Moedertaalonderrig wérk – Motshekga

Minister Angie Motshekga (Foto: Fikile Marakalla/GCIS)

Moedertaalonderrig stel leerders in staat om op ʼn dieper vlak met die vakmateriaal kennis te maak en dit bemagtig hulle weer om die wêreld om hulle met groter begrip en entoesiasme te verken.

Só het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Donderdag op ʼn konferensie van die departement van basiese onderwys oor taalbeleid gesê.

Die konferensie – wat fokus op die uitbreiding van moedertaalonderrig tot gr. 6 – is in Kempton Park gehou.

Volgens Motshekga bevestig navorsing wêreldwyd dat leerders die beste leer en akademies presteer wanneer hulle in hul moedertaal onderrig word.

“Dit verbeter hul kognitiewe vermoëns, bevorder beter onderwyser-leerder-verhoudings en verhoog hul algehele akademiese prestasie. Boonop help moedertaalonderrig leerders om hul linguistiese erfenis en identiteit te behou en sodoende hul lewe en gemeenskappe te verryk,” sê die minister.

Sy sê veeltaligheid in klaskamers is nie net ʼn taalbeleidkwessie nie, maar “’n geleentheid om leerders te bemagtig, hul verstand te verryk en ʼn gevoel dat hulle iewers behoort te kweek”.

“Terwyl Engels en Afrikaans reeds lank as onderrigmedium gebruik word, moet ons die belangrikheid daarvan erken om Afrikatale as leer- en onderrigtale te inkorporeer. Hierdie tale bevat ʼn rykdom van waardes, kennis en vaardighede wat die ontwikkeling van ons nasie en vasteland kan versnel.

“In ons diverse en kultureel ryk nasie is taal nie net ʼn kommunikasiemiddel nie, maar ʼn weerspieëling van ons identiteit, erfenis en gedeelde menslikheid.”

Die minister het in haar toespraak die Oos-Kaapse departement van onderwys se Moedertaalgebaseerde Tweetalige Onderwys (MTBBE)-projek uitgelig, wat sedert 2012 van gr. 4 vir wiskunde, natuurwetenskap en tegnologie toegepas word.

Altesame 2 015 skole in al 12 distrikte in die provinsie neem aktief aan die projek deel. Dit stel leerders in hierdie skole in staat om alle inhoudsvakke tot en met gr. 8 in hul moedertaal te leer.

Volgens Motshekga is die resultate van die MTBBE-projek merkwaardig: dit wys dat kinders wat moedertaalonderrig ontvang akademies goed presteer.

“Navorsing het getoon dat MTBBE-leerders in gr. 5 beter as hul nie-MTBBE-eweknieë in wiskunde gevaar het, met eersgenoemde leerders wat ʼn gemiddeld van 53% behaal het teenoor laasgenoemde se gemiddeld van 40%. Die MTBBE-leerders se gemiddeld in natuurwetenskap en tegnologie was 70%, teenoor die nie-MTBBE-leerder se 50%-gemiddeld.”

“Hierdie strategie is ʼn ideale voorbeeld van hoe taal ingespan kan word om ons leerders te bemagtig en hul opvoedkundige ervaring te verbeter.”

Engels bly belangrik

Motshekga sê terwyl die departement die bevordering van Afrikatale in die basiese onderwysstelsel beklemtoon, moet die beduidende rol wat Engels in vandag se onderling gekoppelde wêreld speel, steeds erken word.

“Dit is duidelik dat die Engelse taal ontwikkel het tot ʼn wêreldwye kommunikasiemiddel wat grense en kulture oorskry. Volgens die British Council praat ongeveer 1,75 miljard mense, ʼn kwart van die wêreld se bevolking, Engels. Dit word in laerskole regoor China as vak aangebied en dien as die werktaal van die hele Europese Unie (EU). Verder beklee Engels ʼn prominente posisie as een van die ses amptelike tale van die Verenigde Nasies (VN), wat die belang daarvan in internasionale diplomasie beklemtoon.

“Dit is die taal wat wêreldwyd die meeste bestudeer word, gevolg deur Frans. In Afrika word 54 lande deur die VN erken, met 24 wat Engels as amptelike taal het, terwyl talle ander Engels as deel van hul opvoedkundige kurrikulum aanbied.”

