Meesterbrein agter beleggingslenter gevonnis

Patrick Stapleton. (Foto: Facebook/ Patrick Stapleton)

Tien jaar direkte tronkstraf.

Patrick Stapleton (66) is eindelik ná menige uitstelkans tronkstraf opgelê vir ʼn bedrieglike beleggingskema wat voornemende beleggers miljoene rande uit die sak gejaag het. Stapleton was die meesterbrein agter dié slenter.

Die vonnis is verlede Donderdag in die Durbanse handelshof opgelê nadat Stapleton vroeër skuldig bevind is aan 147 aanklagte van bedrog én een aanklag elk vir die oortreding van die Bankwet en die oortreding van die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste.

Stapleton se maatskappy Dynamic Group is ook aan dié twee oortredings skuldig bevind en ʼn boete van R10 000 vir elke aanklag opgelê. Elke boete is vir ʼn tydperk van drie jaar opgeskort, sê Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Maroela Media het vroeër berig Stapleton is in Junie verlede jaar aan bedrog skuldig bevind nadat hy 147 voornemende beleggers uit meer as R11 miljoen bedrieg het. Beleggers is onder die indruk gebring dat hulle geld belê in die ontwikkeling van ʼn eiesoortige mynvoertuig én ʼn verfonderneming.

Die beleggers het gevolglik groot bedrae geld in die Dynamic Group se bankrekening inbetaal en is reusebedrae in rente-uitbetalings beloof. Dié uitbetalings het egter nooit gebeur nie.

Stapleton, sy seun, Michael Luke (42), en sy vrou, Shannon Dicks, is in 2017 in verband met die slenter in hegtenis geneem.

Michael Luke sou later teen sy pa getuig en is in April 2019 aan bedrog skuldig bevind nadat hy ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Dicks is vrygespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karoo ·

Goeieste…. 10 jaar… vir al daai miljoene en tientalle mense wiese lewens verwoes is. Hoeveel daarvan gaan hy werklik sit?

Karoo ·

Sjoe…net 10 jaar vir soveel Miljoene en tien talle mense wie se lewens dje swendelaar vervoes het. Hoeveel daarvan gaan hy tog dien?

ES ·

Hy gaan ten minste 5 jaar moet dien voordat hy in aanmerking sal kom vir parool…

Di ·

Ons howe en wette is ‘n grap! Kan sien die land word deur ‘n spul narre regeer

Bolandse Nooi ·

En Zuma? Wanneer gaan hy die MILJARDE wat hy van Thales gekry het in omkoopgeld en die MILJARDE wat Nkandla gekos het (belastingbetaler geld?) terugbetaal en/of tronk toe gaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.