Miljoene nodig om jou spruit groot te maak? Beplan só

Om ’n kind in ‘n kleuterskool te sit kan ouers reeds duisende rande uit die sak jaag. (Foto: Maroela Media)

Ouerskap is ongetwyfeld vir baie mense ʼn groot voorreg. In hedendaagse tye verg dit egter haarfyn finansiële beplanning – dit kan ouers miljoene rande kos om hul spruit(e) groot te maak.

Die Sondagkoerant Rapport het die naweek berig berekeninge van ʼn aktuaris by Momentum Investo se produkspan het gewys dit kan sowat R3 miljoen kos om jou kind groot te maak.

Riaan Grobler, hoof van adviesdienste by Everest Wealth, sê dit is daarom nodig dat mense reeds voor die koms van ʼn baba verskillende goed – waaronder ʼn mediese fonds – gereed het wat met dié koste en ander onvoorsiene uitgawes kan help.

“Dit is ook wys om reeds met die aanvang van die swangerskap lewensdekking vir albei ouers te hê, asook ongeskiktheid- en gevreesdesiekte-dekking, sou iets gebeur wat een of albei ouers se vermoë om ʼn inkomste te verdien kan beïnvloed, of selfs in die geval van dood,” sê Grobler.

ʼn Noodfonds wat vroeër reeds ingestel is en aangevul word, kan ook help om onvoorsiene uitgawes te dek.

“Die betaal van skoolgeld begin deesdae baie vroeg en kan beteken dat ouers al binne die eerste drie of vier maande, of selfs vroeër, duisende rande vir kindersorg moet opdok.

“Intussen moet jou kind ook op ʼn mediese fonds wees en word die koste meer soos die kind ouer word. Laerskoolonderrig is gewoonlik weer bietjie goedkoper in vergelyking met voorskoolse kindersorg, maar naskoolse en buitemuurse aktiwiteite kom dan weer by. Dit kan die koste aansienlik opjaag. Dan is daar ook die koste van skryfbehoeftes, skoolklere, ekstra klasse en dies meer.

“Teen hoërskool is jou kind se mediesefondsbydrae selfs meer en is daar benewens die skoolfonds ook verskeie ander uitgawes. Tersiêre onderrig is ook duur en ʼn vierjaargraad kan jou duisende rande uit die sak jaag.”

Grobler sê dit is dus belangrik om te bepaal hoeveel jy vir jou kind se toekoms moet spaar en hoe jy dit gaan doen. Die moontlikhede sluit onder meer beleggings, studie- en ander spaarplanne in.

“Dit is nodig om al die opsies te oorweeg ten einde die beste oplossing vir jou en jou kind te kry en ʼn ingeligte besluit te neem. Ook hier moet ouers verseker dat hierdie planne kan voortgaan indien hulle nie meer daar is nie.”

Volgens Grobler moet ouers ook oorweging gee aan verskillende scenario’s soos die dood van een of albei ouers, of die moontlikheid van ongeskiktheid terwyl hul kind steeds van hulle afhanklik is.

“Daar moet dan duidelikheid wees oor watter voorsiening in plek is en wie daarvoor verantwoordelik gaan wees. Daarom is dit noodsaaklik om ʼn behoeftebepaling te doen en seker te maak planne word gemaak om daaraan te voldoen.”

Hy meen daar moet voldoende risikodekking wees en genoeg voorsiening vir boedelbereddering. Geld moet ook doeltreffend aangewend kan word tot voordeel van die kind.

“ʼn Behoorlike testament is dus ook ononderhandelbaar aangesien dit sal verseker dat jou wense vir jou kind nagekom word. ʼn Testamentêre trust word as ʼn klousule in ʼn testament vervat en sal sorg vir finansiële voorsiening, beskerming van bates en sekerheid vir begunstigdes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jedi Knight ·

Geen wonder ek kon op 50 al aftree nie. Ek het genadiglik nie kinders nie, net troeteldiere. Dwelms en ander sosiale euwels is ook n “big fat nothing” in my lewe.

Delia ·

Ja met die info, boesem almal vrees in by ouers en makelaars lag al die pad bank toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.