ʼn Ekurhuleni-metropolisiebeampte is Woensdagoggend tydens ʼn betoging in Kingswayweg in Springs, Gauteng, doodgery.
Russel Meiring, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê die metropolisie en ander wetstoepassers was by die optog toe ʼn voertuig glo te vinnig gery en tussen die groep mense in gejaag het. Die voertuig het die beampte getref, en oor die aankomende verkeer se baan gery voor dit in ʼn veld aan die oorkant van die pad tot stilstand gekom het.
“Die beampte het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.
Die bestuurder van die voertuig is ongedeerd. Hy is deur wetstoepassers op die toneel ondervra. Die polisie ondersoek die voorval.