Mogoeng, Oppenheimer invloedrykste in Afrika

Oud-foofregter Mogoeng Mogoeng. (Foto: REUTERS/Siphiwe Sibeko via African News Agency/ANA)

Die effens omstrede oudhoofregter Mogoeng Mogoeng, asook die miljardêr-sakeman Nicky Oppenheimer, word steeds as van die invloedrykste mense in Afrika beskou.

Dít volgens ʼn peiling deur Reputation Poll International, ʼn internasionale firma wat dienste in reputasiebestuur en openbare verhoudings bied. Die firma het Dinsdag sy jaarlikse lys van 100 mees gerespekteerde Afrikane bekendgestel.

Die lys vereer individue wat ʼn besonderse bydrae tot hul onderskeie velde soos menseregte, leierskap, vermaak en sakebedrywighede gemaak het. Luidens die RPI se webwerf is persone gemeet volgens hul integriteit, sigbaarheid en invloed.

Mogoeng het in Oktober 2021 die tuig neergelê, maar is in Februarie verlede jaar gedwing om verskoning te vra vir ʼn pro-Israelse uitlating wat hy tydens ʼn paneelgesprek in 2020 gemaak het. Oppenheimer, voormalige voorsitter van die De Beers-mynmaatskappy, word as die derde rykste man in Afrika beskou.

Carolyn Steyn (Foto: Verskaf)

Ook op die lys is die Suid-Afrikaanse aktrise Carol Bouwer. Sy is veral bekend vir haar rol in die sepie Generations en is uitvoerende hoof van Carol Bouwer Productions. Die filantroop Carolyn Steyn, stigter van 67 Blankets for Mandela Day en die vrou van die versekeringsmagnaat Douw Steyn, word ook as onder die top 100 invloedrykste Afrikane geag.

Ronald Lamola, minister van korrektiewe diens, is ook op die lys. Die lys is in alfabetiese volgorde en die persone op die lys se rangorde word nie aangedui nie.

Ander toonaangewende Afrikane op die lys is Abdulrazak Gurnah, Britse skrywer en professor wat oorspronklik van Tanzanië afkomstig is. Die president van Kenia, William Ruto, asook die president van Malawi, Lazarys Chakwera, verskyn ook op die lys. Sien die volledige lys hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Moegoeng is ook maar net ‘n wedergebore Christen waar dit hom pas. Hy het doodstil gebly oor regstellende aksie en BEE. Blykbaar is dié 2 vorms van rassisme teen wit mense en tot ‘n groot mate ook teen kleurlinge en Indiërs blykbaar reg, heeltemal aanvaarbaar, glad nie sonde nie en in lyn met Bybelse naasteliefde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.