Miljoene rande vir ‘beste van die beste’ vir Inkwazi-passasiers

Pres. Cyril Ramaphosa aan boord van Inkwazi, die presidensiële straler. (Foto: X)

Die Suid-Afrikaanse Lugmag – met ander woorde die belastingbetaler – moes die afgelope vyf jaar byna R139 miljoen hoes vir onder meer spyseniering aan boord van Inkwazi, die presidensiële straler.

Thandi Modise, minister van verdediging, het in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die DA rakende spyseniering aan boord van die vliegtuig ’n uiteensetting van uitgawes oor die afgelope vyf jaar verskaf.

Luidens dié bedrae, sommige in Amerikaanse dollar, is nie minder nie as R138 882 918,42  gedurende die betrokke tydperk betaal aan wat luidens die antwoorde wat verskaf is, lyk na spysenieringskoste.

Sowat R33,7 miljoen is in die 2018/’19-boekjaar bestee, R42,4 miljoen in 2019/’20, altesame R5,1 miljoen in 2020/’21, nog R7,8 miljoen in 2021/’22, R30,7 miljoen in 2022/’23 so en R30,7 miljoen in 2022/’23.

Altesame R19 miljoen is sover in die huidige boekjaar glo aan spyseniering bestee.

Amos Phago, Modise se woordvoerder, het egter intussen by navraag aan die media gesê dié yslike bedrae dek alle bedryfskoste van die vliegtuig.

“Dít glo ek nie,” sê Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging.

“Om daardie vliegtuig te bedryf kos honderde miljoene rande indien jy onder meer brandstof, parkeerkoste en onderhoud in ag neem. Ek aanvaar uit die minister se antwoord dat daardie bedrag vir spyseniering was.”

Marais verduidelik dat die lugmag nie ʼn bepaalde begroting het wat die Inkwazi- presidensiële vliegtuig betref nie. “Met ander woorde, soos die president Inkwazi wil gebruik, só moet daar geld beskikbaar gemaak word.”

Marais sê egter die regering se prioriteite is hopeloos misplaas gegewe die haglike stand van sake in die lugmag.

Maroela Media het enkele maande gelede berig ʼn verbysterende 85% van die lugmag se vliegtuie was teen Oktober verlede jaar onbruikbaar. Nie minder nie as 188 vliegtuie was in daardie stadium ondiensbaar, 60 het gewag om oorgebou te word, drie is weens ouderdom onttrek, 27 het op herstelwerk gewag en ses het in daardie stadium herstelwerk ondergaan.

Intussen word honderde miljoene rande bestee aan die huur van vliegtuie.

“Die sogenaamde opperbevelvoerder van die weermag, die president van die land, behoort dus sekerlik vir homself te sê dat hy ’n bepaalde verantwoordelikheid het en nie ʼn gevolg saam met hom op Inkwazi kan neem en net die beste kos en duurste drank kan geniet nie.”

Marais sê indien Suid-Afrika nou bedreig word, “is dit onwaarskynlik dat ons die land sal kan beskerm. Maar daar is geld om in luuksheid te vlieg en te leef … Dit kan mos nie aanvaarbaar wees of geregverdig word nie.”

Minister sê oor Londen-vlug

Die president se straler, Inkwazi. (Foto: Kjell O Granhund via saairforce.co.za)

John Steenhuisen, leier van die DA, het ʼn parlementêre vraag aan Modise gestel rakende die bewerings dat die spyseniering vir ʼn 12 uur lange vlug van Londen na Suid-Afrika ná koningin Elizabeth II se begrafnis in 2022 byna R600 000 vir minder as 18 BBP-gaste beloop het.

In haar antwoord verduidelik die minister egter dat die bedrag nie net vir die vlug van Londen na Suid-Afrika was nie.

“Die betrokke vlug het nie uit Suid-Afrika vertrek vir die begrafnis van koningin Elizabeth II in Engeland in 2022 nie. Die reis was ʼn presidensiële vlug van Suid-Afrika na Washington DC in die VSA via Las Palmas vir die president om die amptelike werksbesoek aan die Verenigde State van Amerika by te woon op uitnodiging van pres. Joseph Biden.”

Die besoek aan die Amerikaanse president het van 15 September tot 17 September 2022 geduur.