In Suider-Afrika het Engels as die oorheersende onderrigmedium na vore getree en dit strek as taal veel verder as net ʼn kommunikasiemiddel.

“Dit het die lingua franca geword, wat Frans in diplomasie en Duits in wetenskapskringe verdring het. Boonop is dit deurslaggewend in wêreldhandel,” sê die minister.

In Suid-Afrika is Engels naas Zoeloe die tweede mees gesproke taal buite die huishouding, gevolg deur Xhosa. In die skoolstelsel speel Engels ʼn leidende rol as taal van leer en onderrig.

“Uit ongeveer 23 719 openbare skole in Suid-Afrika gebruik slegs 2 484 skole Afrikaans as onderrigtaal in enkel-, dubbel- of parallelmedium. Daarom is die ontwikkeling van Engelse taalvaardigheid noodsaaklik om algehele standaarde van onderrig en leer te verhoog.

“Terwyl ons deur die kompleksiteite van ons veeltalige landskap navigeer, moet ons die dubbele betekenis van die bevordering van Afrikatale erken terwyl ons Engelse taalvaardigheid handhaaf en verbeter.

“Deur hierdie gebalanseerde benadering kan ons ons leerders voorberei om te floreer in wêreld wat toenemend onderling verbind en divers is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Manie ·

Hoe nou hoe nou, Motshekga ry ‘n Uno? Eers wil julle Afrikaans uit skole verban en net Engelse onderrig gee, maar noudat julle kinders soos vlieë dop en die 30% nie werk nie, nou is moedertaal onderrig weer tops? Hoe gaan moedertaal onderrig ingestel word sonder afsonderlike onderrig??

Charles ·

Ek kan enige werk doen met engelse boeke, want ek vertaal outomaties in my kop en weet wat hulle sê. Maar moet asb my nie vra om iets in Engels te leer nie. Gaan nie gebeur nie.

tweeling ·

So nou en dan “pop” daar ‘n “slimme” op in die kommentaar, eers gemaskerde sopbeen dan republikein en nou charles, dalk een en dieselfde persoon? Charles, vir sekere wetenskaplike terme is daar nie Afrikaanse woorde, so sterkte.

Charles ·

…Dan werk mens daarmee. Onthou, jou moedertaal is die taal waar jy die maklikste onthou wat jy lees. Wetenskaplike terme afkomstig van ander tale wat bygevoeg is werk mens mee óók. Die Duitsers swot in Duits, Die Hollanders Swot in Hollands. Ai jai jai…

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek en ek alleen is Republikein. En ek is slim, ja.

annie ·

Afrikaans word uitgedruk en Afrikaanse skole oorgevat. Die mister wil nou voorgee Afrikaners staan hul skole verniet af.

Ansie ·

Hulle kom dit nou eers agter nadat kosbare jare vir kinders vermors is agv sg. raskwessies tov moedertaalonderrig. Die gebrek aan logika en “common sense” is verstommend.

JohanR ·

Jammer Angie maar Lesufi stem nie met jou saam nie. As hy kon sou hy Afrikaans met ‘n wet doodmaak.

Danie ·

Vra maar net , kan engels nou nie maar die universiele taal bly? Om in jou moedertaal onderig te kry kan jou dalk help om te leer maar my vraag is hoe gemaak as jy in die breë samelewing jou eie taal wil gebruik en ek verstaan jou nie, hoe dan verder?

Nettie ·

Al gehoor van die konsep van meertaligheid, Danie? Aldus, Engels addisionele taal. Dan leer jy hoe om in 2 of meer tale te kommunikeer. Met die internet, is kinders vandag bykans net so goed in Engels as wat hul in hul moedertaal Afrikaans is.

Die probleem kom in wanneer jy ‘n Xhosa-kindjie wiskunde in Engels probeer leer in graad 1.

SwartBees ·

Hoekom as ons immegreer moet ons n engelse toets aflê om te sê ons kan ingils hoor, praat, lees en skryf. Hoekom word ons engels nie oorsee erken nie?

skurweberg ·

Dit help nie om die wiel weer uit te vind nie. Skade is reeds gedoen. Onreg teen julle eie mense.

Papsak ·

Hulle vat mos alles oor en dryf ons kinders uit maar afrikaans is mos sleg nou hoe nou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.