‘Mobiele kragbronne’ onttrek oor brandgevaar

Die Nasionale Verbruikerskommissie het ʼn beroep gedoen op mense wat ʼn Gizzu- mobiele herlaaibare batterykragbron gekoop het om die gebruik daarvan dadelik te staak en die produk terug te neem na die kleinhandelaar waar dit gekoop is.

Die kommissie sê die invoerder en verspreider van die kragpunt, Syntech Distribution, het die kommissie ingelig van ʼn vrywillige onttrekking van die produkte weens ʼn moontlike brandgevaar.

Die moontlikheid bestaan dat die kragbron aan die brand kan slaan terwyl dit herlaai word.

Die kragbron word uit China ingevoer en is deur Takealot, Builders Warehouse, Makro, Incredible Connection en Hifi Corp verkoop.

“Die geraakte toestelle het ʼn vervaardigingsfout in die battery wat die moontlikheid veroorsaak dat dit spontaan aan die brand kan raak en smelt wanneer dit laai. In gevalle waar die produk se battery wel aan die brand raak, word ʼn nie-giftige gas vrygestel, wat ʼn brandgevaar vir meubels kan inhou,” lui die kommissie se waarskuwing.

Suid-Afrikaners, wat in hierdie stadium sit met wisselende fase 3- en fase 4-beurtkrag, maak gebruik van verskeie produkte in ʼn poging om self die ligte aan te hou.

Syntech beskryf die produk op sy webwerf as die ideale oplossing vir noodgevalle, kragonderbrekings, kampering of vir klein toestelle wat krag nodig het.

Thezi Mabuza, waarnemende nasionale verbruikerskommissaris, sê hoewel die verskaffer aanvoer dat die onttrekking net ʼn klein getal eenhede raak, is die veiligheid van Suid-Afrikaanse verbruikers ten alle tye die grootste prioriteit.

“Die onttrekking kom te midde van die uitwerking van voortslepende beurtkrag wat Suid-Afrikaners moet trotseer en hul pogings om dit te omseil,” sê Mabuza.

Na raming is sowat 3 500 van die eenhede verkoop.

  • Klik hier om te sien of jou Gizzu-toestel geraak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois ·

My Gizzu werk soos n bom (darem nie letterlik nie) Dis n fantastiese produk, en baie betroubaar na 1,5 jaar. Net jammer die verkopers vra skielik so duur vir die produk, omdat ons almal onder loadshedding sukkel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.