Nasionale syfers vir matriekeksamen bekendgemaak

(Argieffoto: pixabay)

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het Maandag amptelik die uitslae van die 2020-matrieks aangekondig.

Sy het gesê die jaar 2020 sal onthou word vir groot gesondheidsuitdagings – waar die hele wêreld beheer is deur die Covid-19-pandemie. “Ons moes hard werk om ʼn balans te kry tussen om lewens te red en die jaar te red.” Volgens haar het deelname aan internasionale toetse bewys dat onderrig in Suid-Afrika besig is om te verbeter.

Sy het gesê byna ʼn kwartaal van die akademiese jaar het verlore gegaan weens die afsonderingsperiode en die stelselmatige opening van skole in Junie. Jonger leerders is erger deur die lang sluiting van skole geraak.

Motshekga het gesê sy is dankbaar oor die 76,2% van leerders wat die eksamen geslaag het, alhoewel dit ʼn daling van 5,1% is teenoor 2019. “Ek het ʼn bloedbad verwag,” het sy gesê.

Motshekga het benadruk dat Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, die uitslae goedgekeur het. Umalusi het vroeër gesê ten spyte van die talle ongerymdhede wat in die afgelope matriekeksamen aangemeld is, is hy tevrede dat geen sistemiese ongerymdhede plaasgevind het wat die geloofwaardigheid of integriteit van die eksamen in die gedrang kon bring nie.

Sowat 1 miljoen skryf matriekeksamen

Altesaam 725 034 leerders het vir die matriekeksamen geregistreer, waarvan 607 226 voltydse leerders en 117 808 deeltydse leerders. Omdat die Junie-eksamen met die Desember-eksamen gekombineer is, het byna 1 miljoen mense dus die eksamen afgelê.

  • Daar was landswyd 179 nasiensentrums en 45 272 persone wat die vraestelle gemerk het.
  • Sowat 72 000 meer meisies as seuns het vir die matriekeksamen ingeskryf. Altesaam 76,7% van die seuns wat ingeskryf het, het geslaag en 75,8% van die meisies het geslaag. Meer meisies het egter universiteitsvrystelling gekry.
  • Die slaagsyfer is 76,2%, ʼn daling van 5,1% in vergelyking met 2019.
  • Meer onderskeidings is egter in 2020 behaal as in 2019.

Provinsiale statistiek

  • Vrystaat – 85,1%
  • Gauteng – 83,3%
  • Wes-Kaap – 79,9%
  • KwaZulu-Natal – 77,6%
  • Noordwes – 76,2%
  • Mpumalanga – 73,3%
  • Limpopo – 68,2%
  • Oos-Kaap – 68,1%
  • Noord-Kaap – 66%

Tshwane-Suid is die distrik wat die beste gevaar het. Ses uit tien van die topdistrikte is in Gauteng (Tshwane-Suid, Gauteng-Wes, Gauteng-Noord, Johannesburg-Noord, Sedibeng).

*Die individuele uitslae vir al die provinsies (buiten die Wes-Kaap) sal môreoggend omstreeks 06:00 op Maroela Media by matriekuitslae.co.za beskikbaar wees. Die Wes-Kaap se uitslae sal na verwagting Woensdagoggend om 06:00 beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Askuus? Watter internasionale toetse bewys onderrig in RSA verbeter? Juis die teendeel anti Angi! Maar so lieg ons onsself tot geloof en die arme peiole wat slaafs agterna hardloop met n SUB standaard “motrick”!

Francois Le Cochon ·

Het seker verbeter vanaf uiters swak, na baie swak. Dit sluit natuurlik nie sogenaamde model C skole in nie, want daardie onderwysers doen meer as wat CAPS voorskryf.

Frank ·

Mense, op die oog af klink iets mos nou alweer nie reg nie!!! Hoe kan die Vrystaat eerste wees en Wes-Kaap derde. Met al hulle goeie skole??? En ses uit die top tien distrikte is in Gauteng????? Hiers ALWEER ‘n slang in die gras.
Beteken dit nou weer dat syfers gemanipuleer word?

Alet ·

Wonder hoeveel van die wat geslaag het het met net 30% geslaag?

Nie Verbaas ·

Ek wonder of sy dink ons is totale idiote? Waar het onderrig verbeter as die standard nog steeds 30% is en selfs verder aangepas is? Publiseer statistiek wat wys hoeveel leerlinge meer as 50% behaal het. Weet die ANC watse vlak van bevoegdheid hulle eventueel in die ekonomie gaan loslaat? Dit is deel van ons ekonomie se probleem dat werkers in n posisie geplaas word waar hy/sy geen idee het hoe om konstruktief by te dra tot die sukses van n maatskappy nie.

Ossewa ·

Is dankbaar die episode is agter ons en almal hoef nie die jaar oor te doen nie!! Kom ons beweeg aan…

Dirk Mostert ·

Nominasies vir die EMMER-toekenning, kategorie statistiese kreatiwiteit: Dept. Onderwys vir nuutste matriek-resultate; Dept. Gesondheid vir Covid-statistiek; Statistiek S.A. vir die inflasie-koers; Dept. Polisie vir jaarlikse misdaadsyfers;

Danie ·

Ek sou graag wil lees van die top leerders se prestasies asb.
Wie, watter skool ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.