Myne bedreig aasvoëls, wildehonde in Waterberg

Kransaasvoël in vlug (Foto: Wikipedia)

ʼn Broeikolonie kransaasvoëls, ʼn bedreigde spesie, word tans in die Waterberg by die Marakele Nasionale Park deur beplande mynbedrywighede in gevaar gestel.

AfriForum meen indien dié beplande bedrywighede sou voortgaan, dit verwoestende gevolge vir die unieke karakter van die Waterberg en sy omgewing sal inhou.

“Die natuurlike habitat van die bedreigde kransaasvoëls, sowel as dié van wildehonde, word hierdeur bedreig,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake.

“Hierdie area is in 2019 tot ʼn kritieke biodiversiteitsgebied verklaar, en daarvolgens mag daar geen ontwikkeling en spesifiek mynbouaktiwiteite hier plaasvind nie.”

AfriForum het reeds stappe gedoen om as ʼn belanghebbende en geaffekteerde party in die saak te registreer.

“Hierdie beplande bedrywighede moet summier in die kiem gesmoor word. Ons wag nou vir die dokumente van die omgewingsimpakbepalingspraktisyn waarna AfriForum ʼn spesialis sal aanstel om kommentaar te lewer,” sê De Klerk.

Cee-J van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Soutpansberg-streek, sê AfriForum is nie gekant teen mynboubedrywighede nie, maar dit moet op ʼn etiese en wettige wyse geskied.

“Hierdie kritieke biodiversiteitsgebied moet beskerm word en ons mag nie toelaat dat dit ongeneesbaar verander word deur mynbedrywighede nie.

“Ons moedig alle mense aan – wat bekommerd is dat die natuurskoon van dié kritieke biodiversiteitsgebied vernietig sal word – om hulle steun agter ons te plaas en betrokke te raak,” sê De Klerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miskruier ·

Agv die stortingsterrein wat altyd brand en ons vergiftig, wonder ek of dit is waarom ek geen bye opmerk op die vrugteboom bloeisels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.