Middelburg-onnie jag unieke medaljerekord by Comrades

Johan Oosthuizen. Foto: Verskaf.

So tussendeur die stilte en die blikkerige klanke wat met swak selfoonopvangs op die groot pad gepaard gaan, hoor jy Johan Oosthuizen se vriendelike stem: “Ek trek net gou af, dan gesels ons lekker”.

Die kranige langafstandatleet van Middelburg is iewers in die omgewing van Volksrust; Sondag sal hy vir die 19de keer by die wegspringplek van die Comrades-marathon aantree. En hy gaan ’n unieke medaljerekord jag.

Indien hy die naweek onder die groep atlete tel wat die ikoniese wedloop tussen 11 en 12 ure voltooi, sal hy die Vic Clapham-medalje ontvang. Sodoende kan hy vir ’n tikkie marathongeskiedenis sorg.

Die adjunkhoof van Laerskool Staatspresident C.R. Swart sal dan met elke liewe beskikbare Comrades-medalje spog – van drie goues tot agt silwer en ’n paar Wally Hayward-medaljes.

Nou, dit is voor die hand liggend dat Oosthuizen se marathongetuigskrif vir indrukwekkende leesstof sorg – van oorsese sukses (soos sy London to Brighton-triomf in 2005) tot rekords by plaaslike wedlope (soos sy destydse lopie van 04:10:30 by die Bainskloofpas-ultramarathon).

Maar as jy “lekker” met hom wil gesels, dan moet jy die gesprek in die rigting van die Comrades-marathon stuur.

Tydens ’n 2009-onderhoud met hom was hy sekerlik op die kruin van sy drafloopbaan. Die drie goue medaljes was reeds in die sakkie en hy het gereed gemaak om sy 13de agtereenvolgende Comrades-avontuur aan te pak.

Sy projekteerde tyd vir daardie jaar was 5:40.

“Ek hardloop nie teen ander atlete nie. My grootste teenstander is die horlosie,” het hy destyds gesê.

Die vriendelike Middelburgse onderwyser is al ’n bekende gesig by wedlope en landloopbyeenkomste. Foto: Verskaf.

Nou, 13 jaar en ’n wêreldwye pandemie later, is die druk om te presteer duidelik van sy skouers af. Tog sal hy die horlosie steeds fyn moet dophou; vir iemand wat daaraan gewoond is om vinnige tye te jaag, kan ’n “stadiger” wedloop vir ’n unieke uitdaging sorg.

“Ek beplan om deurgaans ’n bietjie rustig te draf en dan vir ’n rukkie te stap. Eintlik sien ek baie na die wedloop uit omdat ek nou die bekende Comrades spirit waarskynlik beter as ooit vantevore sal ervaar.”

Net soos in die dae toe hy om die gesogte goue medaljes en podiumplekke baklei het, weet hy wat van hom verwag word.

Maar as jy hom oor sy voorbereidingswerk uitvra, lag hy lekker terwyl hy antwoord.

“Ek het nou gedoen wat almal al vir jare sê – oorgewig met onvoldoende oefening. In ’n neutedop het ek myself baie goed vir die wedloop voorberei deur nie goed voor te berei nie!”

Daar is seker ’n plek in Johan Oosthuizen se Comrades-vertoonkas vir die Vic Clapham-medalje. En hy sal alles in sy vermoë doen om een in die hande te kry.

Sy vasberadenheid om ’n doelwit te bereik is immers baie meer betroubaar as ’n selfoonsein op pad na KwaZulu-Natal.

  • ’n Lys van sy Comrades-medaljes sedert 1997:

Goud: Drie (in 2004, 2005 en 2008)

Wally Hayward: Twee

Silwer: Agt

Bill Rowan: Drie

Robert Mtshali: Een

Brons: Een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Waarnemer ·

Die comrades is een keer n jaar…en hierdie onnie gaan nou sy 19de comrades aan durf…Well done….maar hoe kry hy dit reg in 13 jaar? Of die berig is ietwat misleidend geskryf en dat hy nou sy 19de jaar hardloop(of loop).

Blom ·

@Waarnemer, die artikel verwys na die onderhoud wat in 2009 gedoen is. Dit is 13 jaar gelede maar hy het al voor 2009 Die Comrades gehardloop.

kolonel ·

2009 was sy 13de agtereenvolgende Comrades. Sy eerste Comrades was in 1997. Hierdie jaar is sy 19de wedloop, 13 jaar na die 2009 onderhoud.

Pietertjie ·

Ek hoor daar is vreemde dinge in die drinkwater: die comrades-mense moet maar versigtig wees!

Oosieoos ·

Wel gedaan dit sit nie in enige iemand se broek nie hoop alles verloop vlot vir jou. Om te kwalifiseer vir Comrades is harde werk en deursettings vermoë. Ai hoe mis ek dit nou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.