Misdaadsyfers: Polisie se plaasmoordsyfer bevraagteken

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se statistieke oor plaasmoorde vir die tweede kwartaal van 2023 blyk verkeerd te wees.

Volgens die polisie se syfers is slegs 14 mense in dié tweede kwartaal op plase vermoor. Die burgerregteorganisasie AfriForum het egter net vroeër vandeesweek sy statistieke bekend gemaak wat aandui dat 24 mense gedurende hierdie tydperk op plase vermoor is.

“Of dit onbevoegdheid of kwaadwilligheid deur die SAPD is, kan ek nie sê nie, maar dit is uiters kommerwekkend dat die polisie nie rekord kan hou van misdaadstatistieke nie. Elkeen van die moorde waarvan AfriForum rekord gehou het, is geverifieer,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid.

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, sê óók die polisie se statistieke is uiters problematies. Cameron het op Twitter gesê die polisie se laer moord-en-aanvalsyfer is net té toevallig. Hy sinspeel daarop dat die regering moontlik ’n hand daarin het.

AfriForum vermoed ook dit is ’n doelbewuste poging van die Suid-Afrikaanse regering om die erns van plaasaanvalle af te maak.

“Eerstens het ons ’n president wat voor internasionale media ontken het dat plaasmoorde plaasvind en nou blyk dit ons het ’n polisiediens wat die kwessie probeer afmaak deur feitelik verkeerde data aan te meld,” sê Broodryk.

Die VF Plus het intussen gesê dat plaasmoorde en -aanvalle tot prioriteitsmisdaad geklassifiseer moet word.

Die politieke party verwys na Vrystaat Landbou (VL) se jongste statistieke wat toon dat sowat 230 plaasaanvalle tussen April 2019 en Mei 2023 in die Vrystaat plaasgevind het. Altesaam 54 slagoffers is gedurende hierdie aanvalle vermoor.

Slegs 36 verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die aanvalle en slegs vyf beskuldigdes in plaasmoordsake is die afgelope vier jaar aan moord skuldig bevind.

Jan van Niekerk, die VF Plus se provinsiale leier in die Vrystaat, sê dié party eis al vir etlike jare dat plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad verklaar moet word aangesien hierdie misdade gewoonlik verwikkeld en met spesifieke eienskappe is.

“Daarom sal kundiges met die nodige ervaring en opleiding die misdade meer doeltreffend kan ondersoek. Dit sal ook die nodige hulpbronne beskikbaar stel om voorkomende optrede moontlik te maak.

“Die goeie samewerking wat tans tussen boeregemeenskappe en veiligheidstrukture heers, moet gefasiliteer word deur ’n gespesialiseerde eenheid in die polisie sodat strategieë ontwikkel kan word om die veiligheid van boere en plaaswerkers te bevorder, veral waar hierdie stelsels nog nie ingestel is nie.

“Dit is duidelik dat landelike beveiliging nie ’n prioriteit vir die ANC-regering is nie. Hierdie soort misdaad moet egter nou tot prioriteitsmisdaad geklassifiseer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.