N12-jaagtog eis lewe van twee kapers, fietsryer

Die jaagtog het Maandagoggend op die N12 naby Benoni afgespeel (Foto:
Yusuf Abramjee, Twitter)

Twee vermeende kapers en ʼn fietsryer is Maandagoggend dood tydens ʼn jaagtog op die N12 naby Benoni in Gauteng.

Die fietsryer is na bewering deur die verdagtes omgery toe hulle in hul wegkommotor – wat glo ook ʼn gekaapte voertuig is – van ʼn voertuigopsporingsmaatskappy probeer vlug het.

Volgens ao. Grant Giblin, woordvoerder van die Benoni-blitspatrollie, was lede van ʼn voertuigopsporingsmaatskappy op pad om ʼn vragmotor op te spoor toe hulle gesien het hoe ʼn silwer Toyota Corolla met vyf insittendes besig is om ʼn vragmotor te kaap.

“Die verdagtes het die bestuurder van die vragmotor in die Corolla gedwing. Drie van die verdagtes het in die Corolla gevlug terwyl die oorblywende twee in die vragmotor weggery het,” sê Giblin.

Die opsporingsmaatskappy het hulp ingeroep om albei voertuie agterna te sit, wat ʼn jaagtog tot gevolg gehad het.

“Die vragmotor het ʼn ent verder tot stilstand gekom. Veiligheidsbeamptes van die opsporingsmaatskappy het hulle ingehaal en ʼn skietgeveg het tussen die beamptes en die twee verdagtes uitgebreek.”

Albei verdagtes is in die skietgeveg doodgeskiet.

“Die Corolla – met die ander drie verdagtes en vragmotorbestuurder daarin – het steeds probeer om die opsporingsmaatskappy te ontwyk. Dit is toe dat hulle ʼn fietsryer langs die pad raakgery het. Die verdagtes het sowat 200 meter verder beheer oor die motor verloor en is in die bosse in. Die verdagtes het te voet gevlug,” het Giblin gesê.

“Die vragmotorbestuurder is later in die verdagtes se motor – wat hulle in die bosse gelaat het – ongedeerd gevind.”

Die fietsryer is egter deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Daar word beweer dat ʼn onbekende bedrag geld tydens die voorval gesteel is en twee pistole, wat aan die verdagtes behoort het, is teruggevind.

Die Corolla wat tydens die kaping gebruik is, is intussen in Kempton Park as gekaap aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Duck ·

Dit is nou ‘n saak van “in the wrong place at the wrong time”

Mariana ·

Jammerte oor fietsryer. Kapers egter geen verlies vir samelewing. Geen simpatie, net jammer dit is altyd onskuldiges wat ook seerkry.

Harley Davidson ·

Met die moeilike tye wat voorlê gaan misdaad vererger en Suid Afrika sit juis met ‘n afwesigheid van regte polisie en die wil om proaktief op te tree.

Jack ·

Vinnige hofsaak en vonnis vir die twee rowers. Koste effektief.

JohnnyS ·

Wat soek ‘n fietsryer op die N12 ? Dit is ‘n deurpad en fietsryers mag nie daar wees.

Piet ·

Beeste, bokke, skape, hoenders en voetgangers hoort ook nie daar nie…..

Swerwer ·

Hallo Wilde Weste op sy beste! Nêrens kan jy meer gaan want jou lewe is beslis nie veilig nie. VIVA DIE ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.