ʼn Week later sukkel talle Sassa-begunstigdes steeds

(Argieffoto: ANA)

Deur Ella Morrison en Daniel Steyn, GroundUp

ʼn Week nadat met die uitbetaling van Sassa se pensioentoelae begin moes word, het duisende begunstigdes steeds nie ʼn sent ontvang nie.

ʼn Tegniese probleem het verlede week veroorsaak dat duisende ontvangers van maatskaplike toelae onverrigter sake moes omdraai omdat diegene wat hul toelae deur Sassa of met ʼn Posbank-kaart ontvang, nie gehelp kon word nie.

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, en haar eweknie by kommunikasie en digitale tegnologie, Mondli Gungubele, sal Donderdag terugvoer gee oor die stelsel-ineenstorting en maatreëls om ʼn herhaling van gebeure te verhoed.

Duisende is desperaat

Die organisasie Black Sash sê intussen baie begunstigdes het buite betaalsentrums geslaap omdat hulle eenvoudig nie geld gehad het vir die rit huis toe nie. Sommige pensioenarisse het van die een kitsbank na die ander gestap en Sassa-kantore of die poskantoor besoek in ʼn poging om die toelaag te ontvang.

“Ek stap sedert verlede Dinsdag,” het die 64-jarige Soraya Matthews van Bonteheuwel die afgelope week gesê. Sy was by minstens ses verskillende betaalpunte in Kaapstadse buurte in ʼn poging om haar toelaag te ontvang.

Benewens die R2 080 wat sy as pensioen ontvang, kon Matthews ook nie die kindertoelae ontvang wat sy kry om na haar twee kleinkinders om te sien nie. Die toelae is haar enigste bron van inkomste. Sy maak intussen staat op die welwillendheid van ander om kos op haar huishouding se tafel te probeer hou.

Sommige begunstigdes het wel hul toelae ontvang; sommige het ʼn gedeelte gekry en ander het weer nie ʼn enkele sent gekry nie.

Dit lyk of die probleem hoofsaaklik pensionarisse raak, hoewel Black Sash ook berigte ontvang het dat sommige kinder- en ongeskiktheidstoelae nie betaal kon word nie.

Evashnee Naidu, verbonde aan dié organisasie, sê hulle het klagtes van regoor die land ontvang.  “Ons is oorval met oproepe,” sê sy.

Verskeie van die pensioenarisse met wie GroundUp gesels het, het lenings aangegaan net om liggaam en siel aanmekaar te probeer hou.

(Foto: Barbara Maregele/GroundUp)

Die jongste gesukkel is minstens die vierde stelselmislukking sedert Sassa in Oktober verlede jaar die uitbetaling van die toelae by die Poskantoor oorgeneem het.

Dr. Bongani Diako, ʼn woordvoerder van Posbank, sê die instelling het verlede Dinsdag ʼn stelselprobleem ondervind wat Sassa- en Posbank-kaarthouers geraak het. Die stelsel is die volgende oggend weer aanlyn gebring.

Saterdag het Posbank in ʼn verklaring gesê alle toelae is nou na begunstigdes se rekeninge toegewys. Teen Maandag het Diako egter gesê uit die 180 000 geraakte transaksies is 150 000 opgelos en die res sou oor die volgende paar dae hanteer word. Diako het geen verdere vrae beantwoord of enige ander duidelikheid verskaf nie.

Sassa het ook nie op navrae gereageer nie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

Ergste is die afhanklikheid van die ANC stem koop is groter as die realiteit van disfunksionele onbevoegdheid. En lees ek reg? Afhanklik van meer as een grant? Hoekom sal hulle dan dink aan werk?

Diets ·

En hier sukkel ek my alie af vandat ek 20 is om my maandelikse pensioen polis premie, wat gekoppel is aan inflasie, te betaal…

Casper ·

Lindiwe Zulu is mos die enetjie wat apartheid die skuld gegee het vir die brand in Johannesburg,nou wonder ek maar net is hierdie onbevoegdheid ook apartheid se skuld.

Maria ·

Dit is n absolute skande! Tragies. My hart huil vir die arme mense. Sassa se amptenare slaap heerlik, hulle ontvang hulle salarisse betyds, glad nie n gesukkel soos die begunstigdes nie. Ons het n patetiese regering.

melaney ·

Gegewe die anc se erkenning dat hulle so te sê platsak is, wonder mens hoe lank gaan staatspensioene nog uitbetaal word.

Karoo ·

Ek is net baie dankbaar dat ek nie nodig het om in ‘n ry te gaan staan vir hulp nie. Die mense word omtrent rond gebogger by tye.

Amelia ·

vat hierdie geld weg van die wat nie ouderdoms en disable geld kry nie die kinder toelaag en covid geld
is nie nodig nie baie van die mense het net kinders vir sassa en die r350 hoeveel van die mense het HUL WERK VERLOOR min net aansoek gedoen en wala gekry tot skoolkinder kry dit mos ouer as 18 en wie moet bly tax vir dit betaal die bietjie mense wat werk moet vir als betaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.