Moontlike belastingvoordeel op jou waghond 

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

TLU SA het vandag ʼn veldtog bekendgestel om die Belastingwet só te verander dat alle Suid-Afrikaners enige veiligheidsuitgawes teen belasting kan verhaal.

Afdeling 23(b) van die Belastingwet verhoed Suid-Afrikaners om veiligheidsuitgawes van inkomstebelasting af te trek. Hoewel sakeondernemings reeds sodanige uitgawes kan aftrek, wil TLU SA met hierdie veldtog spesifiek daarop fokus om verbruikers – as deel van die landbou waardeketting – ook hierdie noodsaaklike voordeel te bied.

TLU SA het ʼn lys saamgestel van noodsaaklike uitgawes wat elke huishouding in Suid-Afrika van belasting behoort te kan verhaal:

  • veiligheidsmure;
  • sekuriteitskameras;
  • alarms;
  • elektriese omheining;
  • lemmetjiesdraad;
  • waghonde;
  • 24-uur monitering en gewapende reaksie dienste;
  • huisversekering;
  • ander tuissekuriteitsmaatreëls en -toerusting; en
  • uitgawes verwant aan die onderhouding van bogenoemde items.

Die lys sal aangepas word soos wat TLU SA terugvoer ontvang oor bykomende veiligheidsuitgawes.

Vir boere raak die lys langer. Om na hul en hul gemeenskappe se veiligheid om te sien benodig boere baie duur items soos nagsigtoerusting, koeëlvaste baadjies, sterk flitse, patrollievoertuie, brandstof en vuurwapens. Goeie kommunikasiestelsels en toerusting soos tweerigtingradio’s en selfone is ook van kardinale belang.

“Talle Suid-Afrikaners se vryheid is al aangetas omdat hulle slagoffers van misdaad was,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA. “Die Grondwet vereis dat die staat ons beskerm teen sulke aanvalle. Dat die staat geheel en al hierin misluk het, is ooglopend deur net na die staat se eie statistieke te kyk.”

Volgens StatsSA (Statistieke Suid-Afrika) is huisbraak of diefstal die grootste misdaad in Suid-Afrika. ’n Beraamde 1,2 miljoen gevalle van huisbraak het in die 2019’-‘20 boekjaar plaasgevind, en 891 000 huishoudings in die land is geraak. Suid-Afrikaners wat in afgeleë gebiede bly, soos dié op plase, is besonder kwesbaar, aangesien hulle ver weg van enige vorm van bystand bly.

“In die lig van die uiterste gevaar waarin Suid-Afrikaners daagliks verkeer, is dit skandelik dat veiligheidsuitgawes wat deur die belastingbetaler aangegaan word om sy of haar woning te beveilig, nie van inkomstebelasting afgetrek kan word nie,” sê Geldenhuys.

Volgens adeling 77 van die Grondwet het slegs die minister van finansies, Tito Mboweni, egter die mag om die bogenoemde wysiging in werking te stel.

TLU SA het gesê dat hierdie veldtog die wegspringplek is en dat hulle ook burgerregte- en landboubedryfsorganisasies sal nader om meer druk op die staat uit te oefen.

“Ons doen ’n beroep op alle vredeliewende Suid-Afrikaners, ongeag ras, geslag of politieke oortuigings, om met een stem by ons aan te sluit en te eis dat die minister die wet wysig sodat ons onsself kan beskerm,” versoek Geldenhuys.

Enigiemand kan hierdie petisie op TLU SA se platform ondersteun deur ʼn e-pos direk aan Mboweni te stuur by hierdie skakel https://www.tlu.co.za/vryheid-teen-misdaad/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Genis ·

As jy vandag misdaat uit Suid-Afrika wegvat is die Staat bankrot…

SomeOne ·

ek hoop en vertrou dat die voordele ook van toepassing sal wees in stedelike omgewens

Alet ·

Kyk as ek vinnige sommetjies maak het ek al hele hoop geld betaal aan alarm, beams, trellideure voor vensters na ‘n inbraak, cctv, ligte op day night switches, 8vt mure, gewapende response en lisensie geld vir die radio van die alarm elke jaar sodat ek kan veilig wees in my huis wat ek betaal waarvoor ek werk en sorg. Dan ook nog die kort termyn versekering ook elke maand.

Alet ·

En dan moet mens nog die krag ding na die cctv gereeld vervang want dit pak op met Eskom se loadshedding se aan en af sit. Moes dit nou al twee keer vervang. Nou ‘n spesiale muurprop laat insit om te beskerm teen die surge. En alles kos rande en sente

Eiervrug ·

Nou gaan almal honde aanskaf. Meerderheid van hulle gaan vasgeketting word sonder aandag, liefde of kos. Sjoe, nie hierdie een mooi deurdink nie…

Pieter ·

As hulle geld het om name te verander, SAL etc, dan het hulle geld vir hierdie.

Al stel hulle 5miljoen poliesie en metro lede aan sal ons steeds nie veillig wees nie want 3 miljoen sal self die skelms wees. So eintlik is die probleem wereens cANCer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.