‘Misdaadvakansie’ vir SA tydens afsondering – Cele

Die minister van polisie, Bheki Cele. (Foto: GCIS)

Suid-Afrika se misdaadsyfers vir 1 April tot 30 Junie – terwyl die land op verskillende vlakke van afsondering was – skets volgens die minister van polisie, Bheki Cele, ʼn “rooskleurige prentjie van ʼn vreedsame Suid-Afrika wat ʼn misdaadvakansie beleef” het.

Cele het Vrydagmiddag die misdaadstatistieke vir dié tydperk bekend bemaak nadat die regering vroeër beloof het dat dit voortaan kwartaalliks gedoen sal word.

Die minister sê die daling in misdaadsyfers word grootliks toegeskryf aan die feit dat Suid-Afrikaners gehoor gegee het aan die oproep om tuis te bly en dat die omstandighede wat misdaad laat floreer, nie die normale was nie.

“Daar was ook baie meer stewels op die grond om groot polisiesigbaarheid en massagehoorsaamheid aan die Rampbestuurswet te verseker,” het hy gesê.

Geslagsgebaseerde geweld

Die statistieke wys ʼn daling in misdaad teen vroue en kinders op vlak 4 en vlak 5 van die afsonderingstydperk, hoewel die lae getal voorvalle van gesinsgeweld en seksuele misdrywe wat aangemeld is, moontlik toegeskryf kan word aan die feit dat slagoffers nie die geleentheid gehad het om van hul mishandelaars te ontsnap en die misdade aan te meld nie.

Volgens Cele het seksuele oortredings soos verkragting en seksuele aanranding in dié tyd met 39,7% gedaal.

MisdaadPersentasie
Verkragting-40,4%
Seksuele aanranding-35,9%
Poging tot seksuele oortreding-40,3%
Kontak- seksuele misdaad-36,2%

Die minister sê hoewel geen maklike oorwinning verklaar kan word nie en die omstandighede die afgelope paar maande allermins normaal was, is talle lewens desnieteenstaande gered.

Die polisie sal nou die datums waarop die misdade aangemeld is vergelyk met die datums waarop misdade gepleeg is en só probeer vasstel of die daling aan ʼn afname in aanmelding toegeskryf moet word.

Kontakmisdaad

Cele het ook weer die rol, wat drankgebruik in misdaadsyfers speel, benadruk.

“Dit kan duidelik gesien word in kontakmisdaad wat met 37,4% afgeneem het. Dit beteken daar was 53 891 minder voorvalle van moord, poging tot moord, roof en aanranding in vergelyking met dieselfde tydperk ʼn jaar gelede.”

Misdaad 
Moord-35,8%
Seksuele oortredings-39,7%
Poging tot moord-23,8%
Ernstige aanranding-41,0%
Aanranding-28,2%
Roof-49,8%
Roof met verswarende omstandighede-39,5%

Daar was ʼn afname in kontakverwante misdade wat bestaan uit brandstigting en opsetlike saakbeskadiging.

Cele sê Suid-Afrikaners was in hierdie tyd ook veiliger in hulle huise.

Huisbraak het met meer as 30% gedaal en motordiefstal was 53% minder as dieselfde tyd verlede jaar. Alle eiendomsverwante misdaad het met 29,1% afgeneem.

Inbrake by nie-residensiële persele het wel met 9,1% toegeneem. Talle sakeondernemings is weens die afsonderingsregulasies gedwing om hul deure te sluit en tuis te bly terwyl daar probeer is om die Covid-19-pandemie te stuit.

Misdaad 
Motorkaping-41,2%
Huisrooftog-23,2%
Rooftog by nie-residensiële perseel-34,5%
Transitorooftog-50%
Bankrooftog0
Vragmotorkaping-30,0%

Daar was egter ʼn kommerwekkende toename in die hoeveelheid aanvalle op skole en drankwinkels. Ingevolge die afsonderingsregulasies is daar ʼn verbod op drankverkope ingestel en skole was tydens groot dele van die afsonderingstydperk gesluit.

Altesaam 2 692 inbrake by onderrigfasiliteite is aangemeld en 1 246 drankwinkels is geteiken. Meer as 1 100 verdagtes is reeds in verband met hierdie voorvalle aangekeer.

