Moenie hiér swem nie

Die jaarlikse sardientjieloop lok talle toeskouers. (Foto: KZNSB/Facebook)

Inwoners en vakansiegangers aan die KwaZulu-Natalse kus is gewaarsku om nie by ʼn aantal strande in die provinsie te swem nie, aangesien haainette reeds vir die jaarlikse sardientjieloop verwyder is.

Die KwaZulu-Natalse Haairaad (KZNSB) het Donderdag aangekondig dat die sardientjieloop reeds aangebreek het. ʼn Aantal strande is vir dié geleentheid gesluit.

Tydens die jaarlikse sardientjieloop swem groot skole van dié vissies langs die kus op.

“Strande van Port Edward tot by Scottburgh is gesluit totdat die sardientjieloop verby is. Tot dusver is strande tussen Umgababa en Isipingo ook gesluit weens riviere wat oorstroom het en modderige seetoestande,” het KZNSB in ʼn Facebook-plasing geskryf.

“Indien hierdie slegte weer- en seetoestande voortduur is daar ʼn moontlikheid dat ons as ʼn voorsorgmaatreël ook ander strande aan die Noordkus sal moet sluit.”

Skole sardientjies beweeg jaarliks tussen Junie en Julie langs die Oos-Kaapse kus op na KwaZulu-Natal. “Hoewel sardientjies meestal aan die Kaapse kus gevang word, beweeg ʼn gedeelte van hierdie skole in die winter ooswaarts na warmer waters.”

Die KZNSB weet egter nie waarom die skole sardientjies jaarliks dié reis aanpak nie.

“Weens die groot massas visse word talle roofdiere soos haaie, dolfyne en voëls na die kus gelok. Dit is ook ʼn tyd wanneer vissermanne die see invaar met die hoop om met genoegsame sardientjies huis toe te kom.”

Dikwels word die sardientjies na die strande gedryf waar hulle maklik met mandjies en handnette gevang kan word.

“Dit is nie ongewoon om ʼn ouma te sien kompeteer met ʼn tiener vir haar porsie van die sardientjies nie. Soms ontaard dit in ʼn sosiale geleentheid waar toeskouers ook begin deel neem,” het die KZNSB gesê.

Suid-Afrikaners het reeds sardientjies begin vang met een sosialemediagebruiker wat hul aankoms op Twitter aangekondig het.

“Ons het nette vol gevang in Port Edward vanoggend. As jy nog nie die sardjientjieloop gesien het nie, maak plan,” het Twitter-gebruiker @brodie66051727 gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Sulke gratis sardiens smaak ongelukkig aaklig as dit in ‘n pan gebraai word… teenoor ingemaaktes in winkels, dit sal ek laasgenoende krediet gee. Die vernietgevoel verdoesel sekerlik die smaak by vissermanne.

Rudolph ·

Dit is nie ‘gratis’ nie, om onskuldige diere vir die pret of lekker smaak dood te maak het ‘n prys

Cherokee ·

Hopelik is jy ‘n vegetariër en nie net ‘n prater nie.

Rudolph ·

Verwysend na die foto.
Hoekom leer ons, ons kinders dit is aanvaarbaar om die see te plunder en ons weerlose, onskuldige medeskepsels dood te maak vir die ‘lekker smaak’ daarvan?
Hoekom span ons nette in die see wat aanlyding gee tot die onbedoelde lyding en dood van onskuldige diere omdat dit vir ons lekker is om in die see te baljaar? Ons is landdiere, kan ons nie die seediere en alle ander diere met vrede laat om maar net met hulle lewens aan te gaan nie?

Cherokee ·

Nie een van die duim-affe dra my vingerafdruk nie. Ek hoop jy is ‘n vegetariër en nie slegs prater nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.