Meer geld kom glo gou vir GPF’s

Bheki Cele, minister van polisie (tweede van links) by ‘n misdaadvoorkomingsimbizo in KwaZulu-Natal. (Foto: SA Polisie)

Die minister van polisie, Bheki Cele, het Suid-Afrikaners die versekering gegee dat befondsing van gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) vroeër eerder as later sal gebeur.

Cele was die afgelope naweek by ʼn misdaadvoorkomingsberaad in KwaZulu-Natal, waar hy met inwoners van verskeie gebiede vergader het. Sommige van hulle woon in die gewelddadigste dele van die eThekwini-metro en steier onder hoë vlakke van misdaad.

Die Umlazi-polisiëringsgebied het landwyd die hoogste moordsyfer en volgens die jongste misdaadstatistieke is 83 mense tussen April en Junie vanjaar in Umlazi vermoor.

Die minister het inwoners beloof dat geld vir die versterking en finansiering van GPF’s binnekort beskikbaar gaan wees.

Daar is die naweek veral op Inanda, Umlazi en Claremont gekonsentreer en die polisie, provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, sowel as die eThekwini-munisipaliteit, gaan saamwerk om die oorsake van misdaad te hanteer en hulpbronne daarheen te kanaliseer om polisiëring in die drie gebiede te verbeter.

Meer voertuie is reeds tot die bestaande vloot van die twee polisiestasies in die Umlazi-township gevoeg en ʼn span ondersoekers sal daar ontplooi word om onopgeloste sake, of sake wat voortydig afgesluit is, te ondersoek sodat die inhegtenisnemingskoers van geweldsmisdadigers verhoog kan word.

Die minister het burgers wat reeds ʼn aktiewe rol in misdaadbekamping speel, vir hul bydrae geloof.

“In beginsel stem ons saam dat GPF’s landwyd beter ondersteuning moet kry en meer hulpbronne en geld moet ontvang om die polisie te help in die opsporing en voorkoming van misdaad,” sê Cele.

“Dit is duidelik dat die polisie gemeenskappe nodig het en dat mense die polisie nodig het as ons die stryd teen misdaad wil wen.

“Ons erken en waardeer die rol van GPF’s, buurtwagte, straatpatrolleerders en soortgelyke teenmisdaadstrukture in die polisiëringswaardeketting. Dit is hoekom gemeenskappe se oproep vir die befondsing van GPF’s op die hoogste vlak aandag kry.”

Die burgerlike sekretariaat vir polisie, die polisie en provinsiale departemente van gemeenskapsveiligheid ondersoek tans moontlike finansieringsmodelle vir die land se GPF’s. Wanneer ʼn prakties werkbare model gevind is, sal die finansiering deel van die Wet op Polisie vorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anel ·

Ja, en môre wil die mense petmanente aanstellings hê, net soos die riserviste. Ou hoed, jy het geen idee van misdaad voirkoming nie! Gebruik daardie geld eerder om regte polisiemanne en vroue Behoorlik op te lei en nie net kaders aan te stel nie. Pleks van jy jou hoed en gaan sit op jou stoep in die son en lis die polisiewerk vir REGTE polisiemanne! Wat het van die nuwe kommisaris geword? Is daar ooit een? Mens hoor niks van hom nie!

Samuel ·

Die kommissaris mag nie onafhanklik van Cele optree nie, anders word hy ook gepos.

Wielspore ·

In die klein dorpie waar ons bly word die polisie voertuie gebruik om ouers se kinders skool toe en terug aan te ry, dan word mede werkers tussen die polisie stasie en hulle wonings rondgery, dan word daar ook tussen die polisie stasie en SPAR op en af gery. Oor naweke staan die voertuie by die boskroeg.

Jacobus ·

Dit sal ook net in sekere provinsies wees, waar die ANC stemme kort.

Pampoen ·

In my area doen die GPF uitstekende werk. Geld korrupteer mense. Dan word die GPF n bende.

Delia ·

Sal dit ook BEE GPF wees. Hier kom weer net nog korrupsie. Verskoon my negatiwiteit, maar geskiedenis bewys niks anders nie

Danie ·

En hoe lekker gaan ons nou kuier.Vra jouself wat het hulle met 30 jaar se gelde gedoen tot nou.Het jy van n verskil gehoor of gesien.Nee

Pietertjie ·

Bla bla. Hoekom vervaardig hulle nie net meer uniforms nie? Dit sal dieselfde uitwerking hê.

Papsak ·

Ja polisie voertuie is tasxis ook ry lekker rond met hulle mense dorp toe huis toe gaan net lekker

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.