‘Moeilike kind’ kry nie plek in skole

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

“Ek verstaan dat skole nie die risiko wil waag om ons seun in te neem nie, maar waar laat dit ons en ons kind?”

Só het ʼn moedelose ma van Middelburg in Mpumalanga aan Maroela Media gesê nadat nóg ʼn openbare laerskool op die dorp onlangs aangedui het dat hy ter wille van ander leerders nie die kans kan waag om hul 12-jarige seun by die skool in te skryf nie. Die seun sukkel met ernstige gedrag- en sielkundige probleme.

Dié gesin werk al ongeveer vyf maande saam met ʼn maatskaplike werker om die nodige hulp vir hul seun te kry en hom weer in ʼn skool te plaas, aangesien hy skoolpligtig is en tans al hoe verder agter raak. Die gesin se name word weerhou om die identiteit van die seun en hul ander kinders te beskerm.

Dit blyk nou daar is landwyd ʼn ernstige tekort aan skole en hulpbronne vir kinders met gedragsprobleme.

Die 12-jarige seun is tans op ʼn waglys by Boystown in Pretoria, hoewel hy nie van ʼn plek in dié verbeteringskool gewaarborg is wanneer sy naam wel opskuif nie.

ʼn Witbankse skool vir kinders met leerprobleme het vandeesweek gesê hy sal die seun dalk kan akkommodeer, maar eers in die nuwe jaar. Intussen ontvang hy geen amptelike onderrig nie.

“Weens probleme met sy gedrag in die klaskamer asook uitdagings met sy geestesgesondheid het ons hom vroeër die jaar tydelik uit die skool gehaal sodat hy die nodige behandeling kon ontvang.

“Die skool het ons tegemoetgekom en sy skoolwerk huis toe gestuur. Meeste van die tyd het hy egter volstrek geweier om tuis te werk, maak nie saak hoeveel ons gesoebat en gesmeek het nie.”

‘Bang vir my kind’

Die ouers het die skool in dié tyd saam met hul maatskaplike werker gaan sien om sy gesondheid te bespreek, maar ook omdat hulle bekommerd was oor die veiligheid van ander leerders. Dít nadat die seun al verskeie kere tuis gedreig het om sy ouers en sussies met ʼn skêr, mes of skroewedraaier te steek.

Hy het al verskeie aggressiewe uitbarstings by die huis gehad en selfs al sy ma en ouma aangeval.

Die vrou se man werk in ʼn ander provinsie en is net sommige naweke tuis.

“Ek het net gevoel dis my plig om die skool ten volle in te lig. Netnou gebeur daar iets met ʼn ander kind.”

Die skool het eindelik besluit die risiko is te groot om die seun verder daar te laat skoolgaan – waarvoor die ouers ten volle begrip het.

Die gesin het hul seun op 11 maande in pleegsorg geneem en ʼn paar jaar later wettiglik aangeneem. Ernstige gedrag- en emosionele probleme het reeds vroeg kopuitgesteek en hy ontvang al vir die grootste deel van sy lewe behandeling by verskeie spesialiste. Verskeie soorte medikasie is aan hom voorgeskryf, wat gereeld aangepas moet word namate sy liggaam aan die medikasie gewoond raak en dit oneffektief maak.

Met uiters min hulpbronne in Mpumalanga het die gesin gehoop om hul seun vroeër die jaar in die Weskoppies-hospitaal in Gauteng te laat opneem, maar omdat hy nie in dié provinsie woon nie, wou die hospitaal hom nie aanvaar nie. Dit blyk ʼn algemene uitdaging te wees – al het die gesin verwysings van mediese kundiges en maatskaplike werkers.

ʼn Skool sowat 40 km buite Middelburg was bereid om hom ʼn kans te gee, maar bied nie busvervoer of koshuisverblyf aan nie. Die ma van die seun het tuisonderrig oorweeg, maar kan dit nie bekostig nie.

“Ons wil net die beste vir hom hê en wil hê hy moet die regte hulp kry. Ons weet nie meer wat om te doen nie.”

‘Algemene probleem’

Sonja van Niekerk, direkteur van die CMR in Mpumalanga, sê sy het vandeesweek ʼn konferensie van die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR) bygewoon waar daar herhaaldelik aangedui is dat daar ʼn ernstige tekort is aan hulpbronne soos skole, behandeling en terapie vir kinders met gedragsprobleme in gebiede waar hul maatskaplike werkers werksaam is.

Sy sê hoewel dit te verstane is dat skole huiwerig is om ander kinders bloot te stel, behoort kinders met gedragsprobleme sover as moontlik in hoofstroomskole opgeneem te word.

“Vroeër jare het ons kinders met gedragsprobleme na sogenaamde nywerheidskole verwys. In Mpumalanga was dit die George Hofmeyr School (slegs vir meisies) en Hoërskool Vaalrivier (slegs vir seuns) in Standerton.

“Vaalrivierskool funksioneer egter nie meer as ’n nywerheidskool nie, maar ’n skool vir kinders met leer-uitdagings. Dit word alleenlik deur die onderwysdepartement bestuur. Daar is tans geen fasiliteit in Mpumalanga vir seuns met ernstige gedragsprobleme nie.”

