Minder sterf dié Kersvakansie op paaie

‘n Noodlottige ongeluk op die N2. (Foto: Facebook: Mavundathanda Ray-ray Michael)

Slegs 25 minder sterftes is oor die afgelope feestyd op die land se paaie aangeteken, maar volgens die minister van vervoer skets hierdie statistieke geensins die volledige prentjie van die werklike situasie nie.

Toestande op die meeste van die land se paaie was eintlik van só ʼn aard dat daar veel meer sterftes verwag sou kon word, maar volgens min. Sindisiwe Chikunga het volgehoue pogings om padsterftes te verminder, eindelik vanjaar vrugte afgewerp.

Chikunga het Woensdag die voorlopige padsterftesyfer vir die tydperk tussen Desember verlede jaar en Januarie bekend gemaak.

Luidens die statistieke was daar slegs ʼn dalings van 1,7% in sterftes in hierdie tydperk, wat die getal sterftes op 1 452 te staan bring.

Sy sê die afgelope feestyd is gekenmerk deur swaar reënval en verwoestende storms wat verskeie uitdagings tot gevolg gehad het.

“Ongelukkig het sommige motoriste nie hul spoed op die nat en gladde paaie aangepas nie, en dit het tot talle vermybare ongelukke gelei,” sê sy.

“In ander gevalle, soos in KwaZulu-Natal, het motoriste daarop aangedring om oor oorstroomde brûe te ry, wat veroorsaak het dat hul motors wegspoel.”

Dit was boonop een van die besigste feestye op die pad: Altesame 168 000 meer geregistreerde voertuie was op die pad as in 2022-’23.

Die meeste ongelukke het in die eerste, derde en vierde week van die tydperk plaasgevind. Volgens Chikunga het die meeste mense reeds salarisse in die eerste week (1‑7 Desember) ontvang. Die derde week (15‑21 Desember) het ʼn langnaweek ingesluit, en was ook die tyd wat die meeste mense met vakansie gegaan het. Die vierde week (22‑28 Desember) was die week van Kersfees, wat ook ʼn langnaweek ingesluit en swaar verkeer op die paaie veroorsaak het.

Met die verloop van Desember het die verkeer so erg opgebou dat meer as 850 000 voertuie op 20 Desember op die pad aangeteken is.

Die meeste ongelukke het tussen 19:00 en 22:00 gebeur, maar die paaie was veral in die uur tussen 20:00 en 21:00 die gevaarlikste.

“Die meeste sterftes is op Sondae aangeteken, wat vanjaar ʼn nuwe tendens is,” het Chikunga gesê.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Daar was altesame 1 184 noodlottige padongelukke. Dit is nogtans ʼn 2,3%‑afname in die getal noodlottige padongelukke wat tydens dieselfde tydperk in 2022-’23 aangeteken is.

Chikunga het hierdie afname toegeskryf aan die “verskerpte wetstoepassing en hoë polisiesigbaarheid landwyd”.

“Meer as 1,4 miljoen voertuie is oor die afgelope feestyd voorgekeer en deursoek en dit het tot die inhegtenisneming van 7 820 motoriste gelei. Dié bestuurders is vasgetrek vir onder meer bestuur onder die invloed van alkohol, nalatige en roekelose bestuur of oormatige spoed.”b

ʼn Spoedvraat is in Limpopo in hegtenis geneem terwyl hy teen 225 km/h gery het.

ʼn Motoris is in die Oos-Kaap vasgetrek nadat hy die wetlike alkoholvlak ver oorskry het deur 2,48 mg te toets.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Sedert 2018 het die getal padsterftes jaarliks afgeneem. Die getal jaarlikse padsterftes in die vyfjaartydperk het van 12 921 tot 12 436 afgeneem, wat ʼn afname van 485 verteenwoordig.

Chikunga het egter gesê die padsterftes die afgelope feestyd is meer as net statistiek, maar “mense wie se hoop op ʼn toekoms verpletter is”.

Sy het gesê dié individue sluit onder ander ʼn parlementslid, Alice Mthembu, in; twee mediese dokters van KwaZulu-Natal; ʼn verkeersinspekteur van Limpopo wat deur ʼn motoris getref is wat die spoedgrens op die N1 oorskry het; asook ʼn pasgetroude vrou wat slegs sewe dae ná haar troue dood is.

“Hulle was broodwinners, beroepslui, ma’s, pa’s en kinders wat hul lewe verloor het oor onnodige, roekelose en nalatige gedrag op ons paaie,” het Chikunga gesê.

“Hoewel ons besef dat waardevolle vordering gemaak is, is daar steeds ʼn lang pad wat voorlê wat vennootskappe, hulpbronne en die bevordering van padveiligheidsnavorsing sal verg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Antoinette ·

Niks om op trots te wees nie. Dit moes 0 gewees het , maar met toestand van paaie en gekoopte lisensies wat verwag mens dan nou. Hierdie regering het geen beheer oor enigiets nie.

Marous ·

Stem saam Antoinette . Die wetstoepassing is pateties. Die howe se vonnise vir die wat wel aangekeer word skrik nie potensiele moordenaars af nie.

Theo ·

Hoeveel van die ongelukke is veroorsaak deur taxi’s of waar taxi’s by betrokken was

Helena ·

1.4 miljoen voorgekeer…. 7 820 In hegtenis geneem…. Wonder hoeveel “bribe geldjies” is ingekatrol met die balans? Heel moontlik 50% daarvan!

lizzybez ·

Ek stem saam met die kommentare al gelewer, maar dit is nie net as gevolg daarvan nie. Ons was Oos-Kaap toe en die 28ste toe ons teruggekom het, was dit baie reenerig, maar dit het nie mense afgeskrik met die groot en vinnige voertuie nie. Daar was ‘n gedeelte wat ons omtrent 30km agter ‘n trok gesit het omdat jy nie ‘n duit voor jou kon sien om verby te gaan nie, as gevolg van die water wat die trok se wiele op waai, maar ons en die trok is verby gevat deur voertuie teen ‘n spoed wat my hare laat rys het. En dan is daardie voertuig vol mense, en veral kinders. Ek kon partykeer nie my oe glo om te sien hoe en waar mense kanse vat nie. Het daardie pa of ma wat bestuur nie die verstand om te kan dink as jy ‘n uur later by jou bestemming aankom gaan dit nie so erg wees nie, maar ten minste gaan jy daar kom. Dink aan jou mense saam met jou in die kar man, en aan die ander mense op die paaie. Ek het net toe besluit dit is die laaste keer dat ek weer op so lang pad ry, nee wat, mense het geen respek vir ander se lewens of hulle en veral nie vir hulle eie mense in hulle karre nie.

Elize ·

Minder gesterf op paaie omdat daar minder was op die paaie. Ons is so verarm dat jy nie meer met vakansie kan gaan nie.

Karina ·

Ek stem saam met julle – Elize het die spyker op die kop geslaan. Minder mense op paaie omdat daar nie geld is om met vakansie te gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.