ʼn Veilige hawe vir renosterwesies

Yolande van der Merwe speel met renosterkalfies (Foto: Michele Spatari / AFP)

Die renosterkalfie Jessie was maar vier maande oud toe sy by ʼn skuiling in Suid-Afrika aangekom het. Sy het ʼn wond aan haar skouer opgedoen en was baie getraumatiseerd.

Reddingsbeamptes vermoed die dier is deur stropers beseer wat haar ma aangeval het en die kalf is waarskynlik met ʼn kapmes aangeval om haar weg te jaag.

Jessie het oorleef en in ʼn unieke sentrum beland wat homself toewy daaraan om renosterwesies te rehabiliteer.

“Ons moes haar twee dae lank Valium gee om haar te kalmeer,” sê versorger Zanre van Jaarsveld (26). “Sy was ook baie gedehidreer.”

Die Rhino Orphanage is naby Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo geleë, maar die presiese ligging word nie algemeen bekendgemaak nie. “As plaaswerkers die inligting aan stropers gee sal hulle meer geld maak as wat hulle in ʼn jaar verdien,” sê stigter Arrie van Deventer. Sekuriteit en bedagsaamheid is dus baie belangrik om die sentrum te beskerm. Hulle maak staat op privaat skenkings.

Van Deventer (67), ʼn voormalige geskiedenisonderwyser wat toe ʼn wildteler geword het, het met die projek begin ná hy in 2011 gevra is om te help met ʼn stroopvoorval.

Yolande van der Merwe by die renosterkalfies (Foto: Michele Spatari / AFP)

Twee witrenosterkoeie is dood aangetref in die gebied nadat hulle vermoedelik vir hul horings gestroop is. Een van hul twee kalfies het steeds geleef en het ʼn veilige tuiste benodig. Van Deventer het tevergeefs by verskeie plekke aangeklop. Die enigste opsie vir die getraumatiseerde kalf was toeristefasiliteite waar die kalf deur besoekers geteister sou word. “Ek het besef daar is niks nie, daar was nêrens eties waarheen die kalf kon gaan nie. En toe hoor ek myself oor die telefoon sê: ‘Ek sal een bou’.”

Die sentrum is vandag die tuiste van verskeie renosterkalfies. Meeste is witrenosters, maar daar is ook ʼn paar kritiek bedreigde swartrenosters.

Die missie is duidelik: red, rehabiliteer, laat vry. Geen toeriste word toegelaat nie. Daar is baie min besoekers en minimale kontak met mense. “As hulle te gewoond raak aan mense dan is dit moeiliker om hulle weer vry te laat,” verduidelik Van Deventer. Die perseel word vir die publiek gesluit vir sekuriteitsdoeleindes.

Vier personeellede en twee vrywilligers, almal vroue, werk dag en nag om na die renosters om te sien. Hulle slaap soms snags langs die jongste kalfies.

“Ons is hul ma’s,” sê bestuurder Yolande van der Merwe (38). “Hulle slaap knus vir warmte en vertroosting. Iemand bring gewoonlik vir ons kos, of as ons iets wil gaan eet of ʼn draai wil loop, dan kom iemand anders by hulle bly,” het sy aan AFP gesê. “Sodra hulle alleen gelaat word, dan begin hulle skree.” Volgens Van Deventer skree hulle op ʼn hoë toon, soortgelyk aan dolfyne.

Zanré van Jaarsveld voer renosterkalfies (Foto: Michele Spatari / AFP)

Renosters word vir hul horings gestroop wat in Asië vir tradisionele en medisinale doeleindes verkoop word. Een kilogram keratien verkoop vir tot meer as $110 000 (sowat R1,7 miljoen) op die swartmark. Duisende renosters is al die afgelope dekade in Suid-Afrika gestroop.

Renosters tel tot 350 kg op in hul eerste jaar en kalfies moet elke paar uur gevoed word. “Op vyf of sewe dae oud is hulle baie klein, so kniehoogte,” verduidelik Van der Merwe. “Hulle tel minstens een kilogram per dag op.” Teen hul eerste verjaarsdag weeg hulle gemiddeld byna ʼn halwe ton.

Jessie is nou ook een van dié kalfies, en sy is nog steeds, agt maande ná sy gered is, beangs en skrikkerig.

Kalfies bly tot vyfjarige ouderdom by die weeshuis en indien hulle sterk genoeg is om hulself teen roofdiere te beskerm, word hulle in ʼn nabygeleë wildreservaat vrygelaat. ʼn Bewaarder hou die sentrum op hoogte van hul vordering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tanniepetoors

Dankie vir die wonderlike werk wat julle doen. Ek, my kinders en kleinkinders is mense soos julle baie dank verskuldig.

Alexander

Hierdie mense doen reuse werk. Kom ons bid dat die stryd teen renosterstropery iewers ‘n positiewe wending sal neem.