Oortredings van die Rampbestuurwet

Cele sê byna 300 000 mense is tot dusver in hegtenis geneem en aangekla van oortredings van die Rampbestuurwet.

Altesaam 181 579 mense is op waarskuwing vrygelaat en 28 337 mense is skuldig bevind aan oortredings wat wissel van die onwettige verkoop of verspreiding van alkohol, onwettige byeenkomste of grense wat onwettig oorgesteek is.

“Ongelukkig sal die meeste van diegene wat in hegtenis geneem is misdaadrekords kry en dit is nie ons doelwit om Suid-Afrikaners te kriminaliseer nie. Dit is waarom die minister van justisie en korrektiewe dienste aan hierdie saak aandag gee.”

Talle polisielede het hulle in dié tyd glo ook skuldig gemaak aan misdadigheid en 163 polisielede is sedert die aanvang van die afsonderingstydperk in hegtenis geneem. Cele sê die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod) ondersoek bewerings van wreedheid deur die polisie en weermag tydens die afsonderingstydperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

katerinadiekat ·

Ja dis natuurlik nou as al die plaas aanvalle en plaasmoorde nie ingereken word nie. En dit word seer sekerlik Nie ingereken nie.

Persheks Adri ·

Regtig groot hoed? Dink jy rook iets wat nie lekker is nie moet beslis iets van kopdoek wees! Doffel, Babbel en Bekkie oe ee ee aikona ne

Kokerboom ·

Hierdie kader is juis die tipe persoon wat jy NIE as Min van Polisie wil hê!!!

Werner ·

Tyd dat wettige sigarette weer verkoop word Sien die onwettiges smokkel bietjie met die verstand

Mariana ·

So misdaad neem toe af, wonder of dit nou die brandstigters en vandale insluit en plaasmoorde en aanvalle sekerlik nie deel van daardie “statistieke” nie. Glo nie woord wat hy sê nie.

ZeldA ·

Nee ek dink hy vat n kans. Dis net sowel ek sê….. Die mense kon nie in vlak 5 polisiestasie toe gaan om misdade aan te gee nie…. Hul moes by die huis bly.

Johanncb ·

In watter land woon dié Minister? Het hy nog duime oor van al die suig?

Nie Verbaas ·

Hoor die nar. Dit is heeltemal teenstrydig met wat ons in nuus berigte sien en hoor.

Louis ·

Die man is besig om n nagmerrie te kry.iemand moet hom tog net wakker maak.hy droom verskriklik.

marius ·

Wit moord en aanvalle is nie misdaad nie . Dit is vakansie pret nie waar nie ploert .

Pieter J ·

Hierdie ou hou van twak praat. Wag amper spel ek dit verkeerd.

Chris ·

Ek staan glad nie meer verstom oor enige uitsprake van die bende nie. Die gesegde lui mos, Statistieke, Statistieke en Leuens. wat my egter dwars binne in die krop in steek is die mense se verwaandheidswaansin om te dink almal se ik’s in die land is die standaard gemiddelde van die bevolkins se 70. Haw Bo mfetu. U phumapi?

Andre ·

Ja, die kaders het seker vakansie beleef met die biljoene covid noodverligting om te verdeel.

Jan ·

Die werklikheid van die regering se dwase optrede met inperking word deur sulke afleidende uitlatings verdoesel. Armoede en gepaardgaande ellende gaan dertigmaal meer skade as die virus berokken en die negatiewe impak is veel erger as die effe laer misdaadsyfers. Misdaad vier egter steeds hoogty en Cele het niks om oor trots te wees nie, veral nie wat die etiek van sy polisiemag betref nie.

Kobus ·

Welgedaan mnr Cele allias John Wayne. Wat jy eintlik sê is dat jou polisiemag onbevoeg is om misdaad te voorkom en dat jou sukses daaraan toe geskryf kan word dat jou beperkings op vryheid van beweging die resep is? Waarom het jy en jou kaders dan nog soveel sekuriteitswagte om julle? Waarom gebruik jy nie sommer konstabels om julle te beskerm nie? As jy wakker skrik is jou koffie reeds koud. Dalk moet ons julle die Mr Bean Brigade noem

Antoinette ·

Het die man ‘n polisie-agtergrond gehad voor hy minister geword het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.