‘Mees gesoekte’ plaasmoordenaar eindelik gevonnis

Thapelo Mokoena (47) is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

Die moordenaar van Johanna van Niekerk (72) en Tororo Tsholo (43) is Woensdag eindelik tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy die gereg vir bykans 15 jaar ontduik het.

Thapelo Mokoena (47) het Van Niekerk en Tsholo in Augustus 2004 op die plaas Dankbaarheid buite Bethlehem in die Vrystaat vermoor. Tsholo was een van Van Niekerk se plaaswerkers.

Volgens Phaladi Shuping, woordvoerder van die NVG in die Vrystaat, is Mokoena kort na die moorde saam met drie ander verdagtes in hegtenis geneem. Maroela Media het vroeër berig die verdagtes is later skuldig bevind, maar Mokoena het in 2005 uit aanhouding ontsnap, voordat hy gevonnis kon word.

Mokoena is op 28 Augustus verlede jaar na ’n lang soektog aangekeer en weer in hegtenis geneem.

“Hy was ook bo-aan die lys van die provinsie se 50 mees gesoekte misdadigers,” sê Shuping.

Die Vryheidsfront Plus het die hofuitspraak verwelkom.

“Alhoewel die uiteindelike vonnisoplegging lank geneem het, kan die familie en naasbestaandes van die slagoffers eindelik berusting vind,” sê Jan van Niekerk, die VF Plus se provinsiale leier in die Vrystaat.

“Dit bring nie ’n lewe terug nie, maar die moordenaar is nou uit die samelewing verwyder.”

Van Niekerk sê voorts dat boere dikwels moed verloor omdat die regstelsel hulle faal, maar dat daar weer vertroue gekweek word wanneer geregtigheid uiteindelik geskied.

“Ons is dankbaar dat hierdie moorde nie nóg ’n onopgeloste raaisel is nie.”

Van Niekerk doen opnuut ’n beroep op boere om waaksaam te wees en hulleself binne die raamwerk van die wet te beveilig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Persheks Adri ·

Uiteindelik! Net jammer lewenslank is nie lewenslank wat ons in ons koppe het nie… Ons almal moet paraat wees in vandag se dae

tweeling ·

Ek kan jou sê van “our people” is al goed gatvol vir die kriminele wat tussen hulle rondloop, so hulle sal praat en inligting verskaf

Mieke ·

Dis net jammer dat soveel plaasmoordenaars nooit gevang word nie….

Anel ·

Nogal jammer dat lewenslank nie lewenslank beteken nie. Oor so paar jaar doen hy aansoek vir parool, omdat dit sy mensereg is en dan is hy weer op straat om weer te moir. Ai, ai, ai.

Marietjie ·

Dis goed so, maar wat van al die duisende wat nogsteeds op vrye voet loop en links en regs mense se lewens vernietig.

Kruidjie-roer-my-nie ·

Bly hy is gevonnis maar Hoeveel plaasaanvalle/moorde was hy moontlik deel van in die 15jaar wat hy los was?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.