N1 deels oop ná suurstorting

Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek (Foto: Verskaf)

ʼn Deel van die N1-snelweg in die Wes-Kaap is Vrydagmiddag oopgestel nadat salpetersuur die vorige aand op dié pad gestort is.

Jo-Anne Otto, woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, sê die N1 in die rigting van De Doorns tot Touwsrivier is teen 13:00 weer oopgestel.

“Die verkeer vloei dus weer vanaf Kaapstad in die rigting van Johannesburg,” sê sy.

Die Hexrivierpas vanaf Touwsrivier na De Doorns, oftewel vanaf Johannesburg na Kaapstad, is egter steeds vir verkeer gesluit.

ʼn Vragmotor wat salpetersuur vervoer, het Donderdag omstreeks 19:10 op die betrokke snelweg omgeslaan wat daartoe gelei het dat die suur oor die pad stort. Salpetersuur is ʼn nievlambare maar hoogs wegvretende suur.

Sedertdien werk nooddienste onverpoos om die suur te verwyder.

“Insleepvragmotors is tans op die toneel om die omgeslaande tenkwa te verwyder, maar dit sal nog ʼn hele ruk wees voordat hierdie roete heeltemal weer oopgestel word,” sê Otto.

Motoriste is aangeraai om die roete via Ceres te gebruik om eindelik weer op die N1-snelweg te kom. Hierdie roete is Vrydag weer oopgestel nadat daar ʼn ongeluk op die pad was.

“Ons doen ʼn beroep op motoriste om versigtig en geduldig te bestuur. Die betrokke owerhede werk hard om die situasie so gou moontlik reg te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.