Misdaadsyfers: Vroue, kinders nie veilig tuis

(Argieffoto: pixabay)

Hoewel daar die afgelope drie maande ʼn daling in misdaad soos moord, sakerooftogte en pogings tot seksuele oortredings was, wys die jongste misdaadsyfers dat die “oorlog” teen vroue en kinders voortduur.

“Vroue en kinders byt steeds die spit af weens geweld, soos gesien kan word in die skokkende toename in moord, poging tot moord en ernstige aanranding in vergelyking met ʼn jaar tevore,” sê Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie.

Die misdaadsyfers vir die tydperk Mei tot Junie is Vrydag bekend gemaak.

Dit wys onder meer op die 9,8 vroue wat elke dag vermoor word, asook die 3,2 kinders wat daagliks vermoor word.

Ernstige aanranding op vroue het ʼn styging van 9,7% sedert verlede jaar ondervind, terwyl daar ʼn styging van 15,3% in voorvalle van poging tot moord op kinders was.

Nog kommerwekkende syfers is die ses verkragtings wat by dagsorgsentrums aangemeld is, 55 verkragtings en sewe moorde in skole, vyf verkragtings by skole vir leerders met spesiale behoeftes, en twee moorde en drie verkragtings by tersiêre instellings.

“Dit is ʼn duidelike aanduiding dat wetteloosheid ons families en gemeenskappe beet het weens die vakuum wat geskep is deur onvoldoende polisiëring en ʼn verouderde polisiëringsbenadering wat nie die hele gemeenskap sinvol insluit nie,” sê Whitfield.

Dit blyk ook uit die beduidende toename in misdaad wat binne ʼn familiestruktuur aangemeld is.

Die polisie se syfers wys 3 917 verkragtings is by die huis van die slagoffer of oortreder gepleeg (meer as dubbel enige ander plek) en altesame 12 327 voorvalle van ernstige aanranding is by die slagoffer of oortreder se huis gepleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karoo ·

Is dit werklik net wetteloosheid…of is dit ook die verval van ons samelewing?

Prikkie ·

Dit is omdat die strawwe belaglik lig is. Lewenslank moet wees wat die woord sê, naamlik solank die skurk lewe.

Frank ·

Die oortreders kom uit die samelewing so ja, indirek dus ook die samelewing wat verval het in aanvaarding in plaas van optrede daarteen. Net soos polisie lede wat misdaad pleeg die hele polisie diens se gebrek aan dissipline en optrede teen oortreders blootle.

Johan ·

Elke keer is dit net n herhaling van lëe woorde…laat Bheki Cele sy pva bekend maak aan die publiek aangaande plaasaanvalle en moorde asook geweld teenoor vroue en kinders en sommer geweld in sy geheel,klink asof SA in n oorlog gewikkel is!?

marius ·

Niemand is nerens veilig nie. Die land het in anargie verval. Dis die waarheid.

Shakespeare ·

NIEMAND is velig in hierdie land waar ‘n bose regering in beheer is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.