Minder kwaai rentekoersverhoging dalk op hande

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ekonome glo nóg ʼn repokoersverhoging is op hande.

ʼn Verhoging van 25 óf 50 basispunte word Donderdagmiddag verwag nadat die Reserwebank se monetêre beleidskomitee (MBK) die repokoers tydens sy afgelope drie vergaderings elke keer met 75 basispunte verhoog het.

Die komitee vergader vandag vir die eerste keer vanjaar en Investec se vooruitskatting is dat die repokoers waarskynlik met 50 basispunte van die huidige 7% tot 7,5% verhoog sal word.

Die meeste (14 uit die 15) ekonome in ʼn Bloomberg-peiling verwag ook dat die repokoers ná vandag op 7,5% sal staan.

Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen en beteken dat Suid-Afrikaners minder of meer rente op hul lenings betaal. Beleggers kry egter meer opbrengste met ʼn hoër repokoers.

Investec sê ʼn verhoging van 50 basispunte sal egter in die toekoms probleme vir die MBK skep.

“Die konsensus en MBK se voorspelling is dat inflasie teen die derde kwartaal van vanjaar in die middel van die teikenband sal wees. Tensy die komitee voor dán met ʼn verlaging in koerse kom, sal korttermynrentekoerse in Suid-Afrika op die hoogste vlak in ʼn dekade wees.”

Investec voorspel dat inflasie teen Junie weer in die middel van die Reserwebank se teikenband sal wees. Dié  voorspellings verskil nie wesenlik van dié van die ander ekonome en die Reserwebank nie.

Investec sê ook daar is ʼn goeie kans dat die bank die koers met 25 basispunte aanpas, of selfs glad nie ʼn verhoging instel nie.

“Indien hy dit met 50 basispunte verhoog, gaan dit waarskynlik nie lank wees voordat hy die koers omkeer nie.”

  • Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, sal die aankondiging Donderdag om 15:00 doen. Hou Maroela Media dop vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Verbaas ·

Minder kwaai? Dit is nog steeds n verhoging wat die sukkelende burgers gaan tref. Dit help nie om die houe sagter te probeer maak nie.

Pierre ·

Verhoogde Kos, Verhoogde Munisipale rekeninge, Verhoogde Krag, Verhoogde petrol, Verhoogde rentekoerse, Verhoogde versekering, verhoogde skoolgelde, verhoog verhoog verhoog maar inkomste krimp elke jaar met salaris verhogings wat geen sins trend hou met inflasie nie, maar alle ander verhogings is ver bo inflasie.

Koos 100 ·

Verwag jy hoegenaamd enige iets anders van ‘n regering wat 50% van hulle inkomstes weggee aan burgers wat kinders kry wat hulle nie kan bekostig nie en ander wat nie wil werk nie? Dan word die ander 50% gekanaliseer na sinkende SBE’s en sakke van die elite.

Wondermaarnet ·

Vat verdomp alles! Alles is in sy maai en dan word mens weer gestraf met ‘n verhoging. Verlede jaar het die rentekoers 5x gestyg.

Koen ·

Maar ons gaan hou luukse vakansies, ons drink, ons rook, ons “keep up with the Jone’s, en leef op skuld. Kan niemand meer behoorlik beplan nie?????

Mnr De Beer ·

Watse beplanning kan daar gedoen word met rekord hoogte wekloosheid syfer? Rente koers wat net opgaan maar klein verhogings op salarisse. Daar is baie wat wens hulle kon beplan en begroot. Dan leef meeste mense van die hand na die mond. Wat nog enigsins praat van keep up with the Jone’s. Ons is nog gelukkig om nog Maroela Media te kan lees en kommentaar te kan los.

Elma ·

TAP die verbruiker. Dis al wat julle kan regkry. Om die mens verder te verarm. Asof dit nou ONS skuld is dat die land in sy maai is.

Willem Wikkelspies ·

Swak opskrif. Noem dit wat dit is. ‘NOG ‘n verhoging!’. Moet nie probeer om dit te laat goed klink nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.