Van Niekerk sê daar word in die algemeen van provinsies verwag om dienste en hulpbronne aan die gemeenskap beskikbaar te stel, maar dat Mpumalanga nie ’n staatsinstelling het wat kinders akkommodeer wat psigiatriese behandeling benodig nie.

“Gespesialiseerde kindersielkundiges en -psigiaters is skaars in ons provinsie en dié dienste is boonop baie duur. Toeganklikheid is ook moeilik aangesien mense dikwels ver moet ry om by dié terapeute uit te kom.”

Aansoeke kan deur maatskaplike werkers by skole soos Boystown buite provinsies gedoen word, maar dis ʼn lang proses wat onderhewig is aan baie dokumentasie.

Behoefte aan vaardighede vir onderwysers

Die nie-winsgerigte kinderberadingsorganisasie Childline – wat takke landwyd het – sê daar is ook ʼn behoefte aan opleiding vir onderwysers om uitdagende gedragsprobleme by kinders beter te bestuur.

“ʼn Skoolomgewing is op onderrig en leer gefokus. Kinders met gedragsuitdagings het psigososiale ondersteuning nodig, wat nie standaard is in die opleiding van onderwysers of die leeromgewing nie,” het dr. Benita Nel, direkteur van Childline Mpumalanga, aan Maroela Media gesê.

“Onderwysers het beslis uitdagings om kinders met ernstige gedragsprobleme te bestuur en het gespesialiseerde vaardighede hiervoor nodig.”

Nel sê ouers moet van kleins af hul kinders se gedrag monitor en kundige hulp inwin sodra die kinders gedrag buite beheer raak. Dis is ook belangrik om vas te stel wat die gedrag veroorsaak en maniere te vind om die gedrag binne die eenheid van die gesin te hanteer, en die departement van onderwys te nader indien hulle probleme ondervind om kinders by skole in te skryf.

In ’n kort antwoord op Maroela Media se navraag het Jasper Zwane, woordvoerder van die onderwysdepartement in Mpumalanga, gesê dat alle ouers met kinders wat spesiale behandeling nodig het, die naaste departementele kantoor moet kontak om te verseker dat die kinders geëvalueer en na die toepaslike skole verwys word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Boer ·

Ek wil net graag die ouers aanmoedig. Ek het self so ‘n seun met gedragsprobleme, hy was van een skool na ‘n ander skool wat hom nie kon hanteer nie. Die sielkundige wat hom ondersoek het, het ook vir ons gesê hy gaan ‘n jeugmisdadiger word en in die tronk beland. Wel die skool waar hy nou is (Beleverder skool) het sy lewe omgedraai. Hy het die LSEN-skole met rugby verteenwoordig en vir die Valke LSEN-span Craven week gaan speel daar het hy die SA uitnodigingspan gekry en hy het Craven week by die makroskole gespeel. Hy is ook nou die onderhoof seun van die skool en doen sy Matriek. Baie mense het vir my gesê dat hy baie mooi maniere het en dat hy van plan is om professionele rugby te speel. Moet dus nie daaroor bekommer nie. Glo net en alles sal regkom. Sterkte en vind die regte skool.

pompies ·

Die arme onderwysers moet altyd instaan vir alles. Hulle het onderwyse geswat maar daar word verwag dat hulle ook psgiologiese dienste en dissipinere opleiding en wat nog moet doen, alles waarvoor hulle nie opgelei is nie. Ek voel baie jammer vir die ouers die seun en die onderwysers wat hier deur geraak word.

Marcello ·

Toepaslike skole !!! Wat waar vandaan kom???, daar bestaan nie sulke skole nie, maar as die Kinderwet nie die Kind so beskerm nie, kon ouers meer gesag uitoefen by die huis en Onderwysers by die skool. Maar waag jy dit as ouer/onderwyser om ‘n kind ‘n pak te gee, dan word jy inhegtenis geneem vir Kindermishandeling. Die regering het nuwe wette gemaak, en nou moet ouers/onderwysers daarmee saamgaan. Hoekom was daar nie, in my kinderjare “moeilike” kinders nie, want die antwoord is, jy was getugtig as dit nodig was….. Die kinders vandag toon geen respek teenoor ouers of onderwysers nie, want kyk jy net skeef vir hulle dan beland jy in die moeilikheid. En ek het slegte nuus vir hierdie ouers, as hy na Boystown toegaan, gaan hy erger word.

annie ·

… ‘n stiefkind? Nie alle kinders aanvaar die skok van verwerping nie. Baie raad en raat en die kind bly diep ongelukkig. Hartseer!!

Swerwer ·

Niemand, en veral nie die Onderwysdepartement of Regering besef watter groot verantwoordelikheid dit is om ‘n kind met “Spesiale afwykings/behoeftes” se plek in die samelewing daar te stel vir die kinders/persone nie. Die feit dat die ANC alle kinders in die Hoofstroom Onderwys wil/het plaas, asook erg verstandelik gestremde kinders/volwassenes , volwassenes en kinders met spesiale behoeftes, in die gemeenskap se sorg wil los laat weet/besef die onreg wat hul aan hierdie mense asook die gemeenskappe aanrig nie.
God het almal geskape en God oordeel nie tussen normale en gestremde mense nie. Waarom kan daar nie spesiale skole en nasorgsentrums met goed opgeleide personeel daar gestel word om hierdie spesiale mensies wat in ons mensdom se hande toevertrou is hul regmatige opvoeding en versorging te bied nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.