Minister se uitlatings oor taxi-staking ‘doelbewuste aanval op DA’

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Die DA in die Wes-Kaap sê die minister van vervoer het ʼn “doelbewuste disinformasie”-veldtog van stapel gestuur toe sy haar oor die Kaapse metro se verkeersverordeninge en die invloed wat dit op minibustaxi’s se bedrywighede het, uitgespreek het.

Dr. Chris Hunsinger, die DA se woordvoerder oor vervoer, sê minister Sindisiwe Chikunga se uitlatings is ʼn “direkte aanval op die DA” wat boonop “geen wettige standpunt” het nie.

Chikunga het Dinsdag aangevoer dat die Stad Kaapstad se verkeersverordeninge die rede is waarom minibustaxi’s op groot skaal geskut word. Sy het verder ʼn beroep op die metro gedoen om dié regulasies te laat vaar en alle taxi’s wat geskut is aan hul eienaars terug te besorg.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het in reaksie bevestig dat nie een taxi ingevolge die stad se verkeersverordeninge geskut word “soos die minister valslik beweer nie”.

“Alle minibustaxi’s wat in die metro geskut word, word vir oortredings ingevolge die Wet op Nasionale Landvervoer gedoen,” sê hy.

“Kaapstad sal voortgaan om hom te onderskei ​​as ʼn voorbeeld van ʼn stad wat werklik die nasionale wette van die land implementeer. Ons sal nooit pendelaarsveiligheid in gevaar stel deur ons blind te hou vir oortredings op ons paaie nie.”

Kaapstad se verkeersverordeninge is onlangs gewysig sodat private voertuie ook vir verskeie ernstige oortredings geskut kan word. Alle openbare voertuie word steeds onder nasionale wette hanteer.

“Die Wet op Nasionale Landvervoer is deur die nasionale regering ingestel om openbare vervoer te reguleer. Dit is nie die stad se wetgewing nie, en dus is die minister se oproep om die geskutte taxi’s weer aan hul eienaars terug te besorg in stryd met die einste wetgewing wat die nasionale regering ingestel het,” sê JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid.

“In Kaapstad het ons ons verkeersverordeninge gewysig om gelykheid te bring ten opsigte van die voertuie wat geskut word sodat ons ook private eienaars aanspreeklik kan hou vir ernstige oortredings wat lewens in gevaar stel.

“Die direktoraat van veiligheid en sekuriteit het oor die jare baie betekenisvolle verbintenisse met die taxi-bedryf gehad, en sal voortgaan om dit te doen, maar nie totdat die geweld heeltemal opgeskort word nie.”

Kaapstad word sedert verlede week deur gewelddadige stakings deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) lamgelê. Dienste en sakeondernemings se bedrywighede is ontwrig, terwyl vyf mense reeds weens geweld tydens die stakings dood is.

Geweld ‘verpolitiseer’

(Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Volgens Hunsinger was Chikunga se uitlatings ʼn berekende poging om ʼn sensitiewe situasie te verpolitiseer.

Hy voer aan dat die provinsiale regering en die metro by verskeie geleenthede hulself beskikbaar gemaak het om met die minister te konsulteer oor die stakings in Kaapstad.

“Die minister het egter gekies om nie dit te doen nie, en sodoende bygedra dat die staking meer gewelddadig raak.”

Chikunga het glo ook Hunsinger se uitnodiging van die hand gewys om van die geskutte voertuie te besoek om die wettigheid daarvan vas te stel.

“Haar versuim om haar teen die stakings uit te spreek of op te tree, dui op ʼn opportunistiese benadering om verwarring vir politieke gewin aan te wakker.”

Hunsinger sê dit is duidelik dat Chikunga die “provinsie wat die beste bestuur word” probeer ondermyn voor volgende jaar se nasionale verkiesing.

“Hierdie politiekery bring nie net die stabiliteit van die vervoersektor in gedrang nie, maar ook die breër welsyn van ons gemeenskappe.”

Die DA voer aan dat die minister van vervoer verantwoordbaar gehou moet word “vir haar afwesigheid en rol in die eskalering van die krisis”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jasmyn ·

Taxis maak landswyd net wat hulle wil. Mens is te bang om naby hulle te ry want hulle is ongeskik, swaai voor enige voertuig in wat hulle wil, ry oor rooi verkeersligte, jaag aan die linkerkant in die geelstreep in die paaie af, toet vir jou om te ry as hulle agter jou staan by ń rooi lig, stop in die middel van ń bewegende baan om pasasiers op te laai en blok sodoende besige verkeersvloei om hulself te bevoordeel. Almal probeer by die werk en huis kom en gehoorsaam steeds die verkeersreëls, maar taxi’s beskou hulself as verhewe bo wetgewing en padreëls…. Hulle het ook die reg om mense van hul motorfietse af te ry, oor sypaadjies te jaag en enige ander voertuig en voetganger te ignoreer soos dit hulle pas. Ander voertuie en voetgangers moet voortdurend op hul hoede wees as ń taxi naby is. Suid-Afrika is een van die mees onveiligste lande ter wêreld… en taxi’s een van die grootste oorsake hiervan. Ek wens taxi’s kan net van die paaie af verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.