Minder entrepreneurs in SA – verslag  

(Foto: Social Cut / Unsplash)

Daar is nou nóg minder entrepreneurs in Suid-Afrika as voor die Covid-19-pandemie, luidens ʼn verslag deur Global Entrepreneurship Monitor South Africa (GEM SA).

Die vooruitsig lyk ook nie veel beter nie, aangesien die verslag verder aandui dat minder mense as voorheen oorweeg om nuwe ondernemings op die been te bring.

Wat nog meer kommerwekkend is, is die motief wat mense op die oomblik dryf om entrepreneurs te word. Gewoonlik kies mense om entrepreneurs te word omdat hulle ʼn verskil in die wêreld wil maak, rykdom wil bou of ʼn familietradisie wil voortsit. In Suid-Afrika is die grootste motief om ʼn entrepreneur te word egter die behoefte om ʼn lewensbestaan te maak, aangesien werkgeleenthede hier uiters skaars is. Dit blyk veral die geval onder mans te wees.

“Hierdie sleutelbevindinge wek kommer dat die land se swak ekonomie en ʼn onvoldoende bemagtigende omgewing vir sakeondernemings die potensiaal van entrepreneurskap belemmer, wat eindelik sou bydra tot ekonomiese groei, werkskepping, innovering en tegnologiese vooruitgang, asook sosiale kohesie,” sê Angus Bowmaker-Falconer, hoofskrywer van GEM SA en navorsingsgenoot by die Stellenbosch-bestuurskool.

Suid-Afrika het wel met vyf plekke gestyg op die GEM National Entrepreneurial Context-indeks (NECI), ʼn maatstaf wat die gunstigheid van ʼn omgewing vir entrepreneurskap en potensiaal vir nuwe ondernemings aandui. Uit die 51 lande wat in 2022 gemeet is, lê Suid-Afrika nou 40ste. Suid-Afrika was egter een van slegs drie lande op die indeks waar al 13 die “bemagtigende voorwaardes vir entrepreneurskap” as onvoldoende aangewys is.

Volgens Bowmaker-Falconer het Suid-Afrika ʼn agterstand in entrepreneuriese aktiwiteite op ʼn globale sowel as ʼn Afrika-vlak.

“Oor die algemeen sien ons nie veerkragtigheid en herstel van entrepreneursaktiwiteite tot voor-pandemiese vlakke in Suid-Afrika in vergelyking met wêreld- en Afrika-persepsies nie, hoewel dít ook nie optimisties is nie.

“Dit weerspieël ons swak presterende ekonomie, die uitwerking van die energiekrisis, verswakkende vervoer-, logistieke en ander openbare infrastruktuur en dienslewering, en die gebrek aan ʼn gunstige omgewing wat entrepreneurs in staat stel om nuwe ondernemings te begin, te laat groei en te onderhou.”

‘Min van plan om ondernemings te begin, besit’

Natanya Meyer, mede-professor in entrepreneurskapopleiding aan die Universiteit van Johannesburg en medeskrywer van die verslag, sê die lae voorneme om nuwe ondernemings te begin of te besit, is besonder kommerwekkend.

“Die getal mense tussen 16 en 64 jaar oud wat van voorneme is om ʼn nuwe onderneming in die volgende drie jaar te begin, het in 2023 tot 10% gedaal – die laagste nog in 20 jaar nadat dit in 2021/2022 ʼn hoogtepunt van 20% bereik het.

“Totale Entrepreneuriese Aktiwiteit (TEA) – wat aktiewe ondernemings jonger as drie maande oud en nuwe ondernemings tot drie en half jaar oud insluit, het van 17,5% gedurende die Covid-19-pandemie, tot 8,5% in 2022/2023 afgeneem – laer as die 11% in 2019.”

Eienaarskap van gevestigde ondernemings (ouer as drie en half jaar) is byna gehalveer: Van 3,5% in 2019 tot 1,8% in 2022/23,nadat dit ʼn bemoedigende hoogtepunt van 5,2% gedurende die Covid-19-pandemie bereik het.

“Die mate waarin die pandemie entrepreneurskapvlakke beïnvloed het, bly kompleks,” sê Bowmaker-Falconer.

“Inperkings en verwante beperkings het die manier waarop mense gewerk het ernstig ontwrig en handel en markte negatief beïnvloed, wat druk op ekonomieë wêreldwyd geplaas het. Terselfdertyd het hierdie krisis probleme gebied wat opgelos moet word, met baie nuwe en gevestigde besighede wat geleenthede aangeryp het.”

Hoewel dit entrepreneurskapsyfers laat styg het, was al hierdie nuwe ondernemings egter nie suksesvol of volhoubaar nie en kon baie nie in ʼn post-pandemiese landskap oorleef nie.

Die vooruitsigte van nuwe ondernemings om mense in diens te neem, het ook afgeneem.

In 2019 het drie uit tien nuwe sake-eienaars verwag om ʼn bykomende ses mense of meer werknemers in die volgende vyf jaar in diens te neem. Dit het 2022 egter tot twee uit tien gedaal, wat die algemeen swak ekonomiese toestande en ongunstige entrepreneursomgewing weerspieël, sê Bowmaker-Falconer.

Die 13 voorwaardes waaraan Suid-Afrika moet voldoen om ʼn gunstige entrepreneursomgewing te wees, maar tekortskiet, sluit onder meer die volgende in:

  • Beskikbaarheid en maklike verkryging van finansiering vir nuwe ondernemings;
  • Ondersteunende regeringsbeleid en programme;
  • ʼn Oormaat belasting- en administratiewe rompslomp;
  • Vlakke van opleiding vir entrepreneurs;
  • Infrastruktuur en dienste;
  • Markdinamika en -regulasies;
  • ʼn Kultuur wat entrepreneurskap aanmoedig en vier.

Dít is alles faktore wat die begin van nuwe ondernemings kan knou óf bevorder. Hoewel Suid-Afrika tog vordering met van die voorwaardes gemaak het, vereis dit dikwels meer ondersteuning of medium- tot langtermyningrypings soos ʼn beleidsverandering, verbetering van infrastruktuur, beleggings en dies meer.

“Entrepreneurskap bly ʼn noodsaaklike ekonomiese en sosiale hefboom om die ekonomie te laat groei en werk te skep. Dit is ʼn dringende behoefte in Suid-Afrika, gegewe die hoë vlakke van ongelykheid en werkloosheid, en die behoefte om die pas van ekonomiese en sosiale transformasie na ʼn inklusiewe samelewing en ekonomie te versnel,” lui die verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wondermaarnet ·

Nee, dit is nie net oor Covid nie, maar die ANC wat mense forseer om sekere mense aan te stel.

Carel ·

Daar is ‘n REUSE verskil tussen ‘n Entrepreneur & ‘n “Tên-da preneur.
Die een verg harde werk & deursettings vermoë & die ander is ‘n parrasiet wat die ekonomie verwoes.
Die een skep werk, welvaart & voorspoed & die ander suig die lewe uit die ekonomie

Lizanne ·

Ek stel gladnie belang om werk te skep nie… mense wil nie dink nie… vakbonde… rassehaat en “diskriminasie”.
Nee wat indien ek iets sou begin sal ek dit self hanteer en slegs my gesin wat help… geen buite mense nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.