Miljoene rande is letterlik in die water gegooi nadat ’n skool op ’n vleiland in die omgewing van Tembisa tussen Pretoria en Johannesburg gebou is.
Die Mayibuye Primary School was veronderstel om al teen 2017 leerders te akkommodeer, maar staan in dié stadium steeds leeg nadat die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur nie die nodige sertifikate kon bekom nie weens die gevaarlike terrein waarop die skool gebou is.
Dié departement het tot op hede sowat R82 miljoen aan die skool bestee, hoewel die skool se gekraakte mure, lang gras en probleme met riool nie hiervan getuig nie, meen Mpho Modise, voorsitter van die Gautengse wetgewer se komitee vir infrastruktuurontwikkeling.
Modise het Maandag gesê dié komitee oorweeg dit nou om strafregtelike aanklagte teen amptenare van die departement en die kontrakteur wat die skool gebou het, aanhangig te maak.
Volgens Modise het die komitee die betrokke skool verlede maand besoek om die standaard en gehalte van die kontrakteur se werk na te gaan. Die komitee het sedertdien vasgestel dat die skool strydig met die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde gebou is.
“Die komitee het in sy beoordeling van die skool tot die gevolgtrekking gekom dat die skool ’n gevaar vir leerders en onderwysers inhou aangesien die vleiland moontlik die struktuur kan verswak wat beteken dat die gebou ineen kan stort.”
Die komitee sal nou in samewerking met die portefeuljekomitee vir onderwys ’n brief aan David Makhura, premier van Gauteng, rig word om te versoek dat hy ’n ondersoek van stapel stuur wat sal lei tot tugstappe teen amptenare wat toesig oor die konstruksie gehou het.
Volgens Modise het die regering nou twee opsies: Om miljoene rande aan die skool te bestee of dit eenvoudig te sloop om te verhoed dat dit later deur misdadigers of onwettige besetters beset word.
“Die komitee is van mening dat daar opgetree behoort te word teen diegene wat betrokke was by die vermorsing [van geld] deur ’n skool op ’n vleiland te bou. Dit sal ’n verkeerde boodskap oor die gebrek aan aanspreeklikheid en bestuur van gevolge in die provinsie stuur indien stappe nie gedoen word nie.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
20 Kommentare
Die ANC regime is iets op sy eie
Besonderse tipe stupid om in eerste plek goedkeuring te gegee het om daar te mag ontwikkel.
Die gebrek van aanspreeklikheid is lankal hier eish
Die onbeskaamde kaping en roof van swaarverdiende belastingbetalersgeld gaan onverpoos voort. Maak bekend name van skuldige besluitnemers en kla almal aan asook bouers wat veronderstel was om darem iets van vleilande te weet asook inspekteurs van Openbare werke wat duidelik total onbevoeg is om hul werk te doen!!!Wie monitor strafregterlike optredes op die duisende gevalle swak bouwerk gelewer?
Natuurlik ook mie behoorlike EIA gedoen nie. Fools do foolish things