel en ons energie-infrastruktuur laat herleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Gert ·

Meer ligte af as in 4 jaar en steeds sê liggies minister dat alles onder beheer is.
Daar is niemand wat harder lieg as hy wat weet dat hy lieg en tog die leuen as die waarheid aanbied.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

En ou Squirral staan soos gewoonlik uit die water uit. Hy het mos sy deel gedoen deur die bucket te pass en ñ minister van elektrisiteit aan te stel. Het julle al opgelet hoe totaal onbevoeg, afwesig en onbekwaam onse Prez is. Hy sal altyd die een of ander raad, kommissie, liggaam, minister, of amptenaar aanstel om die kastaiings uit die vuur te krap as die ANC bollie aangejaag het, maar hy sal nooit self sy eie hande vuilmaak nie. Ou skelm!

Papsak ·

Ja dankie Jan en Andre Andre was reg wat hy gese het oor Eskom krag nou meer en langer sonder krag as ooit tevore maar nou moet jy tevrede wees

Truman Burbank ·

Eish. Het dit enigsins beter gegaan onder hulle? Jy vergeet. Ons eerste fase ses was onder DR. Selfde DR wat gese het ons betaal te min

Charles ·

Ten spyte van al die donker dae bly die maandelikse elektrisiteits rekening dieselfde of dit is selfs meer.
Seker maar ‘n 1 + 1= 11 geval.

Di ·

ONS moet betaal vir al die gratis krag asook die onwettige krag verbindings wat miljoene is!

Truman Burbank ·

Ek weet nie hoe jule dit regkry. Maar dan ook. Ek het geleer om sonder yskas klaar te kom, en gebruik geyser minimaal.

Wondermaarnet ·

Waar ek bly is duskant die hel in die somer is daar geen manier hoe ek sonder ‘n yskas kan klaarkom nie. Botter smelt voor 11am al in die somer. My melk, kouevleis en vleis sal nie hou sonder ‘n yskas nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis positief vir die stryd teen globale klimaatverandering.

Sparky ·

Hulle soek meer geld en solank hulle nie hul sin kry nie,gaan dit nie verander nie

piet ·

Ek weet darem nie. Voel vir my asof daar minder kragonderbrekings is sedert die ruiter weggery het oor die horison…

Lillian ·

En die man wat ons wou kom red word vergiftig en weggejaag. Die sogenaamde leiers van hierdie land is ‘n disgrace!

Papsak ·

Nee regtig hulle mense eet by elektriesetyd ligte en bad in warm water maar ons moet uit eet in jou kombuis by kerslig hoe nou jy moet soek wat jy eet hoe onregverdig se my toe ek verstaan niks meer nie regtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.