Misdaadsyfers wys afwenteling van polisiëringsmag nóú nodig

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Twitter)

Die ellendige situasie waarin Suid-Afrika hom bevind, blyk duidelik uit die jongste misdaadsyfers, en talle meen dat ʼn verswakte polisiediens en -bestuur die rede is waarom misdaad kwartaal ná kwartaal styg.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê 70% van KwaZulu-Natal se taakmaglede het onlangs in ʼn kort tydperk die polisiediens verlaat. Van die redes vir die bedankings was swak salarisse, swak werksomstandighede en ʼn swak bevorderingsbeleid.

“Dit is redes wat regdeur die polisie geld, by alle spesialiseenhede tot op stasievlak,” sê hy.

“Kundige en bekwame lede wat die ruggraat van die polisie vorm, verlaat die diens terwyl korrupsie en ʼn verslegtende moraal toeneem.”

Daar is reeds net een polisielid vir meer as 420 lede van die publiek en polisiereserviste se getalle het weggekwyn tot net 3 500.

“Die regering het verlede jaar ʼn misdaadplan bekend gestel, maar soos die meeste planne word dit nie in die praktyk uitgevoer nie,” sê Groenewald.

Dít is waarom die burgerregteorganisasie AfriForum sê Suid-Afrika se enigste hoop om misdaad onder beheer te bring is om met “die afwenteling van polisiëringsmagte tot op provinsiale en streeksvlak” te begin.

“Dit is skokkend dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se leierskap geen werkbare oplossing vir die 75 daaglikse moorde en gepoogde moorde bied nie, en boonop steeds alles in hul vermoë doen om beheer van die SAPD op ʼn gesentraliseerde basis te hou.”

Sou die SAPD van sy magte begin afwentel, sal dit beteken dat provinsies en streke meer beheer oor die formulering van teenmisdaadstrategieë en die uitvoering daarvan sal hê.

“Om plaasaanvalle te bekamp verg byvoorbeeld ʼn geheel en al ander polisiëringsaanslag as om bendegeweld op die Kaapse Vlakte hok te slaan,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder van gemeenskapsveiligheid.

“Tog word oplossings vir uiteenlopende misdade geformuleer vanuit die gerief van ʼn sentrale hoofkantoor wat nie net geografies verwyderd is van die probleme nie, maar ook swaar dra aan burokratiese leierskap, teen ʼn slakkepas reageer op uitdagings en nie genoegsame grondvlakkennis het om misdaad doeltreffend te bekamp nie.

“Beheer oor polisiëring hoort nie in die hande van die korrupte ANC se sentrale magte nie, maar eerder in die hande van gemeenskappe. Dit is nou tyd om die SAPD se mag af te wentel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tsek! ·

Plaaslike beveiligings magte nodig – beskerm jou eie gemeenskap en dan sal jy n verskil sien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.