Mosie vir parlementêre ondersoek na Phala Phala misluk  

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Daar gaan nie ʼn parlementêre ad hoc-komitee op die been gebring word om pres. Cyril Rampahosa en die Phala Phala-sage te ondersoek nie.

Die DA het ʼn mosie gebring vir die totstandkoming van so ʼn komitee maar die ANC, Good, die NFP en Al Jama’ah het daarteen gestem. Die EFF, VF Plus en ACDP was ten gunste van die mosie.

“Vandag is die laaste kans vir die parlement om die regte ding te doen omtrent die Phala Phala-kwessie,” het DA-leier John Steenhuisen gesê voordat die stemmery afgeskop het.

“Die ANC het reeds die tirannie van meerderheid gebruik om die artikel 89-verslag dood te druk, en dit is gedoen vir geen ander rede nie behalwe die feit dat die verslag waarhede bevat wat vir die ANC en president Ramaphosa ongerieflik is.”

Steenhuisen het die skandaal rondom Ramaphosa vergelyk met die Nkandla-skandaal van oudpres. Jacob Zuma.

“Toe was dit brandpoele en beeskrale. Nou is dit banke propvol dollars. Toe was dit Zuma. Nou is dit Ramaphosa. Maar dit is presies dieselfde modus operandi: Solank jy die getalle in die parlement het, kan jy enige skandaal laat verdwyn.

“Maar aan die einde van die dag is die een ding wat elke Suid-Afrikaner moet onthou: ʼn Onskuldige man moet nooit bang wees vir die waarheid nie. En ʼn onskuldige president moet nooit bang wees vir die parlement nie.”

Wouter Wessels, VF Plus-LP, het gesê dit is vreemd dat die mosie om ʼn ad hoc-komitee op die been te bring nie deur die ANC self gebring is nie.

“Indien jy in die onskuld van jou party se president geglo het, sou jy ʼn ondersoek ondersteun het om sy naam in ere te herstel. Hoekom ontsê jy hom van die geleentheid om te antwoord in hierdie saak. Ons weet baie vreemde dinge het gebeur en daar is baie onbeantwoorde vrae.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.