Molefe hof toe gesleep oor pensioen

23-11-2017-Brian-Molefe-Tydlyn-featured

Só verloop sake rondom Brian Molefe se onregmatige pensioenuitbetaling. Grafika: Solidariteit.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, sê Brian Molefe, die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, het nooit gekwalifiseer vir ʼn pensioenvoordeel nie en die R30 miljoen-uitbetaling aan hom is gelykstaande aan ʼn kriminele oortreding.

Die vakbond het tydens ʼn mediakonferensie Donderdag in Centurion sy litigasieproses teen Molefe en die Eskom-raadslede bekendgemaak. Die vakbond het talle bewyse voorgelê wat toon Molefe se pensioenuitbetaling het heeltemal buite die reëls plaasgevind en is gelykstaande aan korrupsie en bedrog.

Solidariteit gaan volgende week die hooggeregshof in Pretoria nader om die besluit tersyde te stel om ʼn pensioen aan Molefe uit te betaal en hom te verplig om die reeds betaalde R10 miljoen in pensioen terug te betaal.

Volgens Hermann moes Molefe nooit in aanmerking gekom het vir pensioen nie omdat hy op ʼn vastetermynkontrak van vyf jaar aangestel is en nie ʼn permanente werker van Eskom was nie.

“Hy het ʼn hoër vergoeding gekry omdat hy nie pensioen ontvang nie. Hy kwalifiseer nie vir ʼn pensioenvoordeel nie, want hy was nie ʼn permanente werker nie. Hy het ook nie enige pensioenbydraes aan die fonds oorbetaal nie,” het Hermann bygevoeg.

Hermann het gesê hierdie uitbetaling was ook nie net ʼn foutjie soos wat Molefe vandeesweek in die parlement probeer voorgee het nie. “Dit was gewoon korrupsie en staatsplundering. Onregmatige optredes moet gevolge inhou. ʼn Verskoning en selfs terugbetaling is nie voldoende nie. Solidariteit is van mening dat daar ʼn prima facie-stafregtelike saak is teen diegene wat die twyfelagtige besluit geneem het om die pensioenuitbetaling aan Molefe toe te staan.

“Voorts is ons van mening dat daar verskeie onwettige wanvoorstelling was wat vervolging regverdig, wat ondermeer Molefe en die raad van Eskom se valse bewerings dat hy aan pensioenreëls voldoen en ʼn permanente werknemer was, insluit. Hulle het geweet dit is vals, maar die onregmatige handeling is bloot voorgesit.”

Volgens Hermann pak Solidariteit hierdie saak namens alle Eskom-werknemers aan, asook die belastingbetalende publiek. “Gewone belastingbetalers is moeg daarvoor dat staatbates met hulle geld geplunder word. Indien hierdie soort onregmatige plundering voortgaan, sonder vervolging, sal Suid-Afrikaners begin om vertroue te verloor in die regstelsel as kernpilaar van ons demokrasie.

Hy het ook gesê dit is skreiend dat Solidariteit in die eerste plek die hof moet nader sodat Molefe die onregmatige pensioengelde moet terugbetaal. “Die vakbond sal dus versoek dat Molefe en die Eskom-raadslede in hul persoonlike hoedanigheid vir die geding aanspreeklik gehou moet word sodat belastingbetalers nie verder vir korrupte amptenare hoef te boet nie.”

Die saak rakende die terugbetaling van die pensioengeld word van 29 November tot 1 Desember in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Dis soos musiek op my oë om die berig te lees.
Dankie Solidariteit dat jul die impak van die misdaad kan verdiskonteer met begrip en soos goeie rentmeesters optree.

Daan Erasmus ·

Ek het my lewe lank aan ‘n vakbond behoorlik. Eers MWU wat Solidariteit geword het. As jy nie aan ‘n vakbond behoort nie. Sluit aan. En sterkte. Roer die man.

Antionette Malan ·

Goed so! Hofkostes moet nie meer deur d belastingbetalers gedra word nie

John ·

Dis donker in Eskom se tonnel en hulle het nie geld vir kerse nie… maar bonusse is ‘n heel ander kwessie…

A Mac ·

As Molefe met sulke berekeninge sy pensioen kon kry dan kan duisende ander staatsamptenare mos dieselfde verskoning en argument gebruik om op vervroegde pensioen te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.