Miljarde van Gauteng se gesondheidsbegroting nie bestee

(Argieffoto: Martha Dominguez de Gouveia/Unsplash)

Die Gautengse departement van gesondheid moes R2,6 miljard aan die provinsie se tesourie teruggee nadat hy versuim het om die geld in sy begroting te bestee.

Dít ten spyte van talle vakante poste in die departement en verskeie vervalle hospitale wat dringend opgraderingswerk benodig.

Volgens die DA het die Gautengse wetgewer se komitee oor finansies verlede week onthul dat die departement die reusebedrag einde Maart terugbetaal het.

Luidens die voorlegging deur die provinsiale tesourie is R365 miljoen, wat vir salarisse gebruik moes word, in die 2021-’22-boekjaar nie gebruik nie omdat die vakante poste waarvoor voorsiening gemaak is, nie gevul is nie.

Die departement het wel onlangs ʼn permanente hoof en ʼn nuwe finansiële hoof aangestel nadat hierdie poste meer as ʼn jaar lank vakant was.

Verder is R480 miljoen wat vir infrastruktuur geoormerk is, nie bestee nie. Dit het beteken dat opknappings wat met beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV) verband hou, nie by die Leratong-, Sebokeng-, Weskoppies- en Jubilee-hospitaal gedoen is nie.

Altesaam R1,6 miljard vir voorwaardelike toelae is nie gebruik nie omdat poste nie gevul is nie, eise nie ingedien is nie en fakture vir die verkryging van toerusting nie betaal is nie.

Daar was in die afgelope boekjaar ook R658 miljoen se ongemagtigde uitgawes by die departement.

Maroela Media het vroeër berig dat slegs sowat 20% van die departement se gesondheidsverskaffers in Maart vanjaar binne die voorgeskrewe 30 dae betaal is en die departement skuld duisende verskaffers miljoene rand.

“Die grootste slagoffers van hierdie finansiële ramp is pasiënte, oorwerkte medici en onbetaalde verskaffers,” sê die DA.

“Hulle het ʼn groot taak om die diep verrotting reg te stel wat soveel kwesbare mense wat van openbare gesondheidsdienste in Gauteng afhanklik is, seermaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

ONBEVOEGDE, nuttelose persone wat te lui is om hulle werk te doen. Voel ‘n veer vir die mediese personeel en pasiente. Sit net in hulle poste om maandeliks hulle salarisse in te palm. ALS danksy die korrupte ANC regering wat hierdie useless spul aangestel het.

Kokerboom ·

Hoekom,hoekom, hoekom verdra ons die absolute gemors deur ANC op ons afgedwing!!!

Henri ·

En die cANCer wil nog steeds die Nasionale Gesondheidsversekering-plan op ons afdwing?

Anel ·

En hulle wil nog steeds die nasionale gesondheidssorg of wat hulle dit ookal noem op ons afdwing!!! Behoede ons. Dit het nêrens in die wêreld gewerk nie, so hoekom sal dit hier werk?

Jacobus ·

Ek wil dit ook net weer herhaal, EN DAN WIL DIE ANC DIE NASIONALE GESONDHEIDS VERSEKERING OP DIE HELE BEVOLKING AFDWING. Dit sal die rampspoedigste besluit ooit wees en dit net om stemme te werf.

Pietertjie ·

Dit kan maar gebruik word om die brandstof heffing verder te verlaag. Méér mense sal sodoende baat vind.

Nefie ·

Al wat hulle wil doen is om nog belaglike covid wette uit te dink

Papsak ·

Dit sal nie hier werk nie want die ANC werk ook nie hier nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.