“Die vlug het toe op 18 September 2022 vanaf Washington DC na Londen in die Verenigde Koninkryk vertrek sodat die president die staatsbegrafnis van koningin Elizabeth II kon bywoon.

“Die vliegtuig het ná die staatsbegrafnis op 19 September 2022 uit Londen na Suid-Afrika vertrek. Die spysenieringsfooi dek alle bene wat deur die vliegtuig onderneem word,” verduidelik Modise.

Sy wys dan daarop dat die Suid-Afrikaanse Lugmag gefaktureer word vir alle spysenieringsbehoeftes en vereistes aan boord vir alle bene wat deur die vliegtuig onderneem word en deur die spysenieringsprys gedek word.

Volgens Modise was die president se reis na Londen op kort kennisgewing geskeduleer “wat tot prysstygings bygedra het”.

“Eksterne vlugbestemmings hef alle spysenieringskoste in buitelandse valuta, wat die pryse beïnvloed.”

Die minister het ook bevestig dat daar slegs 13 BBP-gaste en agt bemanningslede aan boord was en dat die lugmag die uitgawes gedek het.

Maroela Media het Woensdagoggend ʼn navraag aan die woordvoerder van die minister gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Jaco ·

Sal baie interessant wees om te sien wat se kos asook drinkgoed is op die vlug bedien. As die lugmag die “invoice” het kan dit mos beskikbaar gestel word.

Kiepie ·

Dis R76,000 per dag, 365 dae van die jaar, bestee aan spyseniering!

Gert ·

Ek hoop die ANC se ondersteuners het darem daagliks hul koue suur pap en water geneit gedurende die 5 jaar.

Jacobus ·

Jaco ja ek sal ook graag wil sien. Hierdie anc misdaad bende tree absoluut onverantwoordbaar soos konings op terwyl miljoene Suid Afrikaners verhonger.

Roek ·

En dit my vrinne is waarom hul mekaar uitmoor in die polletieke bedryf, net soos bendes !

Johann ·

Bloot net geen benul of begrip vir geld vermors nie. Gewetenlose DIEFSTAL van belasting geld om sy importante leefstyl te finansier. SKANDE!!!!!!

JohanR ·

Kan onse so called president Ramaphosa nie dadelik ‘n stop sit aan die kos gemors met ‘n brief skryf, of ‘n gesprek? Maar van Ramaphosa kom niks, nooit!

Kokerboom ·

Oom Hendrik Schoeman destydse Min van Vervoer het vir ministers gevra: Wil julle vlieg of vreet!

Andre ·

Nie meer lank nie dan is ons ontslae van die ANC regering. Hulle is besig om hulleself nou lelik in die voet te skiet. Die booitjie is stadig besig om te sink.

Andre ·

Cyril eet net so lekker by die trog as al die ander ministers.
Hoekom nie?
Die kiesers is té dom om die A en C te stuit!

Martie Smartie ·

Ons moet Modise seker nou glo ne? Dit terwyl ons weet hoe lieg die ANC kaders en Mbaloela het so flussies sonder skroom gesê dat hulle lieg in die parlement om hulle prez te beskerm. Ja wat die sous erreplein dreun rustig voort, ons belastinggeld hou al die korrupsie en wanbesteding mooi in stand. Saammet die social grants wat, soos onse prez smalend verduidelik, deur die ANC betaal word. Dis nou die bankrot ANC wat so amper gelikwideer is.

Tish ·

Dit is absoluut skokkend. Met n land wat in sy glory in is, krag wat nie herstel kan word nie, kinderbeskerming wat nie plaasvind nie, die polisie wat vrot is (saam met wie ek baie nou werk) kon daai geld beter aangewend geword het. Hospitale is in toestande, mense wat nie eers kos op die tafel kan sit nie en ons president lewe n weelderige lewe. Dit is selfsug en trots op sy beste. Ek hoop mense besef nou wat hulle kruisie op die vorms regtig beteken en dat hulle moet wakker word en besef dat hierdie land terug besorg moet word aan n party sonder korrupsie.

Sê maar net ·

Kon net drie paragrawe lees, konne verder nie, want toe word ek naar…
Wat ‘n verkwisting van belastingbetalers se geld!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek klim nie in daai vliegtuig nie, ongeag die kos en drank.

christo ·

Dis mos lekker om geld te bestee wat jy nie self verdien het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.