Muishonde ongedeerd ná saamrygeleentheid in enjin

Die gebande muishonde het Roux se voortuin verken (Foto: Owl Rescue Centre, Facebook)

ʼn Man van Pretoria kon sy oë nie glo nie toe hy ná ʼn besoek aan ʼn wildreservaat by sy huis stilhou en daar meer as 30 gebande muishonde uit die voertuig se onderstel gepeul het.

André Roux het Saterdag vroegoggend van die Mabula-wildreservaat naby Bela-Bela in Limpopo na sy huis in Silver Lakes in Pretoria teruggekeer. Die muishonde moes deur die nag in sy BMW X5 se onderstel geklim het en het al die pad saam stad toe gery.

Roux het die Owl Rescue Centre, ʼn bewaringsorganisasie in Hartbeespoort, genader om die muishonde te vang en op ʼn veilige plek weer vry te laat.

“Dit is ongelooflik om te dink dat die muishonde vir ongeveer 170 km saamgery het, sonder dat Roux dit agtergekom het,” sê Brendan Murray, verbonde aan die organisasie.

“Nie een van die diertjies het seergekry of selfs brandplekke opgedoen nie.”

Murray sê hulle het Saterdag 30 van die vermoedelik 31 muishonde gevang en na die wildreservaat teruggeneem.

30 van die 31 muishonde is reeds gevang (Foto: Owl Rescue Centre, Facebook)

Daar is minstens nog een wat hulle nie in die hande kon kry nie, maar daar is vanghokke in die woonbuurt neergesit om die dier te probeer vang.

“Een van die inwoners het gisteroggend die muishond in een van die huise se erwe gesien. So, ons hoop dat ons hom sommer gou sal vang sodat hy by sy maats kan aansluit.”

Volgens Murray gebeur dit gereeld by reservate dat gebande muishonde in voertuie se onderstelle klim om daar te slaap. By sommige reservate is daar selfs bewaarders wat moet help keer dat die muishonde teen sonsondergang naby voertuie kom.

“Muishonde slaap graag op verskillende plekke en is boonop nuuskierige diertjies. Hulle gaan slaap wanneer dit donker word en word weer wakker sodra die son opkom. Hulle moes Vrydagaand in Roux se voertuig se onderstel ingeklim en daar geslaap het.

“Omdat Roux voor sonsopkoms in die pad geval het, het die muishonde nog geslaap. Hulle enigste uitkomkans was toe Roux by die huis stilgehou het.”

One of our rescues from yesterday, in a residential estate, was a bit unusual. Think this one should make the Guinness World Records ! Andre Roux was staying over at Mabula Game Lodge and drove to his home in Pretoria. When he stopped 31 maybe 32 Banded Mongooses climbed out of his BMW X5's engine bay. They had hitched the 170km ride, with Andre totally unaware. We managed to catch almost all of them but there is at least one that is still on the run which we will hopefully catch today. The others we took back home to Mabula late yesterday afternoon????Thank you to all those who helped.Andre, Deon, Alida, Tian, Chris, Claire,Micky, Gemma, Lizelle, Daimon, Garth and Leanne.

Posted by Owl Rescue Centre on Sunday, April 4, 2021

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sylvia ·

Beteken gebande gestreepte?, moet erken die woord gebande is totaal en al onbekend aan my.
Baie bly die diertjies is ongedeerd

SomeOne ·

die “band” is strepe wat reg rondom die diertjie voorkom
“https://af.wikipedia.org/wiki/Gebande_muishond”

Pampoen ·

Goeie storie. Almal het die regte ding gedoen en die oulike diere terug besorg waar hulle hoort! Pluimpie vir ieder en elk.

SomeOne ·

my vermoede daar sou meer gewees het, wat is kanse dat van die ander dalk afgeval het in die ryery, niemand sal dit dalk weet nie

Sandra ·

Ag ek is Goddank bly dat hulle niks oorgekom het nie. ‘n Paar is een ding, maar 31 en nie een het seergekry nie. Dis ‘n wonderwerk.

Gert K ·

Dit is lekker om sulke nuus te lees ! Mens raak so moeg vir al die negatiewe dinge wat ons elke dag van hoor , sien en lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.