Moti-broers se pa ontken interdik teen polisie

Die vier Moti-broers. (Foto: Verskaf)

Die pa van die vier Moti-broers van Limpopo, wat ontvoer en eers drie weke later vrygelaat is, ontken dat daar ʼn interdik teen die polisie is wat glo verhoed dat die seuns oor die saak ondervra word.

In ʼn verklaring wat deur die gesin uitgereik is, word Suid-Afrikaners vir hul gebede, liefde en ondersteuning rakende die broers se ontvoering bedank.

Die Moti-broers, Zia (15), Alaan (13), Zayyad (11) en Zian (6), was verlede jaar op pad na die Curro Heuwelkruin- private skool in Polokwane toe hul motor gekaap en hulle ontvoer is. Hulle is ná drie weke ongedeerd aan hul ouers terugbesorg toe hulle op ʼn pad in Vuwani, Limpopo, afgelaai is en by ʼn plaaslike inwoner se huis opgedaag het.

Daar is vroeër berig Naazim en Shakira Moti, gesiene sakelui in Polokwane, het sedertdien saam met hul vier seuns na Dubai verhuis.

“Ons skielike vertrek was buite ons beheer en ʼn teësinnige een daarby – soos enige ouer sal verstaan, kom die veiligheid van ons kinders eerste,” lui die verklaring. Naazim is die eienaar van Auto Moti, ʼn motorhandelaar.

“Vir eers het ons verhuis om ʼn veilige omgewing te skep vir ons seuns om te genees van die trauma weens hul skrikwekkende beproewing. Die erns hiervan kan baie mense nie begryp nie. Ons hoop steeds vir ʼn dag wat ons veilig kan terugkeer na ons geliefde Suid-Afrika.”

Daar is ook vroeër berig dat die gesin nie hul samewerking aan die polisie gee nie en dat daar aansoek om ʼn interdik gedoen is. Lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, het verlede naweek aan Maroela Media gesê daar was nog “geen samewerking van die familie en die polisie kon  nie onderhoude met die kinders voer nie”.

Volgens die gesin se verklaring steek daar egter nie waarheid daarin dat ʼn interdik teen die polisie bekom is nie. “Verstaan asseblief hoekom ons stil is. Sedert ons vier seuns aan ons terugbesorg is, het ons in vrees vir vergelding gelewe wat veroorsaak kan word deur uit te praat en enige verdere aandag op onsself te vestig.

“Ons seuns het teruggekeer huis toe, maar kon nog nie vry en sonder vrees leef nie. Ons is gedwing om ʼn paar moeilike besluite te neem om hul veiligheid en welstand te verseker, ten spyte van die onlangse en skielike teenreaksie.”

Die Moti-gesin het verder ook ʼn beroep op privaatheid gedoen. “Verstaan asseblief dat ons seuns tyd nodig het om te genees rakende dít wat een oggend op pad skool toe met hulle gebeur het. Ons doen ʼn beroep op almal vir privaatheid en jul volgehoue begrip sodat hierdie onskuldige jong seuns kan terugkeer na ʼn normale lewe. Suid-Afrika is en sal altyd ons tuiste wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Niklaas ·

Daar is steeds ‘n paar tergende vrae. Dit sal interessant wees om die volle waarheid aan te hoor.

Waarnemer ·

Hierdie is n klug!!!Die Moti pa het dan glo elke aand met die kinders gepraat.Die polisue behoort n klag vsn meineed teen hom te ondersoek.

Nie Verbaas ·

Hier is dieper dinge agter die ontvoering wat MOTi nie openbaar gemaak wil hê nie. Darem bitter vinnig uit die land uit.

Irene ·

Die feit dat hy elke aand met sy kinders gepraat het, wat heel moontlik hoorsê is, maak nie die seuns se trauma minder nie. Ek sou dalk ook landuit maar ek sou graag die ontvoerders agter tralies wou sien. Die situasie bly maar n traumatiese ondervinding.

Lindi ·

Was hulle REGTIG in gevaar? Somehow dink ek nie so nie. Hierdie was ‘n fyn beplande ding. Die kinders dan nogsteeds in skoon gestrykte skooluniforms ” gekry”

Barney ·

Ek verstaan die gesin se posisie ten volle. Ek sou presies dieselfde gedoen het.

Anel ·

Hier is ‘n groot slag in die gras. Ek glo hy was besig met onwettighede, en hy het nie sy kant gebring nie. En hoe het hy dit reggekry om so vinnig land uit te vlug. Privaat vliegtuig , dalk?

Annelize ·

Die bree publiek sal seker nooit die volle waarheid weet nie, want hier word so gelieg en toegesmeer, dat dit nie eers snaaks is nie.
Ek twyfel of hierdie kinders ooit werklik in gevaar was, hierdie was bloot ‘n skynontvoering. Die mense probeer met alle mag en krag kasdeure toe hou, want as daardie kasdeure moet oopvlieg, gaan daar nie genoeg plek wees vir al die geraamtes om te val nie.

Andries ·

Daar is ‘n luislang in die gras, en waar daar ‘n rokie trek is ‘n vuurtjie. Ek ruik ‘n rot in hierdie